Ina Rousseau. Die stil middelpunt: ‘n keur, met nuwe
gedigte. Human & Rousseau, 2003. ISBN 07981 4361 4.
Resensent: Joan Hambidge
Jare gelede het die digter en literator
T.T. Cloete verwys na die suinige hand waarmee Ina Rousseau, ‘n
Hertzogpryswenner, gedigte skryf en publiseer. Dit is ‘n digterskap wat netjies
afgeweeg en suiwer is. Daar is geen slordige, oorhaastige gedig in hierdie
klein dog belangrike oeuvre nie.
Heeltemal korrek het Human
& Rousseau ‘n versameling van haar gedigte met ‘n paar nuwe verse sopas
gepubliseer: Die stil middelpunt. ‘n Meer gepaste titel kan ‘n mens nie vind
nie. Rousseau se gedigte is soos Emily Dickinson se verse gedigte van die stil
middelpunt, die epifaniese oomblik. Die ‘toweroomblik’ wat in die alledaagse
skuil soos ‘n eekhoring wat ‘n stuk papier steel of ‘n troebel liefdesverhouding met ‘n
steppewolf wat na baie jare sy beslag kry.
Rousseau is ook ‘n belangrike
kortverhaalskrywer waarin haar digterlike talente uitmuntend na vore kom.
Die suur en soet van die lewe kan sy behendig saamplaas en die verhaal “Wat het
geword van Helena Lem?” is een van my allergunstelingverhale.
Die versameling gedigte word
goed ingelei deur die digter Daniel Hugo wat goed bekend is met haar digkuns. Versamelde gedigte 1954 – 1984 is uit
druk, net soos die afsonderlike bundels. Die gedigte is grondig hersien deur
die digter. Philip Larkin het ook dikwels ou verse in nuwe publikasies hersien
en nuut aangebied. Dit is iets waarmee hierdie leser nie akkoord gaan nie. Die
ouer digter is uiteraard altyd behendiger en vaardiger as die jong digter, maar
daar is myns insiens iets sjarmants aan ‘n rou, eerste gedig van ‘n jong
digter. Gestel Antjie Krog hersien Mannin
of Johann de Lange keer terug na Waterwoestyn?
Dis egter my persoonlike keuse:
stel ‘n versameling saam, maar behou die chronologiese ontwikkeling of
‘veroudering’ van die digterskap.
Die twintig nuwe verse is puik.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]