Friday, March 8, 2013

Aryan Kaganof - Hectisch (2001)



Aryan Kaganof. Hectisch. Podium Uitgewery, 2001. ISBN 905759174 X.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman word aangekondig as kort en eksplosief. En dat Kaganof die ‘condition humaine’ van diverse bevolkingsgroepe skerp verwoord. Ons verneem verder dat die outeur afwisselend in  Nederland en Suid-Afrika woonagtig is.

Hectisch probeer om die ‘underbelly’ van die verskoppeling weer te gee en meer spesifiek, die lewe in Seepunt wat ‘n mikrokosmos is van die groter Suid-Afrika. Wat hierdie roman egter interessant maak is dat dit in Nederland verskyn het en dat die outeur ‘n Nederlandse leser in gedagte het. Probleme van representasie, politieke korrektheid, verwagting en dies meer kom dus onbedoeld of bedoeld na vore. Oor die verhouding tussen die moederland en die kolonie is daar al vele tekste geskryf en veral Cixous se boeke oor Algerië en die komplekse ‘nostalgeria’ soos sy dit noem, word ook hier geaktiveer.

Wat gebeur wanneer ‘n storie ‘vertel’ word vir die ‘moederland’ en boonop in Nederlands (deur Dick Tuinder) vertaal word soos Hectisch? Van die boek of outeur wis ek niks en lees dit dus blindelings net as roman met hierdie vrae in die agterkop: wat wil die outeur ‘uitlap’? Ons weet immers algar dat sekere boeke sukses behaal in Nederland omdat dit inval by die politieke patroon wat verteerbaar is, terwyl romans wat komplekser funksioneer, soos Lettie Viljoen s’n, nie die nodige aandag trek nie. Die Afrika-romantiek en die Zoeloe-tromme maak opslae. Die donkerder, komplekse representasies van die wye en droewe land is nie altyd kommersieel suksesvol nie.

Hectisch probeer waarskynlik net te hard om hardegat en aweregs te wees. Dit wil te hard Bukowski napraat. Te duidelik ‘n punt oordra. Miskien is goeie letterkunde in die eerste instansie iets wat die leser onrustig maak, omdat dit vreesloos oortree en aan die kaak stel. Hier is myns insiens te duidelik geskryf vir die gragtegordel. Dis so ‘n opeenstapeling van pseudo-skokkende vinjette dat die leser tevergeefs soek na die plek waar die kledingstuk oopmaak, om Barthes aan te haal uit Die plesier van die teks.

Die prosa is ook te stram.  Fear and loathing in  Las Vegas?

Die dink ek nie. As ‘n representasie van “Slaapstad” met sy verskillende kulture,  politieke gevoelens e.d.m. kom dit eweneens nie uit die verf nie.

Daarvoor wag ‘n mens vir die skop in die maag. Vir die werklike ‘derde ruimte’ waarin die boek nooit inbeweeg nie. Ten spyte van die skeldtaal en die pseudo-skokkende effekte.

We ploffen neer op het balkon met uitzicht op de straat. Sven drinkt Windhoek, homobier als je het mij vraagt, maar hij zweert erbij. Ikzelf ben zwarter dan zwart: Black Label man. We hebben Golda Meir in de kar gelaten, wat normaal geen probleem is, maar nu wordt ze gepest door datzelfde klotekind dat wij zojuist bijna tot moes hadden gereden. Hij tikt op de ruiten, Golda wordt er gek van. De sukkel heeft niet door dat wij hem vanaf het balkon in de gaten houden. ..

Ka-deng.

Het flesje Windhoek spat uit elkaar op de nikker zijn knikker. Hij gaat onmiddellijk down. Zakt in elkaar op de straat. Een vet geluid, bevredigend. Probeer geen geintjes uit te halen met Sven zijn hond. En probeer geen geintjes uit te halen met zijn Land Rover. Probeer gewoon geen geintjes uit te halen met Sven. Punt. p. 13

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]