Friday, March 1, 2013

Gabriel García Márquez - Living to tell the tale (2004)



Gabriel García Márquez. Living to tell the tale. Jonathan Cape, 2004. ISBN 0 224 07278 1.

Resensent: Joan Hambidge

Gabriel García Márquez het die Nobelprys vir Letterkunde verower in 1982 en sy Een Honderd Jaar van Eensaamheid het hom gevestig as een van die belangrikste eksponente van magies-realisme. Sy jongste teks, ‘n outobiografiese verslag, heet Living to tell the tale. Sy jeug, sy verhouding met sy moeder en met stories word in hierdie eenvoudig pakkende vertelling met soveel oorgawe en drif vertel.

Hy begin sy outobiografie met ‘n reis terug in sy jeug. Hy vergesel sy moeder om hul huis te gaan verkoop wat ‘n slim truuk is om sy betrokkenheid by sy familie, sy land en vormingsjare in Kolombië vir die leser te verduidelik. In ‘n mens se jeug kyk jy altyd vorentoe, die toekoms in en soos jy ouer word, raak jy al hoe meer nostalgies en die verlede belangriker, skryf hy.

Hy vertel ook hoe hy groot geword in ‘n huis waar daar soveel weergawes van dieselfde insident was dat dit moeilik was om presies te weet wat die waarheid behels. En hoe ‘n dislojale seun van sy moeder – natuurlik die skrywer – die moeder se herkoms in verhale verraai het. Die jong nuuskierige kind neem die geboorte van ‘n baba waar in ‘n toneel wat die leser opnuut bewus maak van die psigo-analis, Alice Miller se teorie dat jeugtrauma dikwels bly nawerk in die sensitiewe kind se gemoed en sy ervarings daarna vir ewig bepaal.

Die skrywer skryf ook onderhoudend oor naamgewing binne sy kultuur en bely hy dat ‘n karakter eers wanneer hy of sy ‘n naam kry, tot lewe kom.

Sy liefde vir Faulkner en die invloed wat Kafka op sy vorming as skrywer gehad het, word hier beskryf.  Die terugblik op Gabito en sy geboorte as skrywer in sy twintigerjare gebeur voor die leser se oë.  Die verkoop van die huis (in psigo-analise ook ‘n voorstelling van die self) in Aracataca, naby die Karibbiese see, bring herinneringe, drome en opgemaakte vertellinge terug.

Opvallend is dit hoe groot boeke na hom toe kom. Hy ontdek die tweede “Bybel”, Ulysses en bely sy skatpligtigheid aan hierdie grootse roman en Kafka se Metamorfose verander sy waarneming van die werklikheid vir altyd. Tipies Suid-Amerikaans word die belangrikheid van die digkuns erken en Neruda se misbruik, volgens hom, van die digkuns by ‘n bepaalde geleentheid om ‘n politieke stelling te maak, word bevraagteken. Vincente Huidobro en Lorca. Ook hulle het ‘n magtige invloed op sy gees gehad en die leser word bewus in hierdie vertelling met sy tuimelende vaart van die enorme spirituele ervaring van die letterkunde. 

Boeke verander ‘n lewe ten goede. Om te skryf en stories te vertel, het ‘n primordiale funksie.  Hy bely sy verslawing aan rook en skryf. (Ook hoe hy skielik ophou rook, maar nie ophou skryf het nie.) Daar is pragtige tall stories en van my gunstelinge is die vertelling van ‘n sirkus wat met ‘n sinkende skip verewig verdwyn. Sy lewe in ‘n groot gesin en hoe moeilik dit was om almal te versorg met ‘n moeder wat telkens ‘n nuwe baba op haar skoot had, word vertel sonder enige sentimentaliteit. Dis net hoe dit was.

Die komplekse politieke landskap en opstand behoort vir lesers daarop te wys dat die mens sulke onstuimighede kán oorleef.  Hoe hy sy tas (weliswaar gesteel) verloor met dokumente, vertel iets van die skrywer. Hy soek nie daarna nie; dit keer terug met korreksies in groen van die anonieme leser. Ook die manier waarop hy mense uit die werklikheid gebruik in sy boeke, is insiggewend. Maar, soos Hemingway, wil hy nie vertel hoe hy dit doen nie, want dit mag dalk vir lasterprokureurs ‘n bruikbare handleiding word. Ook kopiereg-rusies, sy werk as joernalis (as misdaadverslaggewer kom hy nie die mas op nie weens sy sensitiewe reaksies) en filmkritikus lewer bewys van hoé ‘n groot skrywer gevorm word.

Dis’n dik boek geskryf met vele afdraaipaaie en met geduld. Die boek van ‘n ou, wyse mens wat tyd het vir so ‘n bestekopname (daar is skynbaar twee ander volumes op pad).  300 000 eksemplare het glo verkoop binne tien dae van “Vivir para contarla”.

Dis ‘n opwindende, meesleurende, groter-as-lewensgroot verslag van hoe die skrywer van Een Honderd Jaar van Eensaamheid (1967) die skrywer van sy enorme statuur geword het. Ons beleef sy dwingende beskrywing van die rewolusie en sy vriendskap met Castro.  Hy slaan op die vlug met vuil klere in ‘n tassie, en dis hier by bladsy 300, dat jy as leser weet dat ellende wat hy as jongmens meegemaak het, hom gestroop het van alle illusies. Ook sy soektog na ‘n tikmasjien bewys sy gedrewenheid as skrywer.

Hierdie boek het meer as twintig miljoen eksemplare verkoop en is in 35 tale vertaal! Dit is ‘n roman wat naas Cervantes se Don Quixote allerweë gereken word as die grootste in die Spaanse taal. ‘n Mens verstaan ook na die lees van hierdie boek wat ‘magiese realisme’ werklik beteken en dat dit buite ‘n Spaans-Katolieke wêreld vals opklink. Dit is dus ‘n valse etiket om aan ‘n Engels-Suid-Afrikaanse roman te hang waar karakters deur grotte val of spoke ‘sien’. Dis om die klok te hoor en nie te weet waar die bel hang nie.

Lees hierdie boek wat stomp eindig, omdat die volgende twee tome op pad is.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]