Wednesday, January 23, 2013

Johann de Lange - Weerlig van die ongeloof (2010)



Johann de Lange. Weerlig van die ongeloof. Protea Boekehuis, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Johann de Lange se jongste bundel heet Weerlig van die ongeloof. Hierdie bundel word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. 

Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se voorblad word die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

Hierdie kort verse verraai kenmerke van die kwatryne, maar is dikwels eerder kort, vierreëlige verse. Die titel aktiveer die De Lange-paradoks: dat geloof bestaan of tot uiting kom ten spyte van ongeloof of twyfel. 

Die volgende drie verse versterk dié siening:

Die weerlig van die ongeloof

Die weerlig van die ongeloof
verhelder soos die apostroof
grys telegramme van die reën
uitgestippel op die steen.

(49)


Bede

Uit my duister hoor my lied
& laat u wil oor my gebied.
Nie langer in die woesteny,
maar langs U in die galery.

(49)


Die paramour
na Rainer Maria Rilke

Gedenk die nonne & vroueheiliges
vir wie Christus ’n kamerjonge is,
’n soet ersatz vir passie, die teerste
paramour wat nog besitbaar is.

(50)

In “Skietgebedjie” (51) is daar ‘n verlange na die geloof sonder twyfel. De Lange was nog alty die digter van die paradoks: dus in die ongeloof is daar soeke na geloof. Of die agnostiese digter is dikwels verlangend na die troos van ‘n beskermde God.
Bekende temas van De Lange word hier op nuwe wyses geaktiveer en in kompakte vorm aangebied: soos ‘n weerligstraal is die verse blitsig, vinnig en die insigte vir die digter onthutsend, maar ook vinnig afgehandel of oënskynlik verby. Die leser, bekend met die oeuvre, meet die verse veral aan ‘n bundel soos Vleiswond waarin die sterk religieuse dimensie na vore kom.
Die verse is epigrammaties en selfs in telegram-styl geskryf, soos die motto aandui:

In such a book as this,
The poet Martial says,
Some of the epigrams
Shall have seen better days,
And some are hit-or-miss;
But some – like telegrams –
Deliver intelligence
With such a sudden blaze
The shine can make us wince.

Fred Chappell

Die openingsgedig verwys na Marais se bekende siening dat alle bewussyn pyn is en die selfmoord van Marais lui dan ook die aflegging van ou selwe in of vroeër sienings van die digkuns. Op ‘n kompakte wyse word sieninge verpak om tot helderheid te kom. Hierdie bundel is ‘n oorgangsbundel: een waarin die skrywer wegbeweeg na iets groters en waarskynlik meer dwingend in die self in-beweeg. Liefde eis groter waagmoed, die ouer self is meer blootgestel as die jonger, cruising digter wat hom kon oopstel vir gevaarlike terreine op sowel fisiese as geestelike vlak.

Hierdie soort gedig se belangrikste kenmerke vind ons: die woordspel, die pun, die toespeling op bekende gedigte van Van Wyk Louw, Boerneef, Cussons. Die terugkeer na die jeug – bekend aan individuasie-tekste – is gelade:

Lyfband

My naam is net ’n kepie in die lengte van jou lyfband
Jou naam is ’n wond, ’n haakspeld deur my mond
Ek het jou op ’n skoolbank geteken, al jou trekke uitgekerf
Jou lyfband op die bed se blink gespe-oog het ek uitgeverf 

(15)

Die naam van die mede-skolier is egter nou ‘n wond in die herinnering, iets wat ander ervarings sal bepaal. Dit kom dan na vore in:

Na Anaekreon I
Fragment 360

Seun met die lonk-oog blik,
ek kies jou uit, maar jy merk niks,
onbewus jy is die menner
van my siel & my geluk.

(17)

Die spreker is nie meer selfversekerd nie. Daar word gekyk na die self as ‘n bouval:

Bouval

Jy meen ek is taai, dat ek jou aanslae kan verduur
maar in der waarheid is ek: ’n krummelende kou,
’n haglike harmonie van suile & ruimtes
waarin jy soms jou vergane glorie nog onthou.

