P.J.
Haasbroek. Kruispunt. Human &
Rousseau, 2010.
Resensent: Joan
Hambidge
Die skrywer P.J.
Haasbroek het veral as kortverhaalskrywer ‘n besondere bydrae gelewer binne die
Afrikaanse letterkunde. ‘n Mens dink hier in die besonder aan bundels soos Heupvuur
(wat bekroon is met die Eugène Marais-prys) en Roofvis. Aan sy romans het
hierdie leser min erg. Die verhale is uitgesponne en die simboliek dikwels te
swaar vir die teks. Maar dit is ‘n persoonlike voorkeur en lees is ten minste
ook gekoppel aan persoonlike smaak.
Maar sy
kortverhale. Dit is nou werklik iets besonders. Haasbroek vermag in die korter
kortverhaal iets magies en dit is asof hy in ‘n bykans poëtiese sfeer inbeweeg
en die tegelykertyd-aspek van die gedig laat gebeur. In die openingsverhaal van
sy jongste bundel met die titel Kruispunt word ‘n jong seun se ervaring van
stereotipering en verlies aan onskuld so netjies saam-vertel dat ‘n mens met
elke herlesing ‘n nuwe interpretasie-moontlikheid terugvind in die verhaal. Dit
heet “Ahmo se perd” en word geplaas naby die Neretvarivier. Ons beleef ‘n
oorloggeteisterde gemeenskap se ervaring van ‘n Kroatiese tenk en die letsels
van ‘n oorlog. Die jong seun dink die perd gaan deur ‘n sigeuner dood gemaak
word en in sy onskuld, probeer hy die perd red. Die ontknoping van die verhaal
is besonder slim weergegee: dit berus op ‘n misverstand; terselfdertyd ontdek
die seun die lyk van ‘n soldaat, die broer van Rutko, wat in die oorlog vermis
geraak het. Haasbroek se vertelling is besonder gelade: die seun op die drumpel
van volwassenheid word gekonfronteer met klas-stereotipes, vooroordeel, die
leed van oorlog en geweld. Wat ‘n boeiende verhaal met ongelooflike
onderstrominge.
In die tweede verhaal, “Tilapie”, vang Petrus ‘n wyfiekurper en
omdat die “blouweer begin grom het”, neem hy die kurper huis toe en sit haar in
die bad. Gewoon omdat hy nie lus het om haar te slag nie. Weer eens: ‘n verhaal
oor ‘n vis in ‘n bad wat ‘n ongelooflike analise word van ‘n troebel psige.
Uiteraard kan die vis nie daar bly nie (want troeteldiere word nie in die
woonstelblok toegelaat nie!) en uiteindelik gooi hy die vis terug in die water.
Iewers het ‘n
resensent geskryf dat die slotte van hierdie bundel hom gepla het. Maar lees
nou hierdie slot en ek dink ons hoef nie saam te stem nie: “Op pad na die
woonstel in Altebella Heights koop Petrus vis en skyfies by ‘n padkafee. Hy
voel alreeds beter.” (31) Navrant, sou ek meen. En sterk!
In “Die kap van
die byl” word die tegniek van twee vlakke ontgin: die hede/verlede versus liefde/politiek.
In hierdie raamvertelling word daar gekyk na jeugdige hartstog en of ‘n mens
weer so ‘n verhouding kan hervat? Die liefde in hierdie geval kan nooit weer
opvlam nie weens die politieke geweld wat die private binnedring. (Dit is ook
‘n knap spel met die outobiografie: die verteller is ene Piet, maar ondersoek
‘n moordsaak.) Haasbroek is bekend vir sy machismo en dit word sterk ontgin in
“Ontmoeting in Bagdad” waar die verteller se wellus gefnuik word. Dit blyk toe
nie ‘n vrou in die burka te wees nie, maar ‘n man met ‘n kromlem-dolk.
Elke verhaal in
Kruispunt is goed vertel en die skrywer gee die wêreld van die macho-man weer.
Machismo is egter dikwels net die masker: agter al hierdie jagstories en
grootbek-verhale word ons dikwels getref deur weerloosheid soos in die verhaal,
“Saam”, waarin die leser die effek van ‘n man wat sy seun aan die dood
afgestaan het, verhaal word. Dit is ook in hierdie verhaal waarin die titel
verduidelik word: “’n oog in die kruispunt van die visier” (89). Die skrywer as jagter
dus, as waarnemer van pyn en ellende en dit word vir ons verhaal aangrypend
weergegee. Daar is min verhale waarin die impak van verlies so dwingend geteken
word. Die verlies as leegheid word in hierdie verhaal pynlik-eerlik vertel.
“Die wind waai heen en weer daaroor, maar dit vul nooit met sand nie.
Dit is bar en klipperig en die middaghitte gloei tot ná sononder nog daarin, of in die winter dam die koue daar.
Die holte lê heeltyd daar en wag, en jy kan watter draaie loop, maar bly dit onthou, dat dit op jou wag.”
Daar is verhale
van verraad, liefdesverraad spesifiek, soos “Langs die Suiderkruis se
onderpunt” waarin Haasbroek nie alleen daarin slaag om die hele Mosambiekse
leefwêreld oortuigend weer te gee nie, maar die leser gevange te hou oor hoé
die navorser deur sy minnares en opponent die loef afgesteek word. Op ‘n keer
word daar vanuit ‘n perd se perspektief vertel in ‘n droom!
Elke verhaal is
puik gekomponeer. Dit is ‘n boek wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie.
Haasbroek se besondere vermoë om jou binne ‘n bepaalde omgewing te plaas, moet
vermeld word. Hy ondersoek die duister psige van die mens, wat hier én elders
afspeel. Hy ondersoek die onbewuste en dit is ‘n bundel van primordialiteit. Hy
gebruik o.a. die cowboy-verhaal en Tarzan, maar dit kry ironiese eggo’s binne
‘n verhaal waarin manlikheid dikwels as broos weergegee word.
Hy word tereg as
‘n deurwinterde skrywer beskou.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]