Thursday, March 7, 2013

Nadine Gordimer - Loot (2003)



Nadine Gordimer. Loot. David Philip, 2003. ISBN  0 86486 632 1.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Nuwe versameling fiksies, soos die skutblad dan aantoon van Nadine Gordimer, is uiteenlopend en insigryk in aanslag. Gordimer het veral aansien bereik as ‘n skrywer wat die politieke ondeugde van die land beskryf, maar terselfdertyd  ook ‘n skerp analis van menslike verhoudinge is. In die verhaal “Karma” word die opeenvolgende fases van ‘n lewe se deugde en ondeugde behandel. Soos die woord uit die Sanskrit dan bedui: ‘n mens se lot word bepaal deur jou dade.

‘n Oënskynlik onskuldige inleiding van hoe iemand se soeke na status tot gevolg het dat hy ‘n eiendom besit wat effens bo sy vermoë is wat dan tot ander probleme sal aanleiding gee.  En ook hoe ambisie ons lotgevalle bepaal. Baie vernuftig is een man geplaas in versekering: om mense teen lotgevalle te verseker en te beskerm teen ander se grypsug.  En teen die noodlot.

‘n Mens sou kon aanvoer dat Gordimer die politiek as ‘n soort ‘back-drop’ gebruik waarteen sy universele lotgevalle laat afspeel, behalwe dat die politiek in hierdie land eiesoortig en ontwrigtend inwerk op die keuses van mense.  Die politiek-sosiale opset kan dus by voorbaat ‘n keuse blokkeer.  ‘n Mens se politieke ‘verlede’ en ervarings word dan ook jou lot, soos dikwels by Gordimer leer (o.a. July’s People).

Waarin hierdie verhale uitmunt is sub-teks. Daardie onuitgesproke ‘boodskappe’ wat tussen mense draal. Of dit nou ‘n ouer pa is wat sy vrou versaak om ‘n nuwe minnares in te neem (wat hom op haar beurt versaak) of  ‘n vrou wat in die diplomatieke opset ‘n kultuur-vreemde verhouding begin, is die verhale gelade. Met kultuurkodes, sosiale voorskrifte, leuens, implikasies (die man hoor aan sy minnares se stem dat sy iemand anders sien in ‘n vreemde land).

Die kort-kortverhaal is ook hier aanwesig en in die skitterende “Homage” kry die leser ‘n blik op die psige van die koppesneller. Iemand buite grense, verplaas, op pad wat gehuur word om ‘n regering se vuilwerk te doen. Die verhaal word opsetlik vaag geplaas sodat dit universele waarde kry: dit is die lot van elke huurling geteister deur sy paranoia en altyd op vlug. Die storie is besonder goed gekomponeer: elke motief uitgewerk, bykans soos in ‘n gedig.

Waarskynlik wil hierdie verhaal ook aan haar kritici bewys dat sy nie net oor die lokale kan skryf nie.

Loot is ‘n uiteenlopende versameling kortverhale, kort-kortverhale en een lang verhaal (“Karma”).  In vele verhale word die skrywer se funksie direk aangespreek soos in die aangrypende “Visiting George” waar ‘n pynlike ervaring net sin maak omdat dit verwoord kan word. “Look-alikes” weer takel die hier-en-nou: werkloosheid, armoede, bergies wat hul tuis maak op ‘n kampus en die dilemma wat dit tot gevolg het.

In al die verhale – in ‘n mindere of meerdere mate – is daar karmatiese wette te bespeur. Die boek is dan ook spiritueel, omdat daar ‘n onderliggende boodskap van dit wat jy saai, sal maai dra. Ook al word dit verironiseer: die malariamuskiet is nie die “Reaper with the scythe’ nie, maar sy “emissary, Anopheles”.

Dit is ‘n pakkende leeservaring en ‘n versameling vol verrassings, wendinge, en veral: nuanses. Die prosa is spaarsamig, gedronge en hierom treffend.

Dit is asof sy die besware van haar kritici, dat sy te sterk op die boodskap leun en haar karakters stereotipeer, hier wil verkeerd bewys. Dit kos R175, maar die 240 bladsye kan beslis herlees word.

Hierdie versameling is naas The Conservationist my gunsteling-teks van ons Nobelpryswenner.  

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]