Monday, March 4, 2013

Kader Abdolah - Portretten en een oude droom (2003)



Kader Abdolah. Portretten en een oude droom. De Geus, 2003. ISBN 9 789044 502381.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Mens sou breedweg Portretten en oude droom as ‘n reisverhaal kon tipeer. Dit is egter meer as dit. Dit is ‘n fantasievlug, ‘n verhaal oor die skryfproses, ‘n besoek van ‘n vreemde land, nadink oor taal en identiteit (en hierom dan postkoloniaal in aanbod)… Boonop word die verhaal as ‘n soort droom aangebied en die skrywer leun swaar op die tegnieke van o.a. die Duisend-en-Een-Nagte.

Abdolah is ‘n gebore in Iran en ‘n Nederlandse skrywer en sy besoek aan Suid-Afrika is dus hierom uiters opwindend: dit is ‘n dubbele blik van buite. Pers en Nederlander wat inkyk op ons doen en late. Ook vermeng hy die konvensies van storievertelling: vanuit die dood word daar gekyk na Afrikaans en die letterkunde van hierdie land. Hierdie subjektiewe manier van vertel word gekombineer met ‘n meer gedistansieerde manier van boekstawing.

Met die gebruiklike Salaam word die leser ingelei in die vertelling van Attar, wat al jarelank in sy graf lê en ‘n paar klassieke Persiese reisboeke by hom het wat hy al ongeveer driehonderd keer gelees het.  Die leser word dus byvoorbaat gewaarsku dat hier sprake van oordrywing en fantasie sal wees en dat ons ‘n reis sal meemaak, tegelykertyd deur Suid-Afrika en die Middeleeue.

In die Alinea word die leser gelei deur die verhale. Die eerste begin dan ook selfs met ‘n verwysing na Aristoteles en Attar, met die toestemming van die ander, is die spreker. Roemi en Froeg is vrygelaat en hierdie teks artikuleer ook op ‘n vreemde manier die menseregteskendings wat tans in die Midde-Ooste/Irak aan die orde van die dag is.

In ‘n nawoord – waarskynlik weens Adriaan van Dis se (onregverdige) lotgevalle met die plagiaataanklagte – verskaf hy die bronne vir sy skryf-reis. Antjie Krog (De kleur van je hart)  is daar, gedigte via Komrij, Christine Barkhuizen-Le Roux. (Soms glip jij in plaas van jy deur en lê mis ‘n kappie in ‘n vertaling).  Ook Ingrid Jonker en Omar Kháyyam en die middeleeuse Persiese digter, Naser Gosro blyk belangrike invloede te wees. Ons vind ook ‘n lys name van werklike mense wat hy ontmoet het en ‘n gedig van Wium van Zyl. So van Safarnamé tot Ingrid Jonker en Antjie Krog.

Hiermee wil die skrywer dan ook sy vertelling ideologies laai en beklemtoon dat stories nie ‘onskuldig’ is nie. Stories word geskep om die dood af te weer of om die reeds-bekende onbekend te maak.

Die skrywer erken ook dat hy in Suid-Afrika vry voel in Nederlands en nie vrees dat iemand ‘n taalfout sal aanstip nie. So kom sy vertelling dan ook los van ‘n taalverdrukking of régime van korrektheid. Vir die postkoloniale teoretici behoort hierdie vertelling besonder openbarend te wees. ‘n Mens dink hier aan vele skrywers wat terugkeer na ‘n geboorteland (soos Cixous wat praat van ‘nostalgeria’ wanneer sy terugkeer na Algerië). Hier egter is die besoeker ‘n vreemdeling in Nederland wat in so ‘n mate sy Nederlandse identiteit aangeneem het dat hy in Suid-Afrika na Afrikaanssprekendes kyk soos volg: ”Ik hoef niet meer op mijn grammatica te letten. Zuid-Afrikanen hebben de Nederlandse taal op de kop gezet. Alles is fout wat ze zeggen, maar op de een of andere wonderlijke manier klopt alles. Dus doe ik hier wat ik wil. En dat klink correct” (p. 73). Hy skryf dan ook ‘n eenvoudige Nederlands: die taal van die buitestander, sou ‘n mens kon aanvoer en so gelees, word hierdie teks ‘n spel met buite/binne-wees. Of dan: buite-buite-binne-wees.

Sy identiteit verander voortdurend omdat hy verskillende maskers aanhet of personasies skep waardeur hy praat.

Dit is ‘n slim spel wat met die leser gespeel word.  Soms is daar onbenullighede wat opgeteken word of is die tekstuur ‘n bietjie aan die dun kant. Maar wanneer ‘n mens eers betower is, is dit ‘n heerlike leeservaring.

Naskrif:

Ek en die outeur het jare gelede ‘n relletjie by ‘n openbare voorlesing gehad oor juis een van die ‘karakters’ in sy boek. Hy het aanstoot geneem omdat ek gesug het by die voorlesing en dit as ‘n jaloerse aanval beskou. Ek het hom egter daarop attent gemaak dat ek geraak was deur die onderwerp. As buite-waarnemer het hy kennlik nie die kodes begryp nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]