Friday, March 8, 2013

ronel nel - en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark (2002)



ronel nel. en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark. Protea Boekehuis, 2002. ISBN  1919825 91 6.

Resensent: Joan Hambidge

Gert Vlok Nel se debuut as digter binne die Afrikaanse letterkunde het ‘n andersoortige vers in Afrikaans ingedra: pratend, gemaak-onintellektueel met die duidelike gesprek o.a. met Van Wyk Louw. Hierna het hy sy digterskap agtergelaat en eerder begin ‘songs’ skryf en sy status as kultusskrywer is oorbekend. 

So ‘n suksesvolle manier-van-doen sal dan altyd vra om nabootsers en selde is die “second-run” so goed as die oorspronklike digter. Natuurlik kan dit interessant wees binne ‘n digkuns: die gesprek tussen Johann de Lange en N.P. van Wyk Louw; Henning Pieterse en Seamus Heaney;  Uys Krige en Lorca…

Die basiese beswaar teen (en die here het foto’s geneem oor vaderbijlpark) is dat dit dieselfde aanslag as gert vlok nel het. Dus het ons twee nelle hier, maar die vergelyking vir die tweede skrywer val sleg uit. Die gedigte word niks meer as pastiche of sentimentele gesnik nie. Selfs ‘n songboek, vir die rekord, moet steeds digterlik behaag. Ons dink hier aan Leonard Cohen en die Beatles.

Ons het dus hier te doen met twee Nelle, maar ronel nel (met kleinletters) staan nog te veel in Gert Vlok Nel se skadu. Sy kry dit nie reg om te troef en "slim" te antwoord nie.

Ook wanneer nel op bl. 63, 65 en 73 op intertekstuele wyse direk met Ingrid Jonker se verse oor die liefde in gesprek tree, steek sy baie sleg af en bring sy niks nuuts of anders by nie. Vergelyk verder die wyse waarop Johann de Lange se "Laatherfs" teen "Vroegherfs" inpraat met die wyse waarop dit hier op bl. 27 'n blote naamgooi-vers word.

ronel nel gebruik dieselfde spel as Gert Vlok Nel: kleinletters, aweregse verwysings, ironiese wendings, Engelse taalgebruik, gemaak onkundigheid. Maar hierdie soort gedig (waarin Allen Ginsberg uitgeblink het) moet juis in sy vormloosheid iets anders kry om beheer te hou. Hier gly die spaghetti sommer uit die bord. (restaurantnota) is byvoorbeeld niks meer as 'n skooljaarblad-gedig nie: 


als is op die koffie
als is omgekeer
die rose bloei blou
die pad kry seer
die dag kwyn donker
die nag het kleur
en ek,
ek is al weer verweer

(p. 89)

Die gedig op bl. 87 is erbarmlik in die blootstelling - en wie gebruik nog, behalwe in 'n hygroman, die beeld "vlam van jou liefde"? Ook " 'n liggaam hierdie malse drange" (bl. 86) is 'n beeld wat Tryna du Toit miskien sou inspan. Onthoubare verse is (vir bill gates) en die h&rgedig.

Soms is die banale ook daar, soos "dier en mens en siel en piel vlees en gees" (bl. 64), wat die verse nogal studentikoos maak. Die banale is natuurlik nie op sigself verkeerd nie - mits jy kragtig kan dig en met taal kan speel (dit het De Lange en Antjie Krog bewys).

Dit is 'n bundel van seerkry en verlange, maar daar is baie kreatiewe insette wat nog nie genoegsaam tot die digkuns verhef is nie. 'n Oortreding van digterlike konvensie beteken dat jy ten eerste die konvensie moet ken; dat jy in Frost se terme tennis speel sonder 'n net.

Dit is jammer dat Protea, wat 'n reputasie aan die opbou is as 'n verantwoordelike en goeie uitgewer, nie eerder hierdie bundel afgekeur het nie. Die digter word 'n onguns bewys, want met meer tyd kon sy die invloede anders en beter verwerk het.

Dit gaan moeilik wees om hierdie debuut te onthou. En vir die digter om dit te vergeet.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]