Jeanne Goosen. ‘n
Paw-paw vir my darling. Kwela, 2002. ISBN 0 7957 0145 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Jeanne Goosen het al by verskeie geleenthede die kontoer
van die Afrikaanse vertelkuns verander. Om
‘n mens na te boots is so ‘n roman.
Die pragtige Ons is nie almal so
nie met sy kindverteller en die feministiese Lou-oond kan aangestip word as besliste bakenverskuiwings in
Afrikaans. Haar jongste en wonderlikste roman heet: ‘n Paw-paw vir my darling.
Goosen is bekend om haar sosiale kommentaar en die
jongste roman is ‘n bytende satiriese klap in die rigting van die die nuwe
Suid-Afrika, die ge-retrenchde Afrikaner wat hom bevind in Damnville. Nie
Pretoria se Danville nie, maar Damnville en hierdie klein letter verskuiwings
(ook van name) speel ‘n spel van kenbaarheid en herkenbaarheid wat die leser op
die beurt laat skater en na die asem snak.
Die sogenaamde ‘vraisemblance’ van die roman word ook op
sy kop gekeer: die leser ‘herken’ werklike persone wat dan karikature word in
‘n ‘larger than life’ opstuur van die ruwe Suid-Afrika. Die boek word eenvoudig
vertel (die fokalisator is immers ‘n hond!), maar onder draai die duiwels van
vernuftige sosiale- en romankommentaar. Dit gooi ‘n ‘paw paw’ in die ‘fan’ van
die Afrikaanse roman wat polities-korrek en slim wil wees. Dit kritiseer daardie
soort roman wat met sy mitologie ‘n ’aanvaarbare’ werklikheid aan die leser
probeer opdring.
Dit probeer nie geleerd-mitologies wees nie; dit is
gewoon vlymskerp in die disseksie van morele en sosiale politiek van die
post-1994 Suid-Afrika. Alles word daarheen herlei, let die hond tereg op. En alles en almal wat word aangevat en
opgestuur.
Die verhaal word boonop vertel uit die perspektief van
die Beeslaers se hond Tsjaka – ‘a free spirit en stud’, in sy eie gedagtes -
wat die manewales van Tango du Toit, die Beeslaers, Elvis en Mabeline weergee
van agter die wawiel-hek. Verder verdwaal ‘n hondjie uit die Oostelike
voorstede van Pretoria, op die koop toe ‘n poedeltjie en so word die wrange
klasseverskille uitgewys. Tsjaka se rus word versteur deur Mignon se binnetrede
in sy lewe en die wete dat hy net soveel kan vat en nie meer nie…(p. 44).
Rapport se
skandaalkultuur en die hele ‘underbelly’ van die kommen Afrikaner word hier
raakgesteek met soveel behendigheid en vaart dat dit leser letterlik in een
sitting die roman wil deurlees. Dis ‘n ‘no name brand’-roman. Ons leef van Loslyf, Frik du Preez- en Jaap
Marais-strate, ‘n Emsie Schoeman-sopkombuis, Lucky Dube, Chicken peri peri,
slap tjips en vetkoekstukke, McDonalds, carpet slippers, bunions, taxis,hijackers,
Charlise Theron en Felisia Mabusa-Suttle! Ook moesies wat weer ‘n bles laat
lewe kry word hier in die mees absurde toneel beskryf. Wat is die naam van die
professor wat die poedeltjie kom red? So far and not further!
Natuurlik is een van die pivotale kwessies huismoles en
die seun, Elvis se verbintenis met ‘n “Indian cherry”. Daar word ook
genderkommentaar gelewer deur Rusty, die middelsuster se gay-verhouding (met ‘n
nurse in Vanderbijlpark) en haar buite-egtelike kind wat sy laat afteken het.
Die humor hier is uiters wrang: Rusty dra size 13 Grashoppers, ‘n
borselkop en werk by Yskor as ‘n hyskraandrywer. As sy ‘n Mini dryf, trap sy
aldrie lepels gelyk in!
Dit wil nie akademies wees nie, en die helder, eerlike
vertelstyl maak dit eg en suiwer. Daar word baie winde opgebreek oor dié wat
dink hulle is “êtie petêtie”; maar ook oor die winde van veranderinge.
My gunstelingkarakter is die skynheilige Soufie wat
agteraf ‘n mond vol het oor die ‘darkies’, maar wat hard probeer om aan te pas
binne die nuwe Suid-Afrika. Sy probeer almal leer van integrasie en
transformasie saam met haar ou man. (En waar gaan sy kerrie kry vir Elvis se
meisie as hy haar nie betyds waarsku nie?) ‘n Tweede gil is Girla van Huis
Herfsblaar, Soufie se ma. Ook die intrige by die Bles Bridges-konsert rondom
die roos, is Goosen-vintage. Die derde gunsteling is ou Huibie Hoëhol!
Afgerond tot in die vesels is hierdie roman. Die boek is
geskryf in samewerking met Deborah Steinmair; ‘n waardevolle erkenning aan ‘n
medewerker.
Dit is ‘n roman wat klein en dig in aanbod is. Maar die
reikwydte is groot. Dit is soos ‘n handgranaat wat land in ‘n wapenfabriek. In
die romankuns doen hierdie roman wat P.G. du Plessis se Siener in die suburbs vir die drama in Afrikaans gedoen het.
Damnville en Inflammasieheuwel sal nooit weer dieselfde
wees nie. Ook nie Dorothy Parker se stelling wat Tsjaka oorneem nie:”Daar is
niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.”
En natuurlik het die pawpaw te make met die genesing van
hardlywigheid. Wat kan ‘n mens ten slotte sê: Jeanne Goosen jou ou doring?
Dit kan as ‘n antwoord gelees word op Marlene van Niekerk
se Triomf. Daar is ongelooflike momente in Goosen se nuwe
roman. Miskien ook omdat sy agter die ligte satiriese hand werklik deernisvolle
momente skep: soos die Seuna-toneel, die verdriet rondom Rusty se afgetekende
kind, die werklike soeke na erkenning by ‘n Bles Bridges-konsert.
Na my eerse lees, het ek onmiddellik weer begin. Diep
onder die indruk van die fyn orkestrasie van elke tema, elke motief.
Jeanne Goosen kan vertel.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]