Foto: Philip de Vos
Die eiesoortige
aard van die reisgedig, te wete die vers wat ‘n vreemde landskap voorstel, is
waarskynlik deur Uys Krige in “Tram-ode” verikoniseer:
Daar is ’n
haltjie, Dwaal,
te midde van die
vaal
godverlore dor
Karoo.
En Arequipa in
Peru.
Granada is ’n
sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl
heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste
stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Tierra del
Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en
Ruitersbospas;
en die
Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …
O Aldarín! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
...
skoner,
welluidender as Provencal.
Hierdie gedig
open ‘n teoretiese gesprek rondom die reisgedig se aard. Dit is ‘n gedig wat
funksioneer rondom twee asse, te wete, nostalgie en vervreemding; bekend en
onbekend; hier en daar; aankoms en vertrek.
‘n Reis
impliseer beplanning en die lees van gidse soos Fodor’s, Eyewitness travel of The Lonely planet. Verder is die beplanning ook gekoppel aan ‘n reisagent wat
die reisiger se paspoort, visum, reiskaart, inentings, geldverwisseling, en
dies meer help reël. Die reisiger self moet ‘n tas pak met al die relevante
dokumente en klere vir hierdie reis. Vir ongeveer vier jaar het ek ‘n
reisrubriek in Die Burger (BY) geskryf en op al die fasette van reis gewys: onder andere
ook op taal en kulturele misverstande; soewel georganiseerde as solo-reise is
beskryf.
Die digter
gebruik die onbekende ruimte of landskap as die agtergrond om al die
verskillende opposisies uit te speel of te ondersoek. In die vreemde ruimte
ontdek die reisiger dikwels vergete aspekte van die self, ‘n tema wat ondersoek
word in Visums by
verstek.
Die eksotiese
teenoor die gewoon vervelige en uitputtende is eweneens ‘n belangrike aspek van
reis. Dit is eweneens opvallend hoeveel reisverslae en –verhale tans in
dagblaaie verskyn en vele reisboeke, soos dié van Marié Heese en André
Pretorius het verskyn. Danie Marais se As almal ver is karteer ook die verskillende aspekte van migrasie en
transnasionalismes. My besinning is egter oor die reisgedig en die prosesse wat
in die digter se gemoed afspeel, letterlik en figuurlik:
My reistasse
My eerste
reistassie
toe ek vyf was,
het ek elke dag
saamgedra.
Vreemd genoeg,
nooit weggeloop
met hierdie
boksbruin tassie nie.
Daarin was
toebroodjies, ‘n pen
en een van my pa
se boeke,
nogal ‘n roman
van Graham Greene.
Later sou ek
lees hoe hy vertel
dat die jong
kind alreeds sy lot kan aanvoel
en op die banke
van die Oranje-rivier
– kwalik ses –
wou ek my
susters op ‘n wintersdag
teen die
verbeelde vloed beskerm.
Later sou ek ver
reis.
Van my ouerhuis
met ‘n bloedrooi stel vinieltasse
op die
TransKaroo. Die vanity case, ‘n
eerste oorbodigheid
soos ‘n hoededoos.
My klere gemakliker en losser.
En die reistasse
sou vir ‘n universiteitsvakansie vele boeke
vir ‘n somer op
die Hoëveld borg.
‘n Leertas in
Griekeland,
‘n ekstra sak
met Amsterdam se jenewer ruik,
‘n gekleurde Benetton (geskenk van ‘n minnares),
‘n duur state of the art-tas wat ‘n ander een
abba
sou oor verre
oseane, gebergtes met my reis.
In Egipte sou ek
woedend aanskou
hoe ‘n werker my
leertas in rooisand neersmyt;
of onthuts besef
iemand het ‘n kamera uit my sak geskaai.
Nooit ‘n tas
verloor
of toegelaat dat
iemand my
tas dra nie.
Dikwels weggereis
om iemand uit my
tas te weer.
Op die
shinkansen met die abba-tas
op my rug, spoed
ek van Tokio na Kyoto na Osaka.
Deur Suid-Amerika
met ‘n
nylonsak. Koop na vyf weke
splinternuwe
klere in Rio de Janeiro
om by my tas te
pas.
In elke tas of
sak
‘n potlood en
notaboek
vir die neerpen
van ‘n verdraaide raaisel.
