Monday, January 21, 2013

Marius Crous - Vol draadwerk (2012)





Marius Crous. 2012. Vol draadwerk. Protea Boekhuis, R150.00.
ISBN: 978-1-86919-766-7,  213 x 317 mm, Sagteband, pp. 84.

Resensent: Joan Hambidge

15 Desember 2012
  
Die voorblad van Vol draadwerk dra ‘n kunswerk, “Ongetiteld” van Charles Tait. Die torso van ‘n man word deur skerp drade bedreig en omvou. Draadwerk aktiveer die idioom van dwars-wees. Vol knope dan, in Lacan se sin van die woord.

Die bundel open met Freud se bekende stelling (“Everywhere I go I find a poet has been there before me”) en word opgevolg met Kristeva se siening van die chora waar digterlike taal sig skuilhou, d.w.s., in die pre-simboliese orde. “Anterior to naming”, maar ook hibridies oor die posisie ten opsigte van die naam-van-die-vader.

Dit is ‘n bundel van die abjekte – Kristeva het eweneens oor die aard van abjeksie geskryf, as synde ‘n paradoksale toestand van afsku én aantrekking. Die slotvers “Endumion” (80) aktiveer hierdie toestand waarin die digter sowel die mitologie as die skoptofiliese verenig. Dit is balsem vir die spreker in die vers en hiermee wil die gedienstige, gedweë, mooi liefdesvers gedekonstrueer word.

“Ná die lees van Simon LeVay” (79) word die rede vir obsessies en abjekte gesoek. Hier is ‘n sardonies-kritiese soeke vir “waar slaap die onderbewussyn soos ‘n skone / lyf…” Bekend vir The sexual brain (1993) en Gay, Straight, and the Reason Why: The Science of Sexual Orientation (2010) behandel hierdie Brits-Amerikaanse neurowetenskaplike die verskille tussen straight en gay mans se neurostrukture. Hierdie omstrede studies gaan lynreg in teen Freud se sieninge van die prosesse van oedipalisering. Dis ‘n verdere “draadwerk”-motief in die bundel waarmee die digter die Freudiaanse onderbou waarmee hy begin het, dekonstrueer. So gesien, wil die bundel die “skemergebiede” van die homoseksuele bestaan nog verder vat as sy voorgangers in die digkuns. Digterlik nie altyd so sterk as Johann de Lange nie, maar beslis dáár.

Daar word verwys na ‘n derde oog van plastiek (10), wat die siniese, wráng toonaard van die bundel bepaal. (Nie derdeoog!) Die hart se draadwerk teenoor die geloof wat gesien word as ‘n draadwerk van matryse (59). Niks is enkelvoudig nie en hierom word ‘n sterk mitologiese raamwerk opgeroep om die gevoel van ontheemding te verduidelik. Die naam van die vader is ook die nee van die vader: hier word Lacan pertinent aangehaal (53, 54, “Vaderland), wat sowel die Freudiaanse rol van die moeder onttroon as die Vader/vader as heerser. Oraloor vind ons die blik van die obsessiewe kyker, die fetisj-bedrade, die liefhebber van die “golden shower”.

‘n Afdeling heet nie om dowe neute nie “Aufhebung” en hier word beweeg van die (oer)mitologie (waarop Freud geteer het), na Freud, na Lacan, na LeVay, na die Sex Pistols. Verskillende denkrigtings word gedekonstrueer. Vandag se wetenskap is more se mitologie. Moderne “mitologie” word ook onder die loep geneem: die selfdood van Sylvia Plath in “Lupercal”(44): hier is die toespeling op The white goddess opvallend en hoe die feministe na Plath se dood Hughes die verwyt gemaak het vir haar selfdood. En hoe dit weer in die tyd verander het, aldus Janet Malcolm in The silent woman. Boonop speel die film Sylvia ook tersluiks hier in: die James Bond-swembroek.

Daar is ‘n opposisie tussen ‘n Blakeaanse “Song of Innocence” en “Song of Experience”, wat regdeur die bundel loop.

Onderliggend bly die leser bewus van ‘n melancholiese draad, wat ons opnuut terugneem na Freud se seminale essay hieroor.

Dit is ‘n vooruitgang op die vorige bundel, Om aan ‘n beentjie te sit en kluif, juis omdat die leser uitgedaag word om mitologies spits te lees en uitdagende psigoanalitiese toepassings te maak.

Teenoor die apostase of afwysing van religie staan die mitologie van o.a. Anchises se liefdesavonture. Dit word weer geplaas teenoor die banale seksuele avonture van die ek. Homerus teenoor Vergilius. Ons vind Dido en Carthago. Die ghat oftewel die trappies na die heilige rivier in Varanasi waar lyke verbrand word.

‘n Ryk verwysingsveld oor die verhouding tussen lewe en dood word hier uitgewerk: die Odusseia, die Aneid en die Bengali-siening van die dood.
Ook die Ogygia, die eiland in die Odusseia word weergegee. Soos die verheerlikte  Antinous.

Daar is onthutsende portrette soos “Wawielstraat” (68) en ‘n meedoënlose bevraagtekening van die Reële in Lacan se terme. ‘n Sentrale vers is dan ook “Hades” (24) waar die lot van die “onbegraafdes” beskou word. Die catch-22 van hierdie bundel is dat die digter júis in sy poging om die mitologie of die religieuse te onttroon, tegelyk ’n bevestiging daarvan word. Die spreker bly dus vasgevang in die “kamer van katse en kettings” (24).

Dit is ‘n bundel wat uitdagings stel aan die leser met vele verwysings (en verswygings) en ‘n siniese blik gee op die invloed van die gode, ook in die digkuns soos beskryf in “Metateks” (63) waar die digters rooiwyn en ink drink.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]