Steve Hofmeyr. Vier briewe vir Jan Ellis. Zebra Press,
2010. ISBN 978 1 77022 081 2.
Resensent: Joan Hambidge
Noem die naam
Steve Hofmeyr en jy het menings, positief en negatief oor die sanger, gewilde
verhoogkunstenaar wat Neil Diamond beter sing as Neil Diamond.
Die mense van my asem was ‘n topverkoper in 2008. Steve
blog en spoeg. Hy baklei en stry. Hy word kwaad vir die media, maar hy kan ook
nie sonder die media bestaan nie. Al is daar ‘n storm in ‘n teekoppie.
Hy is
waarskynlik die beste voorbeeld dat ‘n media-konstruksie ‘n lewe van sy eie kan
kry. Steve moet sing. Wanneer hy hom oor aktuele sake uitlaat, is hy dikwels
buite sy diepte en stoei hy bó sy gewig. Sy onlangse uitsprake by die begrafnis
van Eugene Terre’blance het eweneens fronse ontlok, nes sy opmerkings oor
swartmense.
Vier briewe vir Jan Ellis is sy debuut as novelle. Die verhaal
begin met die weggee van die geheim soos Nabokof se Laughter in the dark waar
die leser reeds met die eerste twee paragrawe die rampspoedige einde van
Albinus beleef. Maar daar is “profit and pleasure in the telling”, skryf
Nabokof verder en dit is hoekom die leser dan lees oor die hoekoms en waaroms
van die hoofkarakter se ellende. (Ek gebruik net die tegniek van Nabokof as ‘n
voorbeeld en intimeer nie dat hierdie skrywers in dieselfde liga is nie.)
Die verhaal word
dan vertel in die taal van die eenvoudige spreker (“Ek was my ma se enigste
kind maar sy het my geslat vir die ander vier wat sy wou gehad het”, 15). Die
probleem met só ‘n skryfwyse is dat dit dikwels ‘n leesversperring word en dat
die leser die nabootsing van so ‘n verteller se stem as hinderlik en vals
ervaar. Gaan kyk maar net na Marlene van Niekerk se flou-makou-gedigte op die Versindaba se webruimte geskryf in
‘n Adam Small-styl.
Die gegewe van
die posman wat veertig jaar later vier briewe moet aflewer, krap sake
deurmekaar. Die vierde brief is hartverskeurend in die ontboeseming en die
soeke na die “verlêkind” en “closure”. Ook die derde brief gaan om vergifnis
(“vergifnis sonder gif is mos maar vernis”, 97) oftewel die bitter gif van
“regrets”. Die derde brief gaan om nood en word gerig aan “Vereerde Meneer
Councillor Kees Wolfaard”. Aldrie hierdie briewe word ikonies voorgestel in
eenvoudige handskrifte, terwyl die eerste brief in tikskrif is, onderteken deur
die triomfantelike “Councillor Jake Fryer”.
Tussendeur word
daar vertel. En die leser moet invul en uitvee. En in die laaste brief weet die
leser met sekerheid hoekom Klein Jan van Groot Jan soveel pyn ervaar het.
Die novelle is
pakkend geskryf en besonder mooi uitgegee met afskrifte van ‘n resep, ‘n psalm,
‘n staatsdokument en ‘n LP, onder andere, wat die verhaal dan ‘n bepaalde
historiese aanslag gee.
Dit is ‘n teks
wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en kommentaar lewer op
die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer
word. Is jy ‘n psigopaat omdat ander jou verdink? Word jy die rol wat mense aan
jou toeken? En hoe bewys jy uiteindelik jou skuld / onskuld in ‘n samelewing
wat al reeds besluit het jy is “skuldig”?
Net vir
laasgenoemde aspek is die teks al die moeite werd om te lees. Vir die Steve
Hofmeyr-bewonderaarsklub sal die boek soos manna uit die hemel wees en
waarskynlik alle boekverkope rekords oortref.
Ernstige literatore
hoef nie diep te sug nie. Die boek het beslis meriete. Ek het die teks driekeer
gelees en elke keer op ander nuanses en versweë implikasies afgekom.
Dit is ‘n teks
wat meer as een lees behoef. En die weggee van geheime op die agterblad is net
‘n truuk.Die geheim lê opgesluit in die laaste brief. Die brief van Maddy M.
Louw wat sy ontvang van die posman wat die brief aflewer, te laat. En vir straf
moes hy briewe aflewer…
Steve Hofmeyr se
prosa is sterker as sy digkuns.
Dis inderdaad ‘n
boek van patos. Van hartseer en verdriet wat die persoonlike ellende laat
saampraat met die politiek van hierdie land.
Wit versus
gekleurd. Normaal en buite die orde.
Naskrif as ‘n
belangrike wetenswaardigheid:
Jan Ellis na wie
die hoofkarakter vernoem is, word beskou as een van die grootste Springbokke
van alle tye. Sy flankmaat was Piet Greyling. Hy het 38 toetse vir die
Springbokke gespeel. Hy is ‘n rooikop met sproete en ‘n nagereg is na hom
vernoem.
Daar is ook ‘n
akteur Jan Ellis. Maar hierdie teks speel in op die rugbylegende (92).
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]