Oor hierdie
geslote baan
veelvuldig
gedig.
Travelling light my motto
al was die hart
hoe swaar. Soveel hemde,
broeke pas
netjies presies in die tas se lyf:
amper nes ‘n
mens se bont binnegoed.
Vreemd, geen tas
ooit weggegooi nie
al is dit hoe
verslete
want daardie tas
is soos ‘n dagboek,
‘n memento,
‘n opgaarder van
al my drome,
‘n argief van
helder herinneringe:
die
geheimsinnige onbewuste.
(Uit: En skielik is dit aand)
Die reisgedig
kan egter ook oor ‘n verbeelde reis handel, naamlik ‘n besoek wat die digter
net in die verbeelding aflê, soos Johann de Lange se gedig “Japannese lente”
(uit Wat sag is vergaan) illustreer:
Japannese lente
Lente in Tokio is vlietend
soos ‘n romanse. Milder lug
en sonsigbare parke
in voorstede
waaier meteens oop;
die dae rek somer
tegemoet.
Kuslangs
meer brutaal: die ingeburgerde ys
kraak en bars, riviere sidder nat-
neus en die vogtige aarde
gaap stomend oop.
Die wit peerboombloeisels
op die heuwels van Kanazawa
het reeds oopgegaan
twee weke gelede in Tokio.
Toeriste leef soos ekspatriate.
Drink saam, speel mahjong
of voetbal. Verlange
na ‘n vaderland
of moederstad maak plek
vir verwondering.
Ou lojaliteite raak oorgroei
deur nuwes. Skiet wortel.
Raak ingegrawe.
Vervolgens kyk
ons na hierdie vers, eers as ‘n gedig oor nostalgie en vervreemding.
I. Nostalgie
en vervreemding
In die gedig “Japannese lente”
gebruik die digter Johann de Lange die vreemde ruimte van Tokio, en meer
spesifiek ‘n Japannese lente, om die skryfproses weer te gee as ‘n daad van vervreemding (ostranenie). Hierdie gedig
is ‘n ars poetica.
Japannese lente
1. Lente in Tokio is vlietend
soos ‘n romanse.
Die lente is kortstondig soos ‘n
romanse; immers alles wat sag is vergaan en die gevoel dat die liefde momenteel
is, kan as ‘n bekende tema gesien word.
2. Milder lug
en sonsigbare parke
in voorstede
waaier meteens oop;
die dae rek somer
tegemoet.
“sonsigbare” aktiveer onsigbaar, dit
wat nie gesien kan word nie. So beskou, is hierdie gedig ‘n representasie van
die onsigbare of onbekende domeine van die psige.
Daar is ‘n verwysing na voorstede, ‘n
ruimte van geborgenheid en veiligheid; iets wat by hierdie digter afwesig is en
waarna verlang word.
Somer word eweneens in die oeuvre
gekoppel aan geluk en vervulling.
3. Kuslangs
meer brutaal: die ingeburgerde ys
kraak en bars, riviere sidder nat-
neus en die vogtige aarde
gaap stomend oop.
Die aspek van koudheid / winter word
gekoppel aan onvervulling en pyn. In Wordende naak veral word hierdie opposisie tussen somer en koue ‘n
spanning wat in die psige van die digter afspeel.
4. Die wit peerboombloeisels
op die heuwels van Kanazawa
het reeds oopgegaan
twee weke gelede in Tokio.
Die vervulling vind egter elders
plaas, in ‘n vreemde ruimte, te wete Kanazawa. Die suggestie is hier dat dit
sonder die digter se medewete plaasgevind het. As ons dit egter verplaas na die
digproses, kan dit gelees word dat kreatiwiteit plaasgevind het op ‘n
ónbewustelike vlak.
5. Toeriste leef soos ekspatriate.
Drink saam, speel mahjong
of voetbal. Verlange
na ‘n vaderland
of moederstad maak plek
vir verwondering.
Toeriste is egter tuis soos
ekspatriate. Hulle word deel van die omgewing en doen mee aan die speletjies en
drink selfs saam, ‘n suggestie van intimiteit.
Verlange word verdring deur
verwondering.
6. Ou lojaliteite raak oorgroei
deur nuwes. Skiet wortel.
Raak ingegrawe.
