Sarina Dönges. In die tyd van uile. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 186919 046 7.
Resensent: Joan Hambidge
Sarina Dönges lewer ‘n trefseker debuut,
waarskynlik omdat sy vir jarelank gepubliseer het in Tydskrif vir
Letterkunde. Die bundel bevat pragtige
gedigte oor die liefde en die dood, oor figure soos Helen Martins van die
Uilhuis en gesprekke met bekendes en gedigte oor beroemdes (o.a. “Surviving
Picasso”).
In hierdie verband is die slotvers “Briewe
aan ‘n jong digter” waarin Rilke raadgee vir Kappus, ‘n sleutelvers vir hierdie
bundel: dat die digkuns net bestaansreg het, as dit ervaar word as ‘n
noodwendigheid. Meesal is hierdie obsessie te bespeur wanneer daar
kompromisloos gedig word oor ‘n afgelope verhouding.
Ander kere is die onderwerp nog té groot vir
die digter en word die lewenswysheid wat opgedis word, nie genoegsaam deur die
struktuur van die gedig gedra nie, soos “My arme susters”. In “Ekspressionis” lees ons “op die
skilderdoek / van my onderbewussyn / word begeertes uitgekwas” wat laf opklink,
veral as ‘n mens besef dat dit om die ander kwas handel.
Te dikwels word daar gedig met ‘n verhewe aanslag of is gewoon studentikoos
soos “Konklusie” (“proefkonyne van ‘n Kosmiese Sadis” – I ask you). Maar
wanneer Dönges wél die gedig laat reg afloop, is dit ‘n genoeglike ervaring. In
hierdie verband: “Brief aan God, Hoogleraar in pyn- en letselkunde”,
“Winterskap”, “Die digter as regisseur”,
“Uitrusting”, “Medea”, “By daardie maaltyd” en “Briewe aan ‘n jong digter.
Hoewel dit ‘n gawe debuut is, wonder ‘n
mens nie of die digter eerder moes publiseer nie? ‘n Digter kan soms te lank wag met ‘n debuut.
Nietemin sien ons uit na ‘n volgende bundel.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Insig geplaas.]