Saturday, March 2, 2013

Daniel Hugo (Samest.) - Land van sonlig en van sterre (2004)



Daniel Hugo (Samest.). Land van sonlig en van sterre. ‘n Bundel gedigte oor Namibië. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 066 1.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Kundige bloemlesing is iets wat die ernstige leser van die digkuns rig. Dit het ‘n dubbele funksie: enersyds word verse aan die vergetelheid ontruk; andersyds werp die tematiese saamgroepering ‘n nuwe blik op verse. So byvoorbeeld kry Wilma Stockenström se “Die eland” ‘n ryker lees- en betekenisduiding teen die agtergrond van bekende en minder bekende verse oor Namibië.

Die ‘gevaar’ van ‘n tematiese bloemlesing is ook dat mindere verse opgeneem word, ofskoon Hugo dit duidelik stel dat slegs verse wat poëties geïmponeer het, opgeneem word. Die digter se kundigheid het hom dan ook gehelp in sy versameling en vergete, selfs onbekende digters soos Johanna Bouwer (opgeneem in Standpunte van 1959) maak die bundel ook uiters tersaaklik vir die dosent wat lesings oor kanonisering gee. Wie is hierdie digter? Waar is sy vandag? 

‘n Mens sou dan ook graag ‘n kort biografie oor elke digter wou sien. Vir die ingeligte leser is Doc Immelman of Everwyn Wessels bekende name met ‘n bepaalde plek in die kanon; vir die jong student is dit nie bekend wie hulle is nie. Hierom sou die leser ook wou weet wie is boorlinge van die land en wie skryf van buite. Die hele kwessie van landskap is binne die moderne literêre teorie ‘n uiters boeiende tema. Wie besit? Wie is onteien? Die hele geskiedenis van hierdie land – waarop digters by implikasie sinspeel – moes ook onder die loep geneem word. Ook die postkoloniale diskoerse kon geaktiveer geword het in die inleiding, omdat digters geskiedskrywers van die onbewuste is en dikwels in hul verse ‘n blik op ‘n land(skap) en geskiedenis gee wat politieke besluite aan die kaak stel, kritiseer of dekonstrueer. Ook die feit dat digters in Afrikaans dig kon duideliker behandel en belig word.

As dit ‘n land van landskapkunstenaars is (‘n mens dink hier aan die skilderkuns veral) behoort ook dit verder ondersoek te word. As ‘n mens gedigte onder ‘n bepaalde noemer plaas, dan behoort daar duideliker redes te wees oor die spesifiekheid van sodanige tematiek. ‘n Samesteller van Eskimo-verse sal byvoorbeeld iets moet kwyt raak oor die verskillende woorde vir sneeu. Dieselfde geld so ‘n versameling: lyk hierdie verse enigsins anders as byvoorbeeld verse oor die Koue Bokkeveld? En is landskap nie dikwels ‘n omstrede begrip nie? Gaan kyk na Afrikaanse Natuurpoësie van P.J. Nienaber en F.V. Lategan uit 1968. Elizabeth M. du Toit se sogenaamde landskap-vers is eintlik ‘n gedig oor haarself!

Die bundel is ‘n interessante leeservaring, omdat verskillende skryftradisies hier naasmekaar geplaas word. ‘n Mens vra jouself af of Peter Louw se “Patrollie” opgeneem moes word? En Trienke Laurie, die digter van die uitroepteken, se verse steek werklik sleg af by behendige digters soos Daniel Hugo en Chris Lombard met sy distigon “Windhoek-restaurant 1989”. Fanie Olivier se “by ruacana” bevestig opnuut (altans vir hierdie leser) hoe jammer dit is dat hy stil geword het. Hopelik sal sy nuwe verblyf in Pole om inspireer om weer gedigte te skryf! Oor veral die Skedelkus en natuurlik die “Welwitschia mirabilis” word daar dikwels gedig. George Weideman is eweneens goed hier verteenwoordig uit sy pragtige bundel ‘n Staning onder sterre.  Interessante intertekstuele netwerke kan nou tussen gedigte uitgewys word en verskillende poëtikas. Die liriese sang van Marié Blomerus versus die strakke, afstandelike digkuns van Daniel Hugo.

Hugo se harde werk om bekende en minder bekende gedigte saam te voeg, is wel loflik. Hiervoor moet ‘n mens hom bedank.  Dis net jammer dat hy ‘n kans verspeel het om ons meer van hierdie landskap, die politiek, die geografie en sy mense te vertel.

Vir sowel die digkunsliefhebber as die dosent is hierdie antologie ‘n moet vir die boekrak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]