Die vreemdelinge raak deel van die
omgewing en word lojaal aan die nuwe land. Hulle raak ingegrawe nes die digter
betrokke raak by die tema waarvan hy afhanklik gedistansieerd en onbetrokke
was.
Die gedig aktiveer ook ‘n verdere
lesing rondom die beeld van die mahjong-spel, te wete ‘n afbraakproses of ‘n
terugbeweeg in die essensie.
Dalk is dit ‘n nuwe self, ‘n nuwe
identiteit wat ontwikkel na die opbreek van ‘n verhouding? Die ‘ek’ verbeeld
homself dan as ‘n stad wat ontwaak na die koue winter.
II. Bekend en
onbekend
“Japannese lente” tree ook in gesprek met
“Vakansiebrief” in Wordende naak waarin die spanning tussen die bekende (hier) en onbekende
(daar) uitgewerk word. Om te reis na ‘n vreemde landskap beteken dat die
reisiger beweeg van die bekende landskap na ‘n landskap waarin daar ‘n
voorstelling is van hoe die ander landskap daar sal uitsien.
Die digkuns van De Lange werk
voortdurend met hierdie spanning wat volgens Lacan gesien kan word as die
onmoontlike om die reële te bereik. Alles word dus gereguleer in terme van die manqué à être, of te wel, dit wat
ónbereikbaar is. Onderliggend hieraan is die begeerte wat alles voortstu.
Enersyds seksuele of libidinale begeerte en andersyds ‘n sterk doodsdrif. Die
Amerikaanse teoretikus Jerry Aline Flieger skryf in “The Purloined Punchline:
Joke as Textual Paradigm" van 1986 oor die verskillende asse van taal. Sy
wys in navolging van Lacan op die metaforiese en metonimiese strukture:
metafoor word geassosieer met die proses van repressie, terwyl metonimia
geassosieer word met die ketting van begeerte. Die digter sélf bly onbewus van
hierdie prosesse. Flieger skryf: "Freud effects a weaving of motive and
action in which the fundamental impulse (towards the short-circuit of incest, a
death-like quiescence of desire) always remains disguised, perhaps even to the
master story-teller himself" (Con Davis, 1986: 281).
III.
Hier en daar
Vakansiebrief
Van seekant af
kom 'n koerant
ysig aangewaai:
berigte te velde.
Maar ek bewoon
'n houthuis
by die see.
'n Brief
van my vriendin
uit 'St. Petersburg-sonder-sneeu'
– van die hen-met-spore –
laat my voel
hoe ver ek is.
Sy vertel
van polemieke,
van 'n gemeenskaplike vriendin,
die "vrou-met-bols",
se nuwe boek.
Glo geskiedenis
en politiek.
(U ken haar: sy's skerp,
sy't beslis oornag
in die messelaai gelê.)
Sy's 'n steurvis:
bundels en verse
puil uit haar buik,
die geilste kaviaar.
Ek steek die koerant
in die vuur.
My pen oorgehaal
bo die skryfblok.
Daar klim nou
sekerlik
'n geel son
bo Wladiwostok
en in die oggendstilte
luister 'n kind
hoe sy asem
rinkelend verys.
Vakansiebrief
1. Van seekant af
kom 'n koerant
ysig aangewaai:
berigte te velde.
In die onbewuste (waarvoor die see
metafories staan) kom ‘n koerant na die spreker. Die spanning tussen die
onbewuste en die simboliese word metafories ‘n berigte te velde. Van Wyk Louw
verplaas hier die werklike vader.
2. Maar ek bewoon
'n houthuis
by die see.
Die spreker is wel verskans teen die
nuus – waarskynlik hier die ondraaglike kennis wat in die onbewuste skuilhou,
te wete die bloedskendige verlange na die vader en die dood. Die houthuis
verwys hier na gedig nommer X in Tristia. Die silwer herberg in die sneeu word ‘n houthuis by die
see.
3. 'n Brief
van my vriendin
uit 'St. Petersburg-sonder-sneeu'
– van die hen-met-spore –
laat my voel
hoe ver ek is.
Die brief van die digtervriendin,
hier die digter Joan Hambidge, toe woonagtig in Pietersburg en ten tyde van die
skryf van hierdie bundel op reis deur Rusland, wys hoe hy afgesluit is van die
letterkundige bedryf en polemieke. Dit is bedreigend vir die skryfproses.
