Friday, March 8, 2013

John Murray - A few short notes on tropical butterflies (2003)



John Murray. A few short notes on tropical butterflies. Viking, 2003. ISBN 0 670 9 13480.

Resensent: Joan Hambidge

Net nadat ek hierdie verstommende versameling kortverhale klaargelees het, val my oog op die klein skrywersbiografie voorin die boek: John Murray is ‘n dokter, gebore in  Australië wat ‘n Iowa skryfskursus voltooi het. Ons verneem ook dat Joyce Carol Oates die titelverhaal opgeneem het in ‘n versameling, Best New American voices. Tans woon die skrywer in die VSA.

Daar is dus met’n spreekwoordelike ‘skoon oog’ na hierdie versameling gekyk en my oordeel van die skrywer se tematiek kon ook nie beïnvloed word deur hierdie voorkennis nie. Inteendeel.

Dit is verhale wat gaan om die wetenskaplike presisie, ordening tenoor die waansin van die primordiale insig. Die sjirurg wat skielik – vir ‘n paar sekondes aan die slaap raak – en agterna besef dat hierdie oomblik iemand se lewe kon kos. Die vrou wat in Indië met siekes werk en skielik, vanweë haar half-Indiese afkoms – haar lewensmaat ontmoet.

Daar word dikwels teruggekeer na a ‘n bepaalde oomblik/insig/wete. Dus nie liniêre vertellinge nie, maar eerder ‘n soort sirkelgang van assosiasies, waarnemings. Sy karakters is dikwels randfigure, ‘displaced’ maar buitengewoon begaafd in hul waarneming en insigte.

“Acts of Memory, Wisdom of Man” is ‘n uitstaande verhaal, net soos die titelverhaal van die bloemlesing en natuurlik vind die leser hier ‘n tersaaklike verwysing na Vladimir Nabokov, ‘n kenner en versamelaar van vlinders. Die verhaal verwys dus na die presisie van die skrywer wat versamel, orden, beskryf en die wetenskaplike wêreld word in verhouding tot die fiksionele of fantasmagoriese belewenis gestel. Vanselfsprekend wil die skrywer John Murray ook skatpligtigheid aan Nabokov erken: ‘n outeur wat alombekend was vir sy vermoë om in ‘n gedronge, amper koel styl oor die mees flagrante of transgressiewe ervaringe te skryf. Trouens, Nabokov se kort verhale herinner sterk aan hierdie bundel. Dit is ook verhale wat rondom ‘n sentrale metafoor of ervaring wentel.

Die vertellinge leun  swaar op die mediese wetenskap. Gelukkig vertroebel dit nie die gang van die vertelling nie, omdat die skrywer sy kennis nie ter wille van kennis uitstal nie.

“All the rivers in the world” is die verhaal van Vitek Kerolak, sy vrees vir die see en sy konflik met sy pa. Ook die dood van sy twee broers word so onthutsend eerlik beskryf dat die leser snak na die asem. Ons verneem dat hy sedert sy twaalde jaar nie op ‘n boot was nie (die tyd hoe sy identiteit gekry het) en die verhaal word ‘n soektog na sy vader. In die konfrontasie met die vader en sy jonger minnares word die see ‘n aktiewe medespeler in hul stryd. Dit is ‘n verhaal van konflik tussen vader en seun, die soeke na eie stem, die aanspreek van misverstande.  Boonop word dit gelaai met psigo-analitiese dimensies wat die leser net kan bewonder. John Murray weet beslis hoe om sy leser te boei met twee dimensies: ‘n goeie vertelling met onthutsende implikasies roerend onder die oppervlak.

Epiphany, roep die geleerdes dit. En dit is presies wat hierdie verhale ondersoek. Daardie klein oomblik wat ‘n heldere insig is. En wat ‘n mens se lewe vir ewig verander.

Dis ‘n pragboek. Lees dit saam met Bernard Schlink se ongelooflike Flights of love.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]