Marlene van Niekerk. Agaat. Tafelberg Uitgewers, 2004. ISBN 0 -624-04206-5.
Resensent: Joan Hambidge
Daar is groot gewag gemaak van Marlene van Niekerk se Agaat. Die publisiteitsmasjinerie
presenteer hierdie lywige roman as wêreldletterkunde. In die skrywer se
insigryke resensies blyk onder meer haar kennis van tekste soos van skrywers W.G.
Sebald en J.M. Coetzee met hul vermenging van geskiedenis en fiksie. Die roman
is besonder ambisieus in opset: Karel Schoeman se Hierdie lewe word ‘n opsetlike of opvallende interteks en die
verskillende dimensies van vertel word spieëls van een opset na ‘n ander. ‘n
Meta-gegewe dus, maar meer nog: ‘n weefwerk soos die motto’s uit ou
kultuurtekste ons wil rig.
‘n Vroueskrywer wat inbeweeg in die ruimte van die
oermanlike domein, te wete die plaasroman. Dit is in die eerste en laaste
instansie ‘n roman oor identiteit, ras en klas. Iemand wat praat deur ‘n ander:
herinnering, dagboeke met die bekende gegewe van die stemlose, bruin Agaat, wat
interpreteer namens die bedleênde, sterwende matriarg wat ook in die
tweedepersoon na haarself verwys. Patriargie of androsentriese outoriteit word
ondermyn deur vroulike bewussyn of interpretasie. Ook die ‘bediende’, of Ander,
wat konvensioneel stemloos is, word nou stem gegee.
In sy wydopgesette aanbod
is hierdie roman indrukwekkend. Dit is ‘n ‘wye en droewe land’ wat geskilder
word, maar met ‘n intiem-vroulike aanbod as gegewe. Die leser word deurgaans
herinner dat sy besig is om ‘n letterkundige roman te lees en dit is ‘n grootse
opset wat voor ons ontvou. Met al die drade wat so ‘n imposante weefwerk
impliseer. Om te praat namens ander
of die aanwending van die alter ego of buikspreker is bekende tegnieke van die
belydenisroman. Verskillende ‘ekke’: die seun, die moeder (toe en nou), die
bediende. Agter dit alles staan die ouktoriale instansie wat kommentaar lewer op
menslike verhoudings in ‘n gekwelde land waar (eiendoms)besit enorme
implikasies het. Ons leef en lees téén die agtergrond van verdrukking,
hersonering en ‘n nuwe grypsug. Ingebed teen die geskiedenis kry die roman ook
‘n groter reikwydte.
Daar is enorme navorsing gedoen oor onder meer: beeste se
siektes, hekelwerk en die alledaagse bestaan op ‘n plaas. Ek verbeel my dat vir
die eerste keer is sedert C.M. van den Heever dat ons werklik kan sién en
ervaar wat dit behels om te boer en dit is ironies dat ‘n vroueskrywer hierdie
domein óópskryf. Die geboorte van ‘n kind word in grieselige besonderhede
geteken en ingevoerde beeste word danksy Agaat se reddingspoging van ‘n vrekte
gered – maar met die ironie dat Jak, die ou patriarg weier om háár erkenning te
gee.
‘n Ontmaagdingstoneel, seksuele opwinding, bedlêendheid, ensomeer, word
pakkend en konkreet aan die leser voorgestel. Deurgaans hoor die leser die
poëtiese stem van die implisiete outeur wat met nostalgie en deernis ‘n wêreld
skets waarin, ek meen, die hele patriargale en rasse-domein van hierdie land
selde só skrynend onder die loep geneem is. Die hele santekraam van
hallelujaliedere, boereverwysings, skunnighede, bygelowe (die bloed in Milla,
die hoofkarakter se mond) beeld ‘n wêreld
sonder huiwering òf vrees uit.
Die verhouding en wisselwerking tussen Milla en Agaat is
die spil waarom hierdie vertelling draai. In weefterme is Jakkie, Jak en al die
ander figure omboorsels. Vir my gevoel is die politieke ‘oplossing’ wat onder
meer aan die seun se optrede gegee word vir hierdie leser die catch-22 van ‘n gevoel dat dit in wese
die roman se drakrag verswak. Maar dit word ook die uitkoms van die roman: daar
moet ‘n storie vertel word en die implikasies van die verbintenis tussen Milla
en Agaat moet uitgewerk word. Die poëtiese, bykans inkantatiewe gesprekke tussen
hulle mesmeriseer die leser in só ‘n mate dat die realiteitsoplossings waarna
die skrywer moes soek, die impak verminder. Maar dis ‘n persoonlike
kanttekening want die leser se “suspension of disbelief” word nogal beproef:
sou Agaat werklik al hierdie woorde, liedjies, toespelings ken? Maar in die
roman is die verklaring ingebed: sy is ‘gered’ deur Milla en hierom word sy
Milla se alter ego, deur haar opgevoed en nie om dowe neute nie, is sy ook haar
skadukant. Die verwysings na vlinder en vlermuis (met Milla wat bloed proe)
artikuleer ook hierdie Jungiaanse opposisie in die roman.
Agaat, die goeie se
slotmonoloog vra vir ‘n saamlees met Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves: ‘n primordiale
verkenning van vrouwees in beduidende argtetipes. Die beskrywing van hoé Milla vir die jong Agaat ontdek, is
waarskynlik een van die menslikste en ontroerendste passasies wat ek ken.
Emosionele en psigiese pyn word
meedoënloos onthul: hoe MooiJak sy vrou afknou, hoe sy op haar beurt
hierop reageer.
Die boek is in ‘n sirkelgang geskryf met ‘n aanhoudende
terugbeweeg na die kern van alle verhoudings waarin manipulasie en wreedheid
die dinamika word. Hierom die verwysing na spieëls met Agaat en (Ka)Milla wat
mekaar se psiges voortdurend opvang en hul ellende en insigte na die leser
terugkaats. C.M. van den Heever se Laat
vrugte word ook geresoneer in die verhouding tussen vader en seun. En die
beskrywing van ‘n lugmag-okkasie word oortuigend gedoen, met die vader wat
telkemale sy teleurstelling oor sy seun uithaal op sy vrou en haar huishulp.
Daar is glo gemeen dat die skrywer moes snoei aan
herhalende, selfkoesterende passasies; ek verskil hiervan, want die roman trek
jou in en ‘toor’ jou. Estés se verklarings van die cantadora of storieverteller, kan egter hier handig gebruik word.
Party lesers meen die opset is te groot vir ‘n jong skrywer, maar vir my gevoel
is dit dalk nie ‘n Sebald of ‘n Schoeman nie, maar nietemin ‘n enorme
prestasie. Die hulde rondom Triomf
het hierdie leser nie gedeel nie, maar Agaat
is ‘n belangrike bydrae tot en grensverskuiwing binne die Afrikaanse prosa.
Veral om die deeglike ontginning van die plaasroman, boonop deur ‘n vrou.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]