4. Sy vertel
van polemieke,
van 'n gemeenskaplike vriendin,
die "vrou-met-bols",
se nuwe boek.
Glo geskiedenis
en politiek.
(U ken haar: sy's skerp,
sy't beslis oornag
in die messelaai gelê.)
Hier is die verwysing na Wilma
Stockenström en die teks duidelik ‘n toespeling op Die
heengaanrefrein (1988) haar teks oor die
Hugenote. De Lange se besondere verhouding met die digter word eweneens
bevestig deur verse wat hy tekemale aan haar opdra en die vertalings van haar
verse.
5. Sy's 'n steurvis:
bundels en verse
puil uit haar buik,
die geilste kaviaar.
Hier keer die vers weer terug na
Hambidge en haar kreatiwiteit. De Lange sien dit as “geilste kaviaar”, terwyl
die kritiek in daardie tyd uiters afwysend was oor die produktiwiteit.
6. Ek steek die koerant
in die vuur.
Die digter steek die koerant aan die
brand, met ander woorde, die nuus uit die onbewuste word vernietig. Dit is die
bewuswording van invloede en wedywering, die anxiety of influence waarna Bloom verwys: digters is in ‘n oedipale
konflik gewikkel met mekaar en moet mekaar as’t ware oorwin of verslaan.
7. My pen oorgehaal
bo die skryfblok.
Die pen (ook fallus) is dus
oorgehaal. Die digter (h)erken sy skatpligtigheid en sy ingewikkelde verhouding
met ander digters, al is hulle vriende of geliefdes.
8. Daar klim nou
sekerlik
'n geel son
bo Wladiwostok
en in die oggendstilte
luister 'n kind
hoe sy asem
rinkelend verys.
Sy gedig word soos ‘n geel son bo
Wladiwostok – die oorwinning is egter kortstondig, want die digter ervaar
homself as kind. Hy is dus oedipaal verstrengel in die oorrompelende verhouding
met ander digters. Die gedig is soos ‘n son (hitte), maar die onbewuste bly
verys, vasgevang in hierdie konflik. Die Russiese verwysings aktiveer eweneens
die konsep ostranenie van die Russiese Formaliste wat beklemtoon dat digterlike
taal werk met vervreemding.
IV. Aankoms en
vertrek
‘n Gedig wat eweneens die spanning tussen die bewuste en onbewuste
uitspeel, is die gedig “Kriptomnesie” ook uit Wordende naak. Die begrip verwys na kennis waaroor ‘n
mens onbewustelik beskik en wat op ‘n bewustelike vlak manifesteer. Die gedig
val in twee dele uiteen. Die gedig stel ‘n vraag wat in die tweede gedeelte
beantwoord word. Die skyngeveg met die muse, skikgodin of ‘n Medusa-figuur, word ook geplaas teenoor
iets wat uitgedink is. Tog kan die gevoel nie onder woorde gebring word nie –
dit polter blitssnel weg. In die tweede gedeelte word die gedig geskep. Ons
sien dus eers die nadink of gewroeg oor die digkuns. Dit word ‘n wit boom (dalk
die dendriete van die brein?); die boom se skadu, met ander woorde nie die boom
self nie, ets of word soos die nagvlug van ‘n uil. Die spreker sien patrone in
die skadu; trouens dit vergestalt die helder geel van ‘n bokoog.
© 2012 Heroik Media
Kriptomnesie [1]
I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.
II
: en dan blitssnel
die wit boom
teen die swart lug.
Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,
laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.
Die dubbelpunt aan die begin van die
versreël wil die toepassing op die eerste strofe beklemtoon. Nostalgie beteken
immers ‘n terugkeer na die plek van geboorte, letterlik of in herinnering; net
soos die proses van kriptomnesia ‘n terugskryf in en téén bekende inligting
behels.
IV.
Waarskynlik spruit nostalgie uit ‘n
intense gevoel van vervreemding of die
“unheimliche” soos Freud dit tipeer het. En kriptomnesia
is dan waarskynlik die proses waardeur die digterlike geheue werk of
funksioneer om hierdie verbintenis tussen toe en nou draaglik(er) te maak vir
die digter.
Nostalgie en kriptomnesia word hier
saamgesnoer. Die digter was nooit in Japan nie; het dus nog nooit ‘n Japannese
lente ervaar of na Rusland gereis nie. Dit gebeur alles in die domein van die
verbeelde. Alles is uitgedink, uitgekrink in die ewige spel tussen die
Lacaniaanse verbeelde (“imaginaire”) en simboliese (“symbolique”) ordes.
