Tuesday, March 5, 2013

Don Maclennan - The road to Kromdraai (2002)



Don Maclennan. The road to Kromdraai. Snailpress, 2002. ISBN 187492363-9.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad is daar ‘n mooi foto van die digter: sy een oog is donker, die ander is helder verlig.  Op die agterblad bely hy dat sy gedigte gaan oor die wete dat daar iets soos diepere insigte bestaan. Hierom is die bundel dan ook een wat handel oor die dood en die wete dat die dood juis paradoksaal die lewe bevestig.  Maclennan is ‘n bekende digter, kortverhaalskrywer en dramaturg. ‘n Ou hand dus.

Veral die tweede gedeelte van hierdie bundel bevat wonderlik ontroerende verse wat as epifanies getipeer kan word. ‘n Klein moment of insident verraai dikwels vir die digter ‘n dieper waarheid . In “East London incident” word ‘n swart vrou waargeneem wat haarself was voor sy werk toe gaan.  Dit word egter meer as ‘n wastoneel: sy adem ook die primordiale krag van die see in.

Ook oor sy liggaamlikheid, al is die liggaam ouer en afgetakel, skryf hy eerlik en ontroerend. Sy begeerte tot vroue (veral ‘n jong vrou) en sy blik op sy vrou is gelaai met soveel selfbewussyn en -kennis. Die metafisika spreek uit die alledaagse: ‘n klip, ‘n blom. Die verganklike word telkens teen die Ewige geplaas, maar met die wete van die Emerson-motto: Other world? There is no other world; here or nowhere is the whole fact.”

En dit is hoe ‘n mens waarskynlik die bundel moet lees: ‘n soort ‘carpe diem’-benadering wat ook deur ‘n Boeddhistiese lewenswyse ondersteun word. “Being alive” kan gelees word as so ‘n wyse bestekopname. In “Originality” ook die wete dat die digterlike proses al beter deur ander verwoord is, maar hierdie leser voel sterk daaroor dat MacLennan ‘n eiesoortige visie het wat kenmerkend is van die suksesvolle digterskap: tegniese beheer en eerlikheid.

Daar is niks ‘phoney’ aan hierdie gedigte nie. Dit is geskryf deur iemand wat presies weet wie hy is, die lewe gesien het, die erotiek nog sterk beleef, vreugde het aan die natuur en omgee vir sy medemens. Dit word alles sonder tierlantyntjies beskryf.  Die slotvers “Kromdraai” is ‘n ars poetiese gedig:

Auden thought art
was our chief means
of breaking bread with the dead.
in his canny way
he knew that rock creates
the only truly human landscape.

“Three skeleton pieces” moet hiermee saamgelees word. ‘n Mens kan nie veel van die digkuns leer nie, meen die digter; tog elders voel hy weer dat die digproses belangriker as brood is. In die lykdig “An epitaph for Guy: 26th April 2001” word die kortstondigheid van die lewe tenoor die durende skryfproses geplaas.

Dis ‘n goed afgeronde bundel. Dikwels lyk gedigte met ‘n eerste lees maklik of toeganklik, maar dit is daardie soort eenvoudigheid wat deur tegniese behendigheid, èn met die ouderdom, tot stand kom.  En daar is ook ‘n respek vir ‘n digterlike tradisie en wysheid van soveel millennia:

I am still groveling
at the roots
of consciousness,
trying to read its scrawl. (“To live”).

“Going to Ithaca” is ‘n lykdig oor die selfmoord van ‘n vriendin; vir hierdie leser ‘n dubbele pynlike ervaring omdat sy toevallig die persoon en omstandighede ook geken het.  Dit het dan ten slotte van hierdie bundel ‘n dieper leeservaring gemaak omdat hierdie gedig ook kon heling bring.

Daar is wel ‘n ander wêreld en dit is die een van die gedig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]