Wednesday, March 6, 2013

Petrovna Metelerkamp (e.a.) - Ingrid Jonker: Beeld van ‘n digterlewe (2003)



Petrovna Metelerkamp (e.a.). Ingrid Jonker: Beeld van ‘n digterlewe. Hemel & See Uitgewers, 2003. ISBN 978-0620285353.

Resensent: Joan Hambidge

Die “geval” Ingrid Jonker herinner sterk aan die digterslewe van Sylvia Plath. Telkens kom nuwe inligting na vore, word die kaleidoskoop anders gedraai of aangebied. Toe Plath selfmoord gepleeg het, was sy die verontregte, die ingedoende, die slagoffer. Maar met verloop van tyd het verskeie biografieë en ook die laaste digbundel van haar eggenoot, Ted Hughes (The Birthday letters) ‘n korrektief gebring op die komplekse lewe van Plath.

Elke storie het twee kante. Elke mens is ‘n komplekse wese met ‘n jin en jang-kant. In die geval van ‘n persoon wat selfmoord pleeg en deur die media tot kultusfiguur verhef word, is dit des te meer moeilik om die persoon eensydig voor te stel.  Die digterskap van Jonker is volgens die digter en akademikus Johan van Wyk in sy doktorale proefskrif (Die dood, die minnaar en die oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks met Brink as promotor) eerder die grafskrif van Jonker: die geboorte tot die dood. ‘n Mens kan nie die gedigte ‘objektief’ of ‘skoon’ lees nie. Die lotgevalle, die persoon, die temperament, die tragiek speel in en verhef hulle digterskap tot iets meer as wat dit waarskynlik bedoel was. Maar wie weet werklik. Miskien was dit juis die bedoeling om ons te herinner aan die kortstondigheid van die lewe en dat nie alle mense opgewasse is teen afwysing en ambivalensie nie.

Beide Jonker en Plath had komplekse verhoudings met hul vaders waarvan hulle nooit herstel het nie. Beide se gedigte is ‘n soeke na die vader, die verwyt dat hy hulle verlaat het. Jonker se vader het in haar in die openbaar negeer. Plath se vader het deur sy vroeë dood sy kind verwond. Vrouens met komplekse vaderfiksasies is gewoon ontmoontlike minnaresse weens hierdie vertroebelde verhouding. 

‘n Mens vra jouself af: is daar nog iets te skryf, te sê oor Ingrid Jonker?   Janet Malcolm het met haar biografie, The silent woman, waarskynlik die model geskep vir so ‘n komplekse onderwerp: alles bly interpretasies en hierom is die figuur Plath in doeke toegedraai op die voorblad. Daar is nie een interpretasie nie, net verskillendes.

Daar is talle interessante feite in die boek te lees. Soos dat daar mense is wat dink die vader was nie so naar as wat ons dink nie en dat dit eintlik deur die pers opgetrommel is. Ook tersaaklik dat daar die mite bestaan het dat Orgie haar dagboek was en nie Brink se roman nie. Ons hoor dat Brink en Jack Cope maar altyd ‘n troebele verhouding met mekaar had en dat laasgenoemde een aand by ‘n partytjie gegil het dat Ingrid Jonker aan hom behoort.

Metelerkamp se biografie of studie bevat onbekende en bekende inligting. Waarnemings, stories, mites, legendes, maar sy kom nie tot ‘n interpretasie nie. Jy moet self besluit watter roete jy gaan inslaan. Dit het natuurlik sy voordele om met soveel inligting te sit. Vir my sou die Malcolm-roete meer aanvaarbaar gewees het: om tog tot ordening te kom.
Vir dosente en studente, veral gaan dit ‘n handige boek wees.

‘n Ruk terug gaan kyk ek weer na Francis Ford Coppola se Apocalypse now: director’s cut.

Is dit bedoeld dat ons vir een oomblik die regisseur sien wat vir Martin Sheen gil, moenie na my kyk nie, kyk na die kamera?

Vir my gevoel is die biograaf of eerder samesteller hier te afwesig. Daar moes miskien  ‘n storielyn gewees het. Of voel sy soos Coppola? Moenie na my kyk nie, kyk na Jonker?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]