Friday, March 1, 2013

Gabriel García Márquez - Memories of the Melancholy Whores (2005)



Gabriel García Márquez. Memories of the Melancholy Whores. Jonathan Cape, 2005. ISBN 0224 077643 .

Resensie. Joan Hambidge

In sy lang outobiografiese verslag Living to tell the tale (2003) skryf Gabriel García Márquez oor sy jeug en hoe dit gebeur het dat hy ‘n skrywer geword. Die leser word teruggeneem op ‘n reis na sy geboortehuis en die ontmoeting met sy vriende en familie. Ons lees ook van sy eerste ervaringe as ‘n joernalis en sy fenomenale verbeelding as die skrywer van ‘tall stories’. Dit is waarskynlik een van die pakkendste tekste oor hoe ‘n skrywer se verbeelding werk. Sy One hundred years of solitude (1970) is een van die grootste romans nog in die letterkunde en die Colombiaanse skrywer woon tans in Mexiko.

Memories of my Melancholy Whores is sy jongste roman, geskryf deur ‘n ou man (ons wag terloops op die tweede band van sy memoirs!), deur kanker geteister.  Die teks, vertaal vanuit die Spaans deur Edith Grossman is besonder mooi uitgegee deur Jonathan Cape, doen die reputasie gestand van hierdie skrywer as ‘n pakkende fabrikator. Daar word vertel dat ‘n eerste uitgawe van hierdie roman ‘gesteel’ is en dat Márquez in woede toe besluit het op ‘n uitgawe met ‘n veranderde slot. ‘n Foefie dalk? Soos Houellebecq wat eweneens beweer het sy boek is in park ‘gevind’? Die Colombiaan is waarskynlik darem bó hierdie soort bemarkingsfoefie verhewe, en boonop weet ons hoe dinge gesteld is in Suid-Amerika.

Ons het tien jaar gewag vir hierdie roman wat handel oor die ontdekking van die liefde op ‘n laat ouderdom. ‘n Ou tweederangse joernalis, negentig jaar oud, besluit om vir homself ‘n verjaarsdaggeskenk te gee. Sy cadeau aan homself is ‘n besoek aan ‘n hoerhuis waar hy ‘n adolessente maagd in die oog het. Hy noem haar Delgadina wat die leser dadelik bewus maak van die mag van die verbeelding wat werksaam is wanneer ons verlief raak. Hy tree nooit met haar in interaksie nie, maar net haar aanwesigheid het ‘n uiters passievolle reaksie tot gevolg waaroor hy dan begin skryf in sy weeklikse koerantrubrieke. Sy is as’t ware die sneller vir sy verbeelding en herinnering want deur haar onthou hy al die ander ervarings met die vroue in sy lewe. Dit was altyd betaalde seks en die roman word ‘n skerp analise van die verhouding tussen verbeelding en werklikheid; liefde en seks.

Die roman, met ‘n pragtige voorblad, is net so oor die honderd bladsye en is gskryf met ‘n vaste hand vol verwysings na ander tekste. Dis hoogs leesbaar en onderhoudend, maar geplaas teen die groot obsessionel roman in die letterkunde, te wete Vladimir Nabokof se Lolita, is dit maar klein in omvang. Trouens, die leser voel dikwels dat hier met ‘n eerste, ónklaar weergawe gewerk word. Die slot het vir my gevoel onaf gevoel. Die boeiende passasies kan egter nie opmaak vir (hier)die leser se gevoel nie, juis omdat die outeur se vorige werke so meesleurend en oorrompelend was.

Maar ‘n ‘mislukte’ roman van herdie outeur is nog steeds ‘n boeiende leeservaring. Love in the time of cholera (1988) is dit helaas nie.

Onthoubare passasies is daar wel: hoe die obsessie die leesgemeenskap meesleur in die verteller se rubrieke; sy gevoel van onthutsing wanneer hy ‘n vermoorde man se lyk sien; sy gevoel van verraad wanneer die bordeeleienares die meisie ‘uitverkoop’....

Die tol wat die obsessionele liefde eis - soos die verwoesting van 'n kamer - word helder vir die leser verbeeld. Die karakter Rosa Cabarcas staan wel helder geteken voor die leser se geestesoog, maar hierdie boek oor ouderdom en die verlies van aansien, steek af teen die meester se vorige werke, Edith Grossman se verruklike vertaling ten spyt.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]