Mari Grobler. Eggo’s
in bewolkte water. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 9 78 1869 190712.
Resensent: Joan Hambidge
Jare gelede het ek hierdie digter se kwatryne so mooi
gevind en haar jongste bundel Eggo’s in
bewolkte water bestendig dat ‘n letterkunde ook ‘n Mari Grobler benodig. In
hierdie klein bundel is daar ‘n paar pragtig onthoubare verse soos die sterk
gedig oor ‘n gay-vriend en hoe hy sy lewe bedryf en sy seksuele ervarings as ‘n
nagmerrie gesien word. In haar debuut uit 1990 Wat sigbaar is in amber het sy pragtige kort gedigte gepubliseer en
‘n paar hiervan is in my herinnering ingegraveer:
onder ‘n boom
staan ek vier sigarette lank
en wag vir jou
en
‘n kring om die maan
môre loop die hele stad
sekel teen die wind
en
in die rotstuin
“ohm-ohm” bye
bokant blomme
In Grobler se jongste bundel val die bundel in twee dele
uiteen: Evasgesange en Boekreis. In die
eerste afdeling vind ons verse oor die landskap en die Khoi-bestaan, die lewe
van die San en Xhosa. In die gedig “Zeven briefkaarten” word die
korrespondensie tussen ‘n Nederlandse bestaan en die lewe in Afrika belig. Sy
ken die vrou net van hoorsê en die digter se knap beeldbeheer blyk uit:
Jou vensterbanke jubel hiasinte
in die land sonder opdraand
terwyl Afrika se somer
giftig deur die osoon brand
en verwese toordokters
sterre soos dolosbeentjies lees.
Die gedig verraai ook haar digterlike werkswyse as
afloerder, hoorsêerder, optekenaar; die digter as buitestaander en waarnemer
van dit wat onder die oppervlak skuilhou. In die tweede afdeling word die lewe van Da Gama (en ook sy vrou se
stem) ontgin. Haar kind moet ‘n skooltaak skryf en die moeder doen navorsing en
skryf dan uitgebreid oor die lewensloop en ervarings van Da Gama.
In ons
digkuns munt veral Antjie Krog uit met hierdie soort tegniek en Melanie Grobler
het eweneens in haar Tye en swye in die lewe van Hester H byvoorbeeld stem gegee aan
die vrouekarakters in C.M. van den Heever se romans. Uiteraard beteken dit
enersyds historiografiese navorsing en andersyds digterlike fantasie.
Grobler
vaar goed in haar taak en oortuig met knap beelde soos “Jy laat my dikwels
alleen / om onder ‘n bietjiemaan / seelangs te strandkiewiet”. In “Beloofde
land” lewer sy ‘n vernuftige liefdesvers, ‘n onderwerp waaroor sy al uitstekend
gedig het. In “Lusoord”, ‘n baldadige
vers, word die seksuele pront en bekkig beskryf. Die Khoi en Sanverse vra eweneens ‘n
vergelyking met Krog se onlangse versameling die sterre sê ‘tsau’, en Stephen Watson se Return of the moon. Hierom
heet die bundel dan ook waarskynlik Eggo’s
in bewolkte water.
Soms is die verse nog nie heeltemal oortuigend nie, maar
op haar beste skryf sy ‘n vers wat tref met ‘n goedgekose beeld. Ook is daar baie aandag gegee aan klank, ‘n
aspek wat in ons moderne digkuns nie genoegsaam ontgin word nie.
Ongetwyfelde hoogtepunte is “Lusoord”, “Vrygesel”,
“Zeven briefkaarten”, “stilte”, “Beloofde land”, “Vermaning” wat hopelik
gekanoniseer sal word en vir Poskaarte
II is daar beslis baie verse te haal uit hierdie bundel in hul vernuftige
palinodering van reeds bekende tekste, historiografies en letterkundig. Die
voetnote maak ook baie verwysings vir die speurende leser oop.
‘n Tweede bundel word as ‘n hekkie gesien. En oor
hierdie hekkie het die digter gekom. Die voorblad terloops van Strijdom van der
Merwe is een van die mooiste omslagontwerpe in ‘n lang tyd.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]