Friday, March 1, 2013

I.L. de Villiers - Jerusalem tot Johannesburg (2005)



I.L. de Villiers. Jerusalem tot Johannesburg. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN 0 634 04341 X.

Resensent: Joan Hambidge

I.L. de Villiers is ‘n besonderse digter in Afrikaans. Hy dig, soos sy voorgangers, Totius en Sheila Cussons, oor die religieuse dimensie. Op ‘n konkrete wyse versoen hy die metafisiese en aardse, die kenmerkende paradoks van hierdie besinnende vers. Dit bly nie net by praat, wonder of filosofeer nie, maar dit word ‘n belangrike ervaring van die lewe se wonders, ontnugteringe en natuurlik, die dood. 

Reeds die titel Jerusalem tot Johannesburg, vang iets op van die paradoks in sy digkuns: van behoort tot sowel die religieuse as die aardse. In 1981 is sy werk met die Credo-prys bekroon en De Villiers is ‘n digter wat imponeer, veral met hierdie bundel waarin ons blyke vind van ‘n vakman wat knap met tegniese middele omgaan, soos halfryme, woordspelings en vorme (soos o.a. die moeilike distigon).

Die openingsgedig “Gouepoort Jerusalem” wys op die spanning tussen verskillende godsdienste en oorlog:

Die roep van imams raas ‘n swerm spreeus op.
Vier vaalgroen tenks rusper verby die poort, en stop.

Die huidige politieke ongerymdhede word verwoord in die ironiese “Klein ballade van Oom Dawid Liefie-hulle”. Die nostalgiese aanslag, kenmerkend van die digter, word in “My straat” verbeeld waar die digter besef:

My straat, jy’s aards en heilig, maak my bang.
Ek is van ruimtes, iewers, en verlang.

In die tweede afdeling word die ervaring van Johannesburg beskryf: enersyds nostalgies, waarderend; andersyds afwysend met die verwysings na die mens se ervaring van die droogte en hoe plante verlep in hierdie genadelose hitte waar, ironies genoeg, net die stapelia uit Afrika kan oorleef. Die blomme – soos beskryf in “Stadsdroogte” met Totius se Trekkerswee as interteks – vergestalt die mens se onbehae met ‘n lewe wat uitmergel en beproef.

Die wêreld is beslis ons woning nie, word daar saam met Totius gepraat in ‘n bundel waarin die melancholiese aanslag ook opval. In hierdie verband is die lykdigte in die bundel pynlik: die uitkenning van ‘n lyk en die vraag na hoekom Anne Fitzgerald Jones in Wallis gsterf het aan ‘n gebroke hart, som sy mymerende toon op. “Graf in Wallis” praat met o.a. Dylan Thomas saam en herskep iemand se lewe deur ‘n gedig oor die persoon, selfs onbekend, te maak. 

By die begrafnis van Cussons het hierdie digter as predikant opgetree en dis dan duidelik hoe waarderend hy was vir haar werk en op ‘n speelse wyse is daar ‘n vlieg wat oor sy boek loop! Die gesprek met Cussons se gedig word uitgebrei in ‘n ander vers waar hy vra dat die geliefde digter, wie se eensaamheid hy so begeer het, veilig by God sal aankom.

Die aktuele laat die digter ironies en sinies reageer: in “Hierdie huis” en “Vreemdelinge verby Highveld, Londen” wys op hoe pynlik ontheemding is vir mense wat steeds verbonde bly aan die Afrikaanse kultuur en leefwyse. Behalwe Totius en Cussons (o.a die gesprek tussen Abélard en Héloise!) se aanwesigheid, is daar verwysings na Olga Kirsch:

Hoe het dit skielik laat geword?

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

‘n Gedig soos “Op die berg” aktiveer Kirsch se voortreflike ervaring van stilte en verlange.
In “Blitsbesoek” neem die digter afskeid van die dorp en sy eie verlede; dit word ‘n pynlike kartering van hoé die verlede aan ‘n mens knaag en jou vorm tot wie jy is. Dat jy dit ironies genoeg nooit kan ontglip nie. Hierom, waarskynlik, wil die gelouterde mens eenvoudig sterf, sonder gebaar. Net met ‘n Bybel op sy bors soos ‘n hawelose...

Daar is voortreflike satires (soos die klein reeksie oor Afrikaans), ‘n speelse analise van die oud-redakteur in gesprek met skilders en ‘n prag-vers oor ‘n dominee wat ‘n (half)-Chinese kind doop en bewus word van die goddelike...

Dit spreek vanself: dit is ‘n puik bundel waarin die lewe in al sy fasette helder en oortuigend verwoord word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]