Friday, March 1, 2013

Lionel Abrahams - Chaos theory of the heart and other poems (2005) | Robert Greig - Rules of Cadence (2005)



Lionel Abrahams. Chaos theory of the heart and other poems. Jacana, 2005. ISBN 1 77009 097 5.


Robert Greig. Rules of Cadence. University of KwaZulu-Natal Press, 2005. ISBN 1 86914 075 3.

Resensent: Joan Hambidge 

Die ‘n bekende digter praat altyd van nalatige eerder as nágelate verse. Dit is volgens hom verse wat ná ‘n digter se dood verskyn, omdat die geliefdes die digter wil vereer. Dikwels is dit verse wat nog nie gereed was vir publikasie nie, of wat die digter self sou uitgegooi het. In die geval van Lionel Abrahams se Chaos theory of the heart and other poems verneem die leser dat ‘n hele afdeling, te wete afdeling vier na die digter se dood in hierdie versameling opgeneem is. En dit was my eerste kennismaking met die bundel, omdat ek altyd ‘n bundel van agter na voor lees; dan van die middel na agter. En uiteindelik chronologies. So kan jy dikwels die (onbewuste) simboliek van die bundel raaklees, of juis, ‘n steek wat die digter per ongeluk laat val het, optel.

Dus, my eerste indruk van hierdie bundel was nie baie positief nie, behalwe vir die baie sterk gedig, “Possible Post Script”, waar die slagoffers van ‘n bom die selfmoordbommer aanspreek:

We claim your gratitude, for we were there.

Die res van die gedigte in hierdie slotafdeling mis fokus en is kletserig.

Die bundel word verder gedra met (onder andere) akkolades van J.M. Coetzee en Nadine Gordimer wat meen :”We will never see his like again”. (Is dit terloops etiket om 'n bundel te loof as daar 'n vers aan jou opgedra word? Ek dink hier aan "Two oblique salutes to Nadine Gordimer")

Miskien had die digter goeie vriendskappe en was hy polities tersaaklik, maar sy gedigte is vir gevoel wydlopig en rommelrig. Dit mis die waansin van die digkuns. En met wydlopig bedoel ek nie lengte nie; Breytenbach, Ezra Pound en vele ander digters het lang verse gepleeg, maar nooit het die leser die gevoel dat die gedig koers verloor nie.

Die handvol kwatryne is beslis meer behaaglik as die uitgesponne, lang verse.  "A note in prosy verse" klink of die digter sy werkswyse probeer verdedig, ironies genoeg. "The customer is wrong again" het my geimponeer om die gesprek met die digkuns.

Rules of cadence van Robert Greig is 'n sterker bundel. Die digter is al bekroon met die gesogte Olive Schreiner-prys en sy gedigte getuig van vakmanskap. Dis net wát hy sê nie, maar ook hoé hy dit sê...

As bekende dramakritikus ontgin hy die wêreld van die teater. Die titel kom uit "Notes for a three-hour speech by Fortinbras" waar die digter kommentaar lewer op die huidige stand van sake:

We wil discover traditional tribal chants
for the people's poets to use when teaching
youth to adroitly unroll condoms
and corporate choirs to hymn the good.
Cadence, not words, will rule and be all.

In die afdeling “Biography of an ordinary man” staan daar werklik uitstekende verse soos “Visiting Mrs Leech” en “The abortion”.  Die sterkste afdeling heet “Cry-babies” waarin die digter daardie besondere eienskap van die digkuns presteer: om die stilte agter woorde op te vang soos in die lieflike “The Japanese wives”.  Ook oor die liefde, verbintenisse met ‘n kind en verbygenade dinge, word trefseker gedig. 

Die digter het dikwels ‘n vars blik op die lewe soos gesien kan word in “The undertaker’s wife” wat werk rondom die ironiese stelling (“business is dead”). Om so ‘n vrou te wees, stel eise waaraan sy nie kan voldoen nie. Háár siening van die lewe word in jukstaposisie geplaas met sy morbiede werk wat hom aantas en op haar ‘n impak het.

Die jaar het darem 'n nuwe I.L. de Villiers, Gilbert Gibson, Rustum Kozain, Arthur Attwell opgelewer, as 'n mens so vinnig nadink oor ónthoubare bundels. Rules of cadence bevat ‘n handvol verse wat ‘n mens raak en getuig van ‘n knap talent. “The affair”, wat handel oor ‘n werksverhouding, registreer die impak van iets wat as ‘n spel begin en uiteindelik abrup eindig. Menslike weerloosheid word in verskeie verse gekarteer:

Haiku

Each day we die from each other:
flesh falling from birds
lying in long rains.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]