Saturday, March 2, 2013

Uys Krige - Die naamlose muse (2002) | J.C. Kannemeyer (Red.).



J.C. Kannemeyer (Red.). Uys Krige: Die naamlose muse. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1919825 78 9.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs het ek die uitgebreide biografie oor Uys Krige met groot plesier gelees. Die goue seun is ‘n voortreflike biografie oor waarskynlik een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. Veral Krige se uitmuntende vertalings het veral ‘n digter soos Pablo Neruda en ander Romaanse digters vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak.

Die biografie wys ook op Krige se laattydige bekroning as digter en in die gebundelde opstelle Die naamlose muse (uitgegee deur Protea Boekehuis) bring J.C. Kannemeyer die digter Krige se letterkundige opstelle bymekaar. Die titel verwys na die ‘afwesige muse’, die ‘naamlose’ een: omdat daar waarskynlik ‘n beskermer vir literêre kritiek bestaan.

Met sy titel, skryf Kannemeyer, wou Krige waarskynlik aandui dat daar wel sprake van ‘n kreatiewe kommentaar op die taal en literatuur kan wees. Kannemeyer wys op die gemaklike woorgebruik en elegante skryfstyl (p. 7). Krige bewys myns insiens wel dat daar ‘n muse bestaan met sy geesdriftige stukke.

Dit spreek vanself dat hierdie versameling tot ‘n beperkte lesersmark sal spreek. Tog is dit nie net tersaaklike leesstof vir die letterkundige kritikus nie, maar is die opstelle ook van historiese belang. Die bundel begin met “’n Brief van Uys Krige aan sy suster Mizzi” (terloops, die interessantste afdeling in die biografie behels die vriendskap met Roy Campbell) geskryf  te Chez Roy Campbell.

Hier gee hy raad vir die voornemende digter en beklemtoon dat ‘n digter soveel moontlik die gedigte van ander digters moet lees ten einde hul ‘metodes’ te begryp. (“Jy sal moet lees en skrywe en lees en skrywe. Daardie pad is maar swaar en steil en opdraend. Maar dis ‘n wonderlike pad, nieteenstaande”, p. 11).

Lanklaas was die skryf van ‘n resensie so ‘n plesierige taak as met die lees van die biografie en Krige-opstelle. Die skandalige onderwaardering van  Krige deur die Akademie is nou reeds immer bekend. Hoe ironies lees die opstel oor Ingrid Jonker nie? Dit is asof Krige ook hier ‘n oordeel oor sy eie digterskap uitspreek: Kom ‘n digter te sterwe, tree hy sy noodlot tegemoet, stap hy deur die enkele feit van sy dood in sy lotsbestemming in, word hy sy eie noodlot. Anders gesê, van daardie oomblik word sy werk – nou ontdaan van al die bykomstighede wat tydens die digter se leeftyd die werk aangekleef het as gevolg van sekere aspekte van sy persoonlikheid of karakter, en ontdaan veral van die bloot tydelike oordeelvellinge van sy tydgenote – ja, vanaf sy dood word sy werk wat dit altyd voortbestem was om te wees: net sy werk, niks minder of niks meer nie”(p. 139).

By die lees van hierdie versameling sjarmante en insigryke opstelle kan ‘n mens sien hoekom Krige se uitsprake (letterkundig en polities) vir die meeste literatore soos ‘n visgraat in die keel gesteek het. Hy spreek man en perd aan wanneer hy dit het oor die dorre taalgebruik van literatore, hul oor- en onderskatting van skrywers. Hy troef bedenklik parogiale oordele met sy kennis van die wyer letterkunde en sy kennis van verskeie ander tale.

Hy is polemies in die oorspronklike sin van die woord en elke uitspraak word met soveel ekstase aan sy leser oorgedra. Hy raak nooit pedanties nie, maar hy dra onbekende inligting met sorg aan sy leser oor, of dit nou oor taalkwessies is (soos voëlname) of die lewe en werk van  ‘n buitelandse digter.  Hy is krities oor mede-digters, maar hy gee ook raad en lewer konstruktiewe kritiek. Hy gee ‘n goeie lesing van Ousus.

My gunsteling essay is die een oor Pablo Neruda, wat ‘n mens graag meer uitgebreid sou sien, juis omdat Krige se Spaans-Amerikaanse vertalings behoort tot die voortreflikste vertalings in Afrikaans. Sy vriendskap met Roy Campbell word nie ‘n belemmering nie, maar bied eerder interessante sleutels tot die begryp van hierdie digter van die “bloody horse”.

Boerneef en Van Melle kon hy presies inskat en opnuut is die leser bewus van sy enorme kennis van ander letterkundes wat nie blote vertoon is nie, maar insigryke perspektiewe bied op die werk van ‘n skrywer wat dikwels nie deur sy tyd na waarde geag word nie.

Mary Morison Webster se gedig (“Illi morituri”, p. 133) word behendig gelees (“They do not care, the dying, whether it be dawn or / Dusk or daylight full and clear”) en die beginsels van die vrye vers vir elke voornemende en praktiserende digter goed verduidelik.

Terloops: dit is Dickinson, nie Dickenson (p. 135) nie!

Protea Boekehuis bied ‘n mooi versorgde versameling met ‘n besondere mooi voorblad: “The Open Window” van sy broer François Krige. Letterkundige kritiek hoef nie swaartillend en onleesbaar te wees nie; nee, dit kan leersaam, opwindend en toeganklik aangebied word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]