Wednesday, March 6, 2013

Michael Chapman - Southern African Literatures (2003)



Michael Chapman. Southern African Literatures. University of KwaZulu-Natal Press, 2003. ISBN 1 86914 -28 1.

Resensent: Joan Hambidge

Teenoor die ouer literatuurgeskiedskrywing wat die bepaalde letterkunde se geskiedenis en polemieke en strominge weergee (soos Dekker en Kannemeyer in Afrikaans) staan Chapman se nuwe benadering: multi-kultureel. In plaas van ‘n letterkunde eerder dan Suider-Afrikaanse letterkunde. Alles goed en wel, maar wie is werklik genoegsaam ingelig om die verskillende SA letterkundes se ontstaan of tradisies na behore weer te gee?

Michael Chapman is in die verlede gestriem vir sy praktyk. Van ons voorste Afrikaanse teoretici het beswaar gemaak teen sy oorsigte. Trouens, sy onlangse versameling van SA-digters is eweneens aanvegbaar in sy groeperinge, opsommings en uitlatings. Digters wat vertaal of bekend is, geniet voorrang bo die minder bekendes.

In my bespreking gaan ek dus net let op dit waarvan ek iets weet, naamlik die Afrikaanse letterkunde. En nou is dit maar eenmaal so: as jy nie ‘n samesteller kan vertrou op die gebied bekend aan jou nie, hoe kan jy hom met ander oorsigte laat voortgaan? Is dit nie miskien raadsaam om verskillende kenners/outeurs aan te stel, in plaas daarvan om pa te staan vir een groot oorsig vol hiate?

Die volgende stellings/uitsprake vra om hersiening of is gewoon aanvegbaar:
*    die skamele bio oor Karel Schoeman
*    ditto, die skamele informasie oor Leroux;
*    ditto, die verkeerde informasie oor Eybers. Daar is ook etlike van haar gedigte
      deur die digter self vertaal;
*    Lady Anne is tog nie oorspronklik in Kaapstad uitgegee nie?;
*    N.P. van Wyk Louw se Opstelle oor ons ouer digters word ouer ‘over’;
*    die hele geslag ‘grensskrywers’ is ook nie hier te vinde nie.

Begin ‘n mens die studie met ‘n spreekwoordelike luiskammetjie benader, is daar nog meer groteske en in-die-oog-springende vergrype.  Ons lees byvoorbeeld dat Brink se ‘struggle’-tekste “are too easily swallowed into the text of an erotic escapade”(p. 405). Dit is nie waar van al die tekste van Brink in hierdie periode nie. Oor Schoeman word daar ook onbevredigend geargumenteer: van wanneer af is ‘n skrywer se biografiese of ander werk sommer ‘n sleutel tot sy romankuns? J.M. Coetzee se persoonlike lewe en ‘n verlies verduidelik sy ‘powerful meditation’ oor oudword en dood! Dit is werklik ‘n uiters simplistiese gelykstelling.

Hierdie studie word ‘n oefening in onbehaaglikheid. Die leser besef gaandeweg dat die samesteller te veel inligting wou uitstal sonder dat dit in diepte ondersoek is of werklik goed deurdink word. So gesien, word die hele boek ‘n ‘liquorice all sorts’.

“If the challenge is artistic, it is also of course societal” (p. 407) is die soort van veralgemenings wat op die leser losgelaat word.  Dit is waarskynlik een van die probleme wat onstaan wanneer ‘n skrywer alles binne ‘n keurslyf van vooropgestelde idees of veralgemenings wil laat inpas.

So word daar sommer gespring van Jeremy Cronin na Krog na Jeanne Goosen in een swiepslag wat enige subtiele verskil negeer. ‘n Mens kan net die kop skud oor sy arrogante uitspraak dat Lady Anne geen ‘anxiety of influence’ verraai en geen verwysing na die Dertigers, die modernisme, openbaar nie (p. 416) Òf hy verstaan Harold Bloom sleg (wat onder meer meen dat die verhulling of wegskryf van die interteks ook tersaaklik is) òf hy maak ‘n grap. En dis hierdie slordige soort teoretisering wat my die keel uithang: dis clap trap Marxisme, vrot dekonstruksie en halfgebakte paradigma-teorie waarteen ‘n mens moet vaslees.

My rooi pen het geloei asof dit ‘n werkstuk is van ‘n student wat niks regtig begryp nie en versoek sal word om die hele essay oor te skryf.  Hoe dan anders as ‘n mens feminisme (in plaas van feminismes) onder een noemer plaas met kinderliteratuur, en die sogenaamde ‘indigenised intellectual” (p. 417).

Hoe kan ek hierdie outeur vertrou met Xhosa of Afrika-letterkunde is die foute oor my letterkunde so potsierlik en blatant is? My kollega, kenner in Afrika-letterkunde, was eweneens gesteurd oor die foute, mistastinge en veralgemenings.

Michael Chapman is haas besig om sy reputasie as letterkundige ernstig aan te tas met hierdie ambisieuse, ondeurdagte oorsigte wat vir die leser van ‘n bepaalde letterkunde uiters problematies en kontensieus is. Die mini-kongres indertyd by Unisa waar bekende akademici Chapman gekritiseer het, het kennelik nie vrugte afgewerp nie. As hy navorsers aangestel het, moet hy hulle subiet in die pad steek.

As Komparatisme is die nuwe modeverskynsel is, dan moet dit met groter kundigheid benader word. Southern African Literatures ‘n bydrae of skande? Besluit self. Om die leser ook van die kwaadwillige persoonlike aanvalle in te lig en dat die vorige uitgawe die gesogte Bill Venter-toekenning verower het, kon my nie oortuig nie. ‘n Langer bespreking van hierdie studie sal elders verskyn.

Wanneer ‘n resensie ‘n fundamentele herskrywing word, is daar werklik ernstige fout te vind met ‘n boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]