Rian
Malan. Resident Alien. Jonathan Ball,
2009. ISBN 9781868 423569
Resensent:
Joan Hambidge
Jare
gelede, op die voorblad van Esquire, vertel Rian Malan hoe hy Afrikaans, die
Afrikaner en apartheid ervaar het. Ondertussen het daar na My traitor’s heart baie
water in die spreekwoordelike see geloop. Hy het nou onlangs in BY saam met Pik
Botha verskyn. (Terloops, dit is ‘n interessante verskynsel hierdie saam-bring
van teenstrydige figure: Zuma en Steve Hofmeyr, nou onlangs.)
Resident
Alien – wat beskryf word in die London Times as Suid-Afrika se Hunter S.
Thompson – bevat 27 artikels (ek huiwer om die woord essay te gebruik) waarin
die aard van ons uiters komplekse land beskryf word. Om hierdie soort boek te
geniet, moet jy uiteraard “inkoop” in die persona van die skrywer en nie om
dowe neute nie, word die boek aangeprys deur Koos Kombuis wat Malan as ‘n
“one-man cultural revolution” beskryf. Kombuis is self ‘n ikoon wat of
teenstand of goedkeuring ontlok. Lin Sampson, daardie skerp stilis, beklemtoon
weer hoe goed Malan skryf.
Maar
skryf is nie al wat ‘n persoon van hierdie soort boek moet kan doen nie. Jy
moet bereid wees om vreesloos en kompromisloos te wees en ‘n as’t ware onder
die vel van jou subjek in te klim. Sy bydrae oor Winnie Mandela presteer dit
(“The Queen”). Hier bely hy openlik hoe meegevoer hy was met haar en dat hy
selfs aangebied het ‘n bydrae te skryf vir die Sunday Independent in Londen.
Ek
kies spesifiek hierdie bydrae, omdat dit my ook meegevoer het en veral deur
Biskop Tutu se uitermate simpatieke reaksie. Hy het haar soos ‘n mens hanteer;
nie ‘n monster nie. En haar reaksie het weer ‘n strydpunt geword in vele
gesprekke oor Winnie Mandela en familie-etes op Sondae het tot twisgesprekke
aanleiding gegee. Rian Malan beskryf daardie dag, en presies hoe ons gevoel
het. Hy vang die ambience op, ons voel Winnie se krag. En hy het ‘n alter ego
wat hy aanspreek: Governor Mntonga, ‘n huisskilder van Malawi: dus
terselfdertyd swart en ‘n buitestaander wat dan die illusie van ‘n ‘objektiewe’
gespreksgenoot skep.
Die
kragonderbreking en die gebruik van ‘n toorkuns-beeld uit monde van die
gespreksgenoot, is slim gekies. Hiermee word daar onmiddellik ‘n verskil tussen
Afrika en Westerse waardes uitgebou. Die dood van Stompie Seipei beskryf Rian
Malan asof daar ‘n klein drama voor die leser se oë ontvou. Maar hy doen dit
soos dit ‘n goeie dramaturg betaam: jy moet self die oordeel vel. Sy beskrywing
van Mevrou Mandela se kleredrag en bril wat aan haar ‘n soort reptiel-agtige
kwaliteit gee, wys hoe vernuftig hy kan beskryf. Ons beleef dus hiermee die
dénouement of wending in die vertelling: “She looked like a turtle, heavy,
slow-moving, totally nerveless and inscrutable behind her tinted lenses”(215).
Hy
wys hoe ons almal bykans gehipnotiseer is deur hierdie vertolking. En dis
bykans asof Malan deel word van haar getuienis en binnespraak. Hy vertel nie
meer nie; hy vertolk hoe sy verdedig, wal gooi, terug kap. Die hele klein drama
vang hy vas: en hoe Winnie se jammer nie ‘n jammer was nie. Die skrywer het die
vermoë om met ‘n penstreep ‘n persoon of situasie vas te vang. Hy weet wanneer
hy met ‘n cliché werk en maak dit vars en opwindend voor jou oë. Soms is daar
die (ongevraagde?) kru opmerking(226). Maar dit is die blik-van-buite wat
verander het na die blik-van-binne. Uit hierdie boek kan jy agterkom hy hou nie
van oordrywing nie (of dit nou oor Vigsyfers of joernaliste is wat gesterf het
onder die apartheid-régime); hy is ‘n ondermyner van sosiale orde; hy is dwars
en eiewys. Daar is vele juwele in hierdie teks: waarvan die onderhoud met en
analise van J.M. Coetzee beslis uitgesonder moet word.
Hierdie
leeu slaap beslis nie.
[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]