Niks bestaan buite taal nie. Alles is
– volgens hierdie gedigte – herskrywings, inskrywings. Die teken in die
onbewuste (om Lacan se term te gebruik) is hier die dubbelpunt.
Voor en na.
Toe en nou.
Ewige ambivalensie.
Bibliografie:
Brink, A.P. (red.) 2000. Groot
verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
De Lange,
Johann. 1995. Wat sag is
vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange,
Johann. 1990. Wordende
naak. Pretoria: Haum-Literêr.
Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. Oxford:
Oxford University Press.
Flieger, Jerry
Aline. 1986. "The Purloined Punchline: Joke as textual paradigm" in
Robert Con Davis se Contemporary
literary criticism. New York: Longman.
Hambidge, Joan.
2004. En skielik is dit aand. Pretoria:
Protea.
Hambidge, Joan.
2011. Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.
Heese, Marié.
2010. Die honger reisiger. Kaapstad: Tafelberg.
Lacan, Jacques.
1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen:
Tavistock.
Lacan, Jacques.
1932.Paranoid psychosis and its relations to the
personality.(De la psychose paranoïaque dans ses rapports avec la personalité). Doktorale
proefskrif, Sorbonne. Parys: Le Francois.
Lacan, Jacques.
1988."The insistence of the letter in the unconscious" in David
Lodge(red.): Modern
criticism and theory - a reader. Londen: Longman.
Lacan, Jacques.
1973/1977. The four fundamental concepts of
psycho-analysis. Vertaal deur
Alan Sheridan. Londen: Penguin.
Louw, N.P. van Wyk. 1962/1975. Tristia. Kaapstad:
Human & Rousseau.
Marais, Danie (red.). 2009. As almal ver is.
Kaapstad: Tafelberg.
Pretorius, André. 2010. Iets ver en
nuut. Pretoria: Protea.
Stockenström, Wilma. 1988. Die heengaanrefrein.
Kaapstad: Human & Rousseau.
Endnota:
1. Kriptomnesie: dit word deur verskillende
dissiplines telkens effens anders gedefinieer. Ek dink dis belangrik dat ek jou
die betekenis gee waarmee ek dit gebruik het: die definisie wat ek destyds
raakgeloop het, is die volgende: kriptomnesie is die verskynsel binne 'n
kreatiewe konteks dat jy nie kan onderskei tussen wat (lyk na) 'n nuwe, éie
kreatiewe inval, & iets wat jy onthou, wat jy vantevore gelees het nie.
Daardie vers werk dan baie met Cussons se "Die etser" in haar
debuutbundel Plektrum. Die "wit
boom" kan verwys na die “swart lig en helwit skaduwee”, na die idee van die “negatief” wat so belangrik is in “Die etser”.
Andersins kan die "wit boom" gewoon verwys na weerlig teen die naglug , wat
ook die weerlig van die inspirasie is, in ingewing, die kreatiewe oomblik, die
epifanie (wat veel later as die weerlig van die ongeloof sou manifesteer).
Dan is daar die
"skielike… bokoog" – wat my aanvanklik gepla het. Dit het by my
opgekom terwyl ek die vers geskryf het & soos enigiets wat te mooi & te maklik by my opkom, het ek dit wantrou & begin
soek na waar ek dit moontlik kon gelees het. Uiteindelik het ek in dit Die swart kombuis teruggevind, in
die vers “Antieke wandeling”, waar sy in die slotreël skryf: “die
geel oog van 'n skielike bok”.
Ek het besluit om dit behou omdat dit die teorie van kriptomnesie illustreer het, & boonop effens verskil het van Cussons: by haar was dit “die geel oog van 'n skielike bok”, & by my “die skielike swael / van 'n geel bokoog”. Die kwaliteit van “skielik” het verskuif van die bok na die bokoog.
Ek het besluit om dit behou omdat dit die teorie van kriptomnesie illustreer het, & boonop effens verskil het van Cussons: by haar was dit “die geel oog van 'n skielike bok”, & by my “die skielike swael / van 'n geel bokoog”. Die kwaliteit van “skielik” het verskuif van die bok na die bokoog.