Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Short Stories. Ad Donker, 2004. ISBN
0 86852 227 9.
Resensent: Joan Hambidge
Die naam Michael Chapman is sinoniem met die versameling
van ons verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes. Geen maklike opgaaf is dit
nie en die skrywer het veral in sy literatuurhistoriese oorsigte al die wind
van voor gekry oor feitefoute en slordige veralgemenings. Maar sy basiese
uitgangspunt is loflik, naamlik om die diverse en komplekse storiekuns van ons
land wat tydens apartheid/aparthaat/apartnyd in hokkies gehou is, saam te
plaas. Die leser kry dus ‘n fantastiese versameling van Engelse en vertaalde
Afrikaanse tekste. Ook ‘n swart teks word via Engels vir ons gegee soos o.a.
//Kabbo se “A story is like the wind”.
En Antjie Krog wat ‘vertaal’ en ‘oorvertel’ na aanleiding van die
WVK-getuienisse.
Anders as Abraham de Vries wat nie sy leser voorsien van
‘n nuttige inleiding nie, skryf Chapman ‘n lang voorwoord. Hy wil teen ‘groot
tradisie’ saamstel en ook minder bekende name opneem. En soos ons gewoond is
aan die inleidings, is omstredenheid dadelik daar: "The art of the short story
is not an art of reputation. It is the art of the left hand”. As jy mooi
luister, kan jy Tjekof hoor gil. Ons word geneem deur die orale en die latere
skryftradisie in ‘n goed verantwoorde inleiding oor presies wat die kortverhaal
is. Dit is ook goed dat hy verwys na
Gordimer se verhaal wat die konvensie van lengte oortree.
Die kort en kragtige aard van die medium was veral
tydens die ‘struggle’-jare ‘n handige manier om die komplekse rassestryd oor te
dra. In hierdie verband is daar vele verhale wat uiters navrant opklink: “The
WHITES ONLY bench” van Ivan Vladislavic is ‘n kragtoer in demitologisering en
Peter Wilhelm se “Jazz” gee ‘n blik op ons troebel land.
‘n Goeie aantal Afrikaanse skrywers kry ook hier ‘n
staanplek en binne die antologie kry verhale ‘n ander en ryker betekenis.
Verhale speel op mekaar in en die sub-teks van reaksie op onregverdigheid en
diskriminasie tref die leser.
Trouens, ‘n mens is opnuut bewus van die ongelooflike
ellende wat ons moes verduur het, of dalk, steeds meemaak wanneer Krog in
Ladybrand ‘n boer met sy vierwiel vra na die WVK en die SABC en sy met ‘n
vernederende skelwoord afgejak word en tot die bewuswees kom dat niks stellig
verander het nie.
Hoe sal die buiteleser, die nie-kenner, na hierdie
verhale kyk? Watter prentjie sal dit aan hom/haar oordra? Chapman kies verhale
wat in die algemeen stewig as verhale die toets slaag. Verhale wat in die New
Yorker of TLS opgeneem sal word. Goddank het politiek korrekte opnames waarmee
bloemlesings in die vorige bedeling geteister was, plek gemaak vir verhale wat
‘n boodskap oordra, maar steeds as storie slaag en oortuig.
P.J. Haasbroek se
“Departure” is ‘n verhaal wat ironies genoeg meer as ‘n
grensoorlog-verhaal word. Dit word ‘n Danteske verhaal, ‘n vertrek na die hel
wat hierdie skrywer nogmaals bestendig.
‘n Mens sou kon pieker oor verhale wat nie opgeneem word
nie, maar dit bly immers die bloemleser se keuse en omdat ons ‘n goed
verantwoorde inleiding vind, is weglatings minder steurend.
So gelees, gaan niks verlore nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]