(18)

In vele gedigte is daar ‘n herinnering na die jeug, na die uitbundige omgang met die liefde, veral die liggaamlikheid daarvan, wat nou verstar het in ‘n “vergane glorie”. Ook die verslawing (letterlik en aan die digkuns) kom aan bod wat die vorige bundel Die algebra van nood in herinnering roep. ‘n Vers soos “Trade” aktiveer weer Nagsweet se cruise-verse:

Trade

Sy lyf straal teen die wit-van-die-muur,
’n swetende blom van die middaguur.
Wie hom wil hê moet hom net daar pluk;
teen sesuur bring hy ongeluk

(28)

Elke vers het ‘n pendant in die oeuvre wat van hierdie bundel ‘n soort selfgesprek maak. Soms ironies, soms afwysend. Drome word kwelgeeste, iets wat die spreker teister in die herinnering. Hierom dan ook ‘n gesprek met die digterlike vader Van Wyk Louw:

Heildronk

Ek eet my toast
& drink my dooswyn
& in my hart
word alles boos rein.

(30)

Portrette van ander digters word telkens selfportrette of selfherkennings:


Emily Dickinson
n Selfportret

Ek besit nóú geen portret, maar is soos die bruin
langstertjie klein, & my hare soos ’n kastaiingkwas
’n astrante klos – & my oë die kleur
van sjerrie wat die laaste gas los in ’n eenkantglas.

(33)

Klankspel is eweneens opvallend in die verse:


Hadida

Die hadida dida-dida die skemer in.
Sy vlerke van ou skutmetaal
is bestand teen die lig & roes,
& sy drieklank sny deur taal & tin.

(38)

Met “Inkvis” word vorige natuurverse geparodieer:

Inkvis

Die inkvis is ’n geisja
wat ligvoets dans oor koraal,
verwissel vlug kimono’s
in ’n ondersese taal.

(39)

Uiteindelik die digkuns die plek van oplossing vir die digter wat tot klaarheid moet kom:

By in amber

Tyd het ’n by gevang in amber
wat honderd miljoen jaar of so al
bo een taai suikerdenblom bly hang:
vir jou eendagshals ’n sonkristal.

(44)


droomreën

die reëls val onreënmatig
die beeld sal sy blom behou
maatslag nóg los, nóg statig
in die gedig se weerligblou

(55)


Abracadabra
’n optelvers

deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee

(57)

In hierdie bundel is daar verwysings na klassieke tekste: van Vergilius tot Lorca, Auden, Stockenström, en vele ander digters en kunstenaars soos Michelangelo, Rembrandt, Van Gogh, ensomeer wat die gedigte ryk en geskakeerd maak.

Die selfinsig is eerlik en op die man af:

Dwars

Hy is geheel dwars
met die heelal, kêns,
van meet af aan ’n dwars,
opgefokte entjie mens.

(67)


Digter op 50

Laatnag draai hy om, afgeslote
tussen fantome en penumbras,
& pluk ’n paar vermoeide note
uit ‘n ontstemde springveermatras.

(68)

Opperman word aangespreek en Van Wyk Louw bring helderheid in hierdie bundel wat op die oog af net na lopers lyk, maar op ‘n vernuftige wyse epigramme van die gees word.

Die middag het as geword

Die middag het as geword
met ’n son wat stadig smeul.
Die lug het soos wyn gestort
& niks word ooit weer heel.

(74)

Die bundel sluit met die sterk vertaling vanwaarin die gevoel dat die gedigte iets kan oplos, sal voortstu in ‘n volgende bundel, juis omdat daar nooit heling in die digkuns, finaal, gevind kan word nie:


Niks
Luuk Gruwez

Niks eindig soos dit hoort. Nie
die dankwoord & nie die lusmoord,
nie die rusoord of die slotakkoord.
G’n enkel rymwoord. Niks soos dit hoort.

Konvensionele kwatryne is dit nie, omdat die rym- en metriese patrone dikwels nie nagevolg word nie. Maar die digter skep sy eie unieke De Lange-kwatryn. In die Persiese kwatryn is dit AABA, selfs AAAA. Oorspronklik is die ruba’I in die Islamse wêreld ‘n muntstuk en De Lange se kort gedigte is soos munte. Handig vir die oorvaart oor die Styx.