Saturday, March 2, 2013

André P. Brink - Voor ek vergeet (2004)



André P. Brink.Voor ek vergeet: roman. Human & Rousseau, 2004. ISBN 0 7981 4431 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Bestekopname van ‘n ouerwordende skrywer. Dis waarskynlik die beste opsomming wat ‘n mens van die jongste Brink-roman, Voor ek vergeet, sou kon skryf. ‘n Skrywer, Chris Minnaar (‘n baie simboliese naam) wat die verskillende vroue wat hom liefgehad het, minder bemin het, geïnspireer en verlaat het, se storie. Soos Donkermaan dan ook intertekstueel verslag lewer van die hele Brink-oeuvre, sou ‘n mens ook met groot vrug die verskillende vroue-figure uit Brink-romans kon plaas neffens elke vrouekarakter in hierdie roman.

Die roman is met ‘n vaart geskryf en nie om dowe neute nie, is een van die opvallendste intertekste die Duisend-en-een nagte. Sjeherazade se nie so bekende suster word vermeld. Die stilte, dit wat agter ‘n vertelling lê; dit is terselfdertyd ook ‘n bestekopname van die werklike skrywer Brink wat besig is met sy eie testament en bestekopname binne die Afrikaanse en buitelandse letterkunde. (Die Arabiese lande word nou ‘n ander werklikheid: ‘n plek wat betree en ontromantiseer word deur die VSA.) Daar is ook ‘n verwysing na die opera Don Giovanni en ‘n veelheid van tersaaklike interekste, soos natuurlik ook Lawrence Durrell wat pertinent Die Ambassadeur weer onder die leser se aandag bring met die uitspraak dat die liefde in wese ‘n metafisiese ondersoek is.

Rachelle, die pas afgestorwe geliefde, is die katalisator vir die terugkeer na die verlede en onder meer word dit ook ‘n ondersoek van die skrywer se verhouding met sy patriargale vader, ‘n prokureur en dié se huigelagtige affaire met ‘n bruin sekretaresse. Die verhaal word hier 1951 gesitueer en op ‘n vernuftige wyse word die hele politieke omwenteling van daardie tyd en die vernederende optrede teen bruin mense onder die loep geneem. (In Barthes se siening van vraisemblance waaier die roman ook verder oop: die werklike outeur se vader was ook ‘n regsgeleerde en die teks problematiseer werklikheid en fiksie nog vérder.)

Boonop beleef Chris ‘n driehoeksverhouding met Rachelle en haar eggenoot, George, ‘n fotograaf. Lacaniaans gelees lewer die roman kommentaar op die insestueuse verhouding wat skryf aktiveer: die spanning tussen die verbeelde en simboliese dimensie en die ewige ontwykende reële. Soos dat ons die geliefde verander in dit wat ons wil hê die geliefde moet wees.

Die skrywende en belydende Chris Minnaar konstateer dat hy net kan skryf as hy verlief is en dat hy ook verlief raak op sy vrouekarakters; ‘n stelling ook bekend aan lesers van Brink-onderhoude. So gelees, doebleer die roman bekende Brink dicta oor fiksie en ondermyn dit terselfdertyd, omdat die teks jou telkens terugneem na ‘n ander teks.

Daar is telkens verhaalbreuke (aangedui met klein naak prentjies van kaal vroue) wat die leser herinner aan Roland Barthes se uitspraak dat die mees erotiese gedeelte in die teks juis daardie oomblik is waar ‘n mens ‘n gaping vind in die kledingstuk (The pleasure of the text). Afgewissel met Minnaar se obsessie met laatnag-TV oor die VSA se invalle in die Midde-Ooste wat hy in sy gedagtes vererotiseer. Seks word dikwels as gewelddadig beskryf (o.a. Isolde se ervaring in ‘n US-koshuis of die verteller se jeugherinnering aan ‘n soort heksesabbat).  Die seksuele as ‘n kortstondige dog durende ervaring, word eweneens by herhaling uitgespel. Vroue word met wyn vergelyk en ook dit verwys na Brink se belangrike studie oor brandewyn.

Net soos die karakter André waarskynlik ‘n speelse verwysing is na die skrywer wat ons ken uit sy verskeie reisbeskrywings van Frankryk (p. 255). Tosca is eweneens ‘n belangrike interteks vir hierdie roman, omdat hierdie opera kommentaar lewer op die spanning tussen die private en die politieke. Hierdie roman lewer deurentyd kommentaar op die outeur se politieke romans en die enorme weerstand wat Brink van die indertydse regering ontlok het. Is dit toeval dat Chris Minnaar in Engels skryf? Wil Brink hiermee ook kommenaar lewer op die eng, Afrikaanse letterkunde? Boonop is sy ou moeder, Mam, ‘n toehoorder wat moet help onthou, ‘n bekende tegniek van die belydenisroman. 

Die verwysings na Bagdad en die VSA maak ook ‘n uiters aktuele stelling oor skryf binne ‘n groter letterkunde; hierdie roman is immers ook vir ‘n internasionale mark bedoel. Die Engelse weergawe het simultaan met hierdie roman verskyn en ‘n Engelse leser se reaksie sou waarskynlik totaal anders wees as die in-leser.  (‘n Engelse kritikus het reeds beswaar aangeteken dat daar te veel vroue is; hy kyk bepaald die Arabiese Nagte en oordrywing mis!) Dit is psigoanalities ook relevant dat sy vroulike hoofkarakter sterf; hopelik nie ‘n afskeid aan die romankuns nie!

Dit moet met groot lof  gesê word dat die skrywer Brink (of is dit dalk sy alter ego, Minnaar?) die storievlak vernuftig laat loop, maar onder draai die intertekstuele en insestueuse duiwels rond vir die speurende letterkundige.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]