Monday, March 4, 2013

Panos Karnezis - The Maze (2004)



Panos Karnezis. The Maze. Jonathan Cape, 2004. ISBN 0 224 069764.

Resensent: Joan Hambidge

Panos Karnezis se Little Infamies, ‘n bundel kortverhale, het hom as ‘n skrywer gevestig. ‘n Student in die Ingenieurswese wat later ‘n MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van East Anglia bewys die waarde van sodanige kursusse. Sy roman The Maze is ‘n genoeglike leeservaring.

Die verhaal speel af in 1922. ‘n Turkse leër agtervolg ‘n Griekse brigade ten einde wraak te neem op die Griekse inval en besetting van hul land. ‘n Brigadier, verslaaf aan morfien en behep met die Griekse mitologie (trouens, aan die einde van die roman kies hy dit bó sy verslawing) spook met die opstand en intriges van sy manskappe. Die enigste hoop is om by die see uit te kom, maar hiervoor moet daar ‘n woestyntog aangepak word.

Op hulle reis doen hulle aan by ‘n kleind orpie met ‘n effens aangetaste majoor en hierdie besoek het dan ‘n onomkeerbare en tragiese uitwerking op die mense van die dorpie.

Die leser van fiksie sal al die bekende spanninge herken. ‘n Brigadier wie se oordeel  deur sy verslawings aangetas is, ‘n leuenagtige priester, ‘n prostituut wat ‘n man se hart breek. Verraad, waansin, inkeer, berou. Wat die roman egter uitlig bó ‘n Wilbur Smith of populêre roman is dat die skrywer dit laai met mitologiese verwysings. Die verhaal word dus meer as ‘n fiksionele verslag. Die leser word ook van voetnote voorsien om onder meer te verduidelik presies wie Tantalus was en die implikasie van Odusseus of Pegasus vir die vertelling. Die vertelling is dan ook ‘n labirint waardeur die leser, soos ‘n latter-day Ariadne beweeg met die drade in sy of haar hand.

Om ‘n verhaal oor die spanning tussen die Griekse en Turkse kulture te beskryf, wil gedoen wees en die skrywer dra kennis van al die kulturele verskille. Die roman wys dan ook op die pynlike vernedering van die Grieke, eens ‘n kulturele mag wat nie daarin slaag om die Griekse leefwyse in die Ottomaanse gebied te beskerm nie. Tog het hierdie mense soveel belangrike mites en dramas geskep wat deur hierdie vertelling geweef word.

Daar is drie aanskoulike oomblikke in hierdie roman: ‘n besoek aan ‘n waarsegster wat met die sibilles verbind word; die beskrywing van ‘n vrou wat ‘n prostituut was in haar jeug en hoe dit haar lewe in die hede beïnvloed; ‘n oorlogverslaggewer wat ‘n veldslag misloop. Die beskrywing van die besoek aan die nekromanser is die spilpunt in die roman waar die verbintenis tussen die sienlike en on-sienlike uitgebeeld word. En hoe mense die boodskap kan verkeerd verstaan…

Die titel verwys na ‘n joernalis wat alles opteken en sy stukke Diary of the maze wil noem en die brigadier beloof dat hy hom beroemder as Odusseus van Ithaka sal maak!

Die tyd word goed weergegee en die skrywer gee baie aandag aan klein besonderhede om ‘n bepaalde atmosfeer te skep; vir my gevoel te veel miniskule detail wat uitgestal word om die navorsing wat gedoen is, te beklemtoon.

Dit is die roman van ‘n jong skrywer. Daar is dus dan ook gebreke. Soms is die waarnemings en uitbeeldings voorspelbaar. (Die toneel op bladsy 215 waar die polering van skoene soos volg beskryf word: "They had been tended with ample polish on each vamp as well as a globule of spit, before the camel-hair brush commenced its resolute attack”.) 

Maar waar die verhaal gelaai word met die mitologiese verwysings en die skrywer ‘n besondere insig in sy karakters se swakhede verraai, oortuig die werk. Graham Greene sou waarskynlik die priester se leuens, diefstal en geloofskrisis sterker uitgewerk het. Iris Murdoch sou waarskynlik die mitologiese intertekste implisieter aangewend het en dit meer ingeborduur het. Gabriel García Márquez sou ook meer oortuig het wanneer die fantasie en werklikheid teenoor mekaar te staan kom. Maar as ‘n debuutroman, slaag dit.  En dis hoe ‘n mens dit behoort te lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]