Friday, March 8, 2013

J.M. Coetzee - Youth (2002)



J.M. Coetzee. Youth. Secker & Warburg, 2002. ISBN 0 436 27 593 7.

Resensent: Joan Hambidge

Die naam J.M. Coetzee het sinoniem geword met romans wat enersyds kritiese lof inoes (Disgrace, Michael K, o.a) en andersyds die morele polisie van Suid-Afrika laat regop sit (soos met Disgrace se sogenaamde ‘rassistiese’ perspektief). Ook het Gawie Keyser nou onlangs berig oor die Nederlandse kritici se ontevredenheid oor Coetzee se anti-Nederlandse siening en sy negatiewe perspektief op die Nederlandse digkuns, Vinkenoog in die besonder.

Ook Boyhood het ‘n frons ontlok weer oor die sogenaamde anti-Afrikaanse perspektiewe en ‘n mens begin wonder of gesofistikeerde lesers enigsins begryp dat die verteller in ‘n boek nie gelyk gestel kan word aan die skrywer-agter-die-boek nie. Gegee ook Flaubert se waarskuwings oor die fiksionaliseringsprosesse en die outeur van wie ons miskien die vingerafdrukke mag gewaar nie, maar nie die hand self nie.

Waarskynlik problematiseer hierdie romans sélf die komplekse verhoudinge tussen teks-werklikheid en die werklikheid daarbuite en gedagtig aan die opgewonde Nederlandse lesers: Coetzee het voortreflike vertalings van Achterberg gemaak! Met hierdie stelling dan as die laaste oortreding van die kontrak tussen skrywer en leser dat ons ‘n roman as ‘n stuk fiksionalisering van die werklikheid moet lees en nie die werklikheid as ‘n ‘korreksie’ op of van die roman nie.

Hierom waarskynlik die lang bespreking van Flaubert se romankuns en hoe die jong karakter (John) onder andere sy werk lees. Van Madame Bovary het Flaubert beweer: Madame Bovary c’est moi”; hier is soveel duidelike blyke dat die vertellende instansie van sy karakter wil sê: “John is ek; John is ook nie ek nie.”

Ons vind hier ook ‘n komplekse analise van die karakter se identiteit: sy verloëning van sy agtergrond (o.a. sy Afrikaanse verlede en sy moeder se verswelgende liefde) en sy ontnugterende besef dat hy binne die Londense bestel werklik ontuis voel. Daar is vele beskrywings van sy andersheid: sy kort geskeerde hare, sy kleredrag, sy “Suid-Afrikaansheid” wat van hom ‘n outsider maak.

Youth kan gelees word as ‘n soort manifes van hoe ‘n skrywer ‘n karakter en romanwerklikheid skep. Dit begin by die jongman wat hom ontheem van sy land en veral sy oorbeskermde moeder. Die begin van die roman is baie snaaks omdat die pretensie van ‘n jongeling wat wil digter word met soveel ironie en humor beskryf word. Dan vestig hy hom in Londen, werk by IBM. Ondertussen is hy op soek na die Groot Passie, hy lees die leterkunde en o.a. Pound spreek hom aan. Saans studeer hy en hier vind ‘n mens baie kodes vir die skrywer as voyeur. Hy bestudeer eerder Ford Madox Ford as Pound, want vir laasgenoemde sou hy Chinees benodig.

Hy vind letterkunde minder intimiderend as die wiskunde of  rekenaarwetenskap (“Literature may not be as noble as mathematics, but at least there is nothing about literature that intimidates him”, p. 53).  Die onsekerhede van die jong digter wat ten slotte totaal ontgogel is in sy vermoëns as skywer en minnaar, word met absolute beheersing en distansie vertel. Ironies genoeg, leer die karakter wel later Chinees, omdat hy hy simpatie met die wêreld-struggle het. Sy sieninge oor Viëtnam moet gelees word teen die agtergrond van sy gevoelens oor Suid-Afrika en sy kritiek op die apartheidsbestel.

