Dan Roodt. Moltrein. Praag, 2004. ISBN 0 9584635 8 1.
Resensent: Joan Hambidge
In aansluiting by sy uitstekende debuut
Sonneskyn & Chevrolet, is Dan Roodt se jongste roman Moltrein ‘n teks
waarin skryf- en leeskonvensies op die kop gekeer word. Anton du Preez, die
hoofkarakter, word deur ‘n wasseryfirma se afleweringswa doodgery – ‘n subtiele
toespeling op die grote Roland Barthes se einde. (Roodt het ook ‘n
MA-verhandeling oor Barthes voltooi.)
Wiele/ry/ beweging (rota= wiel) is die
basiese energie wat hierdie teks voortstu. Dit is ‘n roman wat Barthes se
‘nulpunt van skryf’ tot die outobiografiese-biografie, Roland Barthes deur
Roland Barthes, ontgin en heraktiveer. Du Preez se storie word gered deur sy
broer wat dit dan oorhandig aan dr. Dan Roodt, taalaktivis en agent provocateur
van die Afrikaanse letterkunde.
Metafiksie en narratiewe truuks vorm part en deel van hierdie teks wat
sterk psigoanalities gelees wil word. (Is hierdie teks die manifestasie dat
Roodt ‘n anargis is soos hy telkens bely oor sy taalpolitieke uitsprake? Maar
ons los die werklike Roodt vir die duur van hierdie roman uit.) Moltrein is ook
‘n reis deur die onbewuste en Jacques Lacan se bekende essay van die trein wat
op twee stasies stop, kom ook aan bod. Wie kyk? En na wie/wat word gekyk? is ‘n
ander belangrike tema in hierdie roman met Carole Bouquet, die Bond-meisie as
‘n ikoon en lusobjek vir die fokalisator, Anton du Preez, ontheemde in Parys,
musiekonderwyser, Afrikaner…
‘n Hele galery van bekende skrywers soos
Proust, Balzac, Flaubert, e.a. word hier uitgestal. Brink se Die ambassadeur en
sy reistekste word aangespreek en ‘n minder romantiese beeld van Parys en die
hoerebuurt word geskilder. Die teks is ten beste nostalgies in aanbod. Daar is
‘n verlange na die verlede (Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria waar die
karakter o.a. Latyn bestudeer) en die leesgewoontes van ‘n jong kind. Die enorme kultuurverskuiwings in ons land
word hier van buite bekyk.
Die liefdeslewe van Du Preez en Erika de
Ruiter word geil en heerlik beskryf. Hulle fluister Afrikaanse vloekwoorde in
mekaar se ore om die krag van Afrikaans in Parys te beklemtoon. Geen suggestie
of innuendo nie. Roodt gaan al die pad. Sy verhouding met die ryk vrou (ook ‘n
omkering van die ‘sugar daddy’-beginsel) word knap hanteer. ‘n Ski-vakansie
eindig sleg vir die hoofkarakter wat met ‘n beseerde knie moet voortbeweeg en
sy geliefde versaak hom. Wanneer hy via Rooi Rose ontdek dat sy getroud is met
‘n ryk Stellenbosse wynboer, rugbyspeler (ook ‘n konvensie uit die liefdesroman
wat sneuwel), word nog ‘n klomp tekste vir ons oopgemaak. Barthes se stelling dat ‘n geslaagde roman
soos ‘n vertikale krag deur alles beweeg en dat die leser soos ‘n waterwyser
kragpunte moet raaktrek (S/Z), kom eweneens aan bod.
Houellebecq se Atomised klop ook
verskillende dimensies en tekste saam, die ongehoorde en onaanvaarbare
veral. Moltrein kan ook net gelees word
as ‘n storie; maar die uitsnuffel van al die intertekste – soos ‘n weggooi
verwysing na die mistisisme – maak dit vir die letterkundige leser ‘n
plesierrit. Die roman bewys dat tekste buite die sisteem – soos Kontrei van
Kleinboer – hoogs noodsaaklik is, omdat dit die stereotipe idee van wat ‘n
goeie of groot roman nou eintlik behoort te wees, afbreek. Boonop soos in
Atomised en Platform is die skrywer vreesloos voor die stereotiepe of die
polities-korrekte versugting.
Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se
taaalpolitiek hou nie, negatief ingestel wees teenoor die roman. Die roman
bewys egter Barthes/Foucault se se stellings oor die ‘dood van die outeur’ reg:
die teks het sy eie drif, beweging of energie, onafhanklik van die werklike of
konkrete outeur. I was gob smacked.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]