Tuesday, March 5, 2013

Johnita le Roux - Een vir die Wolfskof (2004)



Johnita le Roux. Een vir die Wolfskof. Lapa, 2004. ISBN: 0799 3 3315 8.

Resensent: Joan Hambidge

Een vir die Wolfskof van Johnita le Roux is ‘n pakkende roman waarin ‘n vroueskrywer inbeweeg in die manlike domein. Die wêreld van die plaas en veral die soldaat word hier oopgemaak. Die roman speel in 1995 af en ‘n soldaat uit die Ou-Suid-Afrika beleef ‘n ernstige depressie. Sy vrou besoek ‘n terapeut en die effek van sy gemoedstoestand word op ‘n openhartige wyse beskryf. Hy is onder andere impotent en die effek hiervan op sy vrou en homself word uiters aangrypend beskryf. 

Ook roep die verteller hulle vorige lewe in herinnering en hoe alles verander het. Die lot van die wit man word dus hier vanuit die perspektief van ‘n vrou (‘n baie vernuftige strategie) onder die loep geneem.  Die ervaring van die eens magtige patriarg as ‘n nou impotente (op fisiese en geestelike vlak) is waarskynlik een van die belangrikste temas van hierdie roman. En dit kry natuurlik ‘n ekstra dimensie omdat ‘n vrou hieraan stem gee. Soos wat Marlene van Niekerk inbeweeg in die domein van die plaasroman in Agaat, skryf Le Roux oor veeboere en droogte. Dit gaan hier om die soeke na water wat natuurlik ook geestelike energie impliseer. Die letterlike reis word ook ‘n geestelike soeke of reis wat met primordiale krag gelaai word. Ook is die tema van die plaas ‘n hoogs emosionele onderwerp; nes die indertydse grensoorlog en in Dine van Zyl se Slagoffers is daar eweneens ‘n vars blik gegee op hierdie oorlog.

Een vir die Wolfskof is ‘n soort metaroman waarin die leser ook toegelaat word in die binnekamer van die skrywende instansie. Die grense tussen werklikheid en fiksie en tussen historiese verlede en nou, word goed so in jukstaposisie geplaas. Ook die verhouding tussen terapeut en pasiënt word goed ontgin en die teks word deur Jungiaanse tekste begelei. Dit is wat my betref die sterkste aspek van die roman, hierdie Jungiaanse en primordiale soektog na die self. (Wolfskof dui ook op Women who run with the wolves, teks waarin die Jungiaanse interpretasies van die onbewuste gekoppel word aan bepaalde argetipes.) 

Daar is baie vernuftige aanwysings soos dat die uitslag van die terapie bepaal sal word deur wie die sterkere blyk te wees in ‘n hierdie komplekse verhouding. Ek ken min romans waarin die uitsigloosheid van ‘n problematiese verhouding so eerlik en skrynend verwoord word. Impotensie en emosionele geweld word uitgelap in die openhartige terapie-sessies en die leser kry ‘n verdere binneblik op dit wat vertel en veral verswyg word. Die leser is dus by uitstek ‘n soort afloerder of voyeur wat intieme belydenisse uit die terapie-sessies en die skryfproses meemaak. Dit word verder gekompliseer deur die Jungiaanse verwysings. Die leser moet self al die drade bynmekaarplaas. Uiteindelik sal jou lesing iets verraai oor jou onbewuste suggereer die ryk-geskakeerde teks.

Lapa uitgewers bemark die boek met drie uitroepe: “’n Moord in die familie. ‘n Antieke stukkie buit. ‘n Vloek” wat jammer is, want Le Roux is nie meer volledig ‘n populêre skrywer nie. Sy het enorm ontwikkel vanaf haar eerste boek, Die dagstêrwals.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]