Friday, March 1, 2013

Kleinboer - Kontrei (2003)



Kleinboer. Kontrei. Uitgewery Praag, 2003. ISBN 0 9584635 4 9.

Resensent: Joan Hambidge

Kleinboer se debuutroman Kontrei (met sy plat woordspeling) geniet wye media-dekking. Moenie dat dit jou as leser vervreem nie, want dikwels kan lesers juis boeke wat oorbelig word as ‘n soort leesversperring ervaar. Dit was destyds die geval met Triomf.

Kontrei is ‘n belydenisroman. ‘n Outobiografiese vertelling van ‘n soekende ek wat aan sy tweelingbroer die storie vertel. ‘n Mens kan dit as ‘n parodiese antwoord lees op Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan: Maria/Marie se analise van onbeantwoorde liefde en haar verdrietige verliteraturing daarvan. In Kleinboer se roman gaan dit oor besoeke aan hoerhuise en die  die soektog na die uigestelde O. Kleinboer is ‘n soort Henry Miller-figuur wat die fallus verheerlik en die leser blootstel aan die bestaan van die soekende, wandelende ek.

Geplaas teen die moderne Johannesburg – Yeoville en Hillbrow – kom motorkapings, Vigs, die lewe in ‘n moderne stad, liefdeloosheid, geweld, en al die onsekerhede van ‘n grys bestaan na vore. Die romantitel is ironies, omdat dit ‘n soort plaas-idille wil oproep. Maar Kleinboer woon in die stad, ofskoon hy dikwels tuin maak en filosofeer oor die betonoerwoud waarbinne hy hom bevind en wat hom frustreer.

Hy maak ook spelfoute in hoerhuise reg en gereelde lesers van Litnet se briewekolom sal die werklike skrywer se beheptheid met woorde alreeds ken. Dit is dan in die eerste instansie ‘n skrywer wat jou bewus maak van die skryfproses en soos in die metaroman dikwels gebeur, verneem ons teen die einde dat ons die beoogde roman sopas gelees het.

Dis ook ‘n roman wat bewustelik inskryf teen die plaaroman se kodes van die boer op die land. Hier is die boer ‘n cruiser wat hoerhuise besoek en sy voorkeur vir swart vroue uitspel. Wanneer hy by geleentheid emosioneel betrokke raak, ondermyn dit die hele jag(s)tog. Ook die verhouding met sy swart huisgenoot en haar kind, wat hom Daddy noem, word besonder goed verbeeld. Hy is die jagter, maar wanneer sý dalk ontrou mag wees, raak hy jaloers op die man wat besoek aflê. Op ‘n deernisvolle manier word die verhouding met die kind beskryf en die woedeuitbarstings tussen die twee huisgenote is driftig. Sy noem hom ‘n Boer in woede en die leser word betrek by al die pynlike misverstande in ons samelewing.

Nie alleen is dit pakkend en goed geskryf nie, maar ek dink die leser word ook betrek by ‘n eerlike bekentenis.  Wees net gewaarsku: die ‘naked I’ is dikwels die mees gedistansieerde verteller denkbaar en hoewel ons dikwels sy fallus sien is daar maskers en intertekste ingebou om afstand te skep.  Die verwysings na die jeug is hartverskeurend (veral die vader se reaksie op ‘n swart huwelik) en Bybeltekste verïroniseer die huidige verloedering.  Die skrywer is dieselfde jaar as hierdie leser gebore en baie subtiele retro-verwysings kan dus met ‘n glimlag waardeer word. Die ou en nuwe Suid-Afrika word baie slim teenoor mekaar geplaas en die seun se opstand teen die stoere vader (wat selfs die toiletgewoontes wou beheer om water te spaar), word knap verbeeld.

Een leser mag nooit namens ‘n ander leser praat nie, maar ek meen die boek se krag lê in sy eerlikheid opgesluit en die varse, nie-studeerkamer-agtige prosa wat dikwels sieldodend is nie. Hy skryf uit sy ‘gut’. Miskien selfs verder af, sou ‘n mens speels kon aanvoer. Tog is dit terselfdertyd ‘n slim  boek vol verwysings en sydelingse klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word by die naam genoem.

Dis nie ‘n boek wat jou ‘opwerk’ nie; daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos identiteit, taal, herkoms, die dood betrek. Ook is daar ‘n soort “sonde met die bure” ter sprake wanneer die honde in die buurt stilgemaak moet word. Daar is ‘n blik op die absurde in die lewe: hy woon ‘n Jim Rose-vertoning by en lag vir sy eie seksbeheptheid. Waarom “cruise” hy? Kleinboer se roman openbaar dieselfde obsessie as wat ‘n mens in Nagsweet van Johann de Lange kry: die opstand teen die vader, die soeke na die self, die onvermoë om die nostalgiese jeug en die harde werklikheid te versoen dalk. Kleinboer wys meer as sy ploegskaar.

Praag het hierdie roman gepubliseer en gerugte doen die ronde dat Naspers dit afgekeur het. Sal daardie redakteur asseblief opstaan en verduidelik waarom vrot, lewelose boeke bó hierdie kragtoer verkies is? Dis nou as jy uit jou skaamte kan opkyk.

Uitgewery Praag: Posbus 3103, Dainfern, 2055

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

1 comment:

  1. I think it may be a solution to your question as to why Naspers ... if the name behind the "kleinboer" gets considered. Don't know, I think that is why. And, I don't think these subjects gives my soul any, any sort of comfort neither do I think it a speciality to philosophize about. Why not rather do a philosophical writing and say so? Again, my personal feeling.

    ReplyDelete