Philip Roth. The
plot against America. Random House, 2004. ISBN 0-224-07453-9.
Resensent: Joan Hambidge
Een van my grootste leeservarings was Philip Roth se The human stain. Daar is min skrywers
wat die groot teenstrydighede van die Amerikaanse landskap in sy sosiale en
politieke stryd so skerp kan verwoord as hierdie Joodse outeur. Saam met die
Nobelpryswenner Saul Bellow kan Roth se American
pastoral en I married a Communist
as grondverskuiwende romans gesien word.
Roth se romans is altyd historiografies in aanbod. ‘n
Belangrike geskiedkundige, half-fiktief, half-werklik, word onder die loep
geneem en hy plaas ‘n mens, altyd Joods, binne hierdie raamwerk. Hy skryf dus
van binne-af oor die effek wat die buite-werklikheid op die mens se lewe het. Sonder
om te preek, word die sosiale ongeregtighede aan die kaak gestel en die
uitwerking van ‘n oorlog of ideologie helder en dikwels ironies belig. Tereg is
hy bekroon met gesogte pryse soos die Pulitzer en die Amerikaanse Akademie het
hom al met ‘n goue medalje vereer en hiermee word hy dus saam met John Dos
Passos, William Faulkner en Saul Bellow gereken. Ook die Library of America het
spesiale edisies van sy laaste boeke saamgestel.
The plot against America (hoor ons sy ironiese toespeling op die huidige
situasie?) handel oor Charles A. Lindbergh, die aviasie-held, se “oorwinning”
op Franklik D. Roosevelt in die 1940 presidensiële verkiesing. In ‘n
radio-onderhoud blameer Lindberg die Jodedom vir die Nazi-oorlog en hy gaan ook
allerlei vriendskaplike ooreenkomste met Adolf Hitler aan. En die uitwerking
hiervan op die Joodse gemeenskap word dan onder die priemende soeklig geplaas
met ‘n werkkersklas Amerikaanse gesin in Newark as fokus en natuurlik, met ‘n
jong verteller se waarnemings van die gebeure. Is daar nog ‘n skrywer, behalwe
Robert Pinsky in Jersey rain, wat
die lot van die Joodse kind met sóveel deernis kan beskryf as Philip Roth?
“Fear presides over these memories, a perpetual fear” is
die intrapwoorde van die roman. Gesien die oë van ‘n kind waar selfs oorlog
deel van hul daaglikse spel word, raak die leser verstrengel in die bestaan van
dreigende uitwissing. Die vader se bestaan en soeke na hul eie huis, word met
soveel ironiese krag gelaai, omdat die kind as onskuldige mededeler vir die
leser die implikasies oordra van ‘n lewe
waar die rekeninge elke maand net-net klop.
In ‘n balspel trek hulle teen die muur sirkels met ‘n
land se naam binne-in. In hierdie soort aangepaste hopscotch word die ouers se angs na die kinders oorgedra. Dit is ‘n
bestaan van angs en aanval. Die bal mag jou dalk volgende tref.
Die Joodse letterkunde kan ten beste deur die lens van
paranoïa begryp word en geleerdes soos Harold Bloom en Geoffrey H. Hartman
beklemtoon hierdie onderliggende energie in die Joodse skryfkuns wat terugkeer
na die ‘breaking of the vesssels’ en die verhouding met die Tora en Kabbala. En
selfs by agnostiese skrywers is hierdie tradisies vir die goy-leser steeds
aanwesig en voelbaar.
Hierdie vermenging van feit en fiksie kry ‘n mens ook by
Robert Coover in The public burning
en D.M. Thomas se Flying into love
waarin die lewens van die Kennedy’s vermitologiseer word. Die vraag is in welke
mag die skrywer so mildadig met die geskiedenis speel? Watter grense moet
steeds bewaar bly?
In Roth se roman het die oordrewe spel tot gevolg dat die
leser op ‘n nuwe manier na die geskiedenis kyk. “Charles Lindbergh
Biography”verskaf belangrike insigte oor Lindbergh en sy kritiek op
Roosevelt. Volgens hom was die Jode o.a. die rede vir die Amerikaanse toetrede
tot die oorlog. Vir gewone mense was hy ‘n Nazi-simpatisant omdat hy geweier
het om die medalje wat hy van die Duitsers ontvang het, terug te gee. Die
ontvoering en dood van sy kind, wat geweldige sensasionele berigte ontlok het,
word ook in die roman aangeraak. Dit is duidelik dat Roth feite oor die
vaderfiguur gebruik om ‘n ánder perspektief aan die gelyknamige seun te gee.
Is dit egter ‘n goeie roman hierdie verregaande spel
tussen fiksie en werklikheid en die oordrywing van die werklikheid? En alleen
leesbaarheid mag myns insien die maatstaf wees in die romankuns: nie of iets
werklik gebeur het en of dit histories of feitelik korrek is nie. Daarom dat ‘n
skrywer ‘n gegewe begrens of eerder ont-grens in ‘n roman. Dit is ‘n
verbluffende, asemsnakkende roman van ‘n fyn stilis en grootse storieverteller.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]