Dit bly egter ‘n roman waarin die karakter nooit tot rus kan kom nie. Hy probeer dig en ironies genoeg probeer hy Neruda se grootse gedig oor Macchu Picchu met ‘n rekenaar dekodeer. Hy skryf deur middel ‘n rekenaar Neruda-pastiches: met funeste gevolge. Dit is ‘n snaakse, dog onthullende vinjet van die soektog na ‘n eie stem en eie identiteit en werp ‘n belangrike lig op hoe skrywers deur nabootsing tot hul eie reg kom.

Daar is natuurlik ook verwysings na ander skrywers waarin die vernietigende distansie op die self aan bod gekom het: Kafka, Beckett en natuurlik Eliot. Die roman werp ‘n belangrike lig op hoe skrywers hulself modelleer op ander; om juis weer alles te verwerp wat hulle gelees het.

Ook die beskrywing van intieme seksuele ervarings – veral met ‘n maagd – word baie behendig beskryf.  Dit is ‘n baie verliteratuurde teks, maar die verwysings skep nooit afstand nie. Dit verskaf eerder belangrike sleutels vir die leesproses wat ‘n skryfproses word. Die leser besef hier dat daar oor meer as ‘n vervloë jeug geskryf word. Dit is eerder ‘n private blik op die skeppingsdrif, die gevoel van ‘n Romantiese belatedness en ontheemding wat waarskynlik aan die basis van alle groot skryfwerk lê. Waarskynlik smaal die karakter reeds oor hierdie kritiese uitspraak sy belesenheid en selfironie in ag genome.

Toe Flaubert Salambô geskryf het, het hy eindelose navorsing op stukke papier gedoen wat hy nooit gebruik het vir die roman nie. Of slegs ‘n enkele wetenswaardigheid het in die roman beland.  Baie van Coetzee se navorsing staan in die vele tekste wat hy vir sy leser aanbied. Ons lees dus ‘n gekondenseerde stuk navorsing waaruit ander romans sou spruit. In die ontmaagdingstoneel vind ons die ‘ervaring’ of ‘navorsing’ wat jare later sy beslag sou kry in Disgrace.

So sou die leser ook Coetzee se ander magsverhoudinge (tussen baas en slaaf) ‘herken’ in sy uitsprake oor ‘n besoek van sy niggie en haar vriendin aan hom. Hierdie besoek is eweneens ‘n sentrale moment in die uitsprake oor Afrikaans en die verwysing na ‘n vrou uit Malawi as ‘n ‘aia’. Alles word so ondergesteld beskryf dat dit nooit skril of politiek-korrek aandoen nie.

Dit gaan dus vir die vertellende karakter om die soeke na identiteit wat hy pertinent wil lossmaak van Afrikaans en ‘n koloniale werklikheid. Hierin lê In the Heart of the Country opgesluit. Die vertelling is ook in ‘n sirkelgang vertel sodat die nihilistiese slot wil aansluit by die openingstoneel. Die soeke na ‘n ‘stem’ word goed gesinkopeer met die abstrakte wêreld van die rekenaars en wiskunde. Die soeke na vriendskap in ‘n vreemde stad het ook ‘n homo-erotiese aanraking tot gevolg; waarskynlik nie net om die eensaamheid te besweer nie, maar om onbewustelik materiaal vir die digkuns te vind.

Dit is Coetzee se snaaksste roman. Daar is self-spot en humor. Die grens tussen uiterse nihilisme en komedie is immers papierdun: Tsjekof  se Drie susters kan ook as parodie gelees of opgevoer word. Hierom ook die verwysing na die karakter se ervaring van Beckett se Watt as komies!

Youth behoort saam met Boyhood gelees te word. Die veragting vir die vader se drankprobleem en die vrees dat hy so besluiteloos soos die vader sal word, word in hierdie kragtige vertelling besweer. Die agtergrond is Kuba, Sharpville, Viëtnam…

J.M. Coetzee het tereg al tweemaal die Bookerprys verower. Dit kom hom weer toe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

No comments:

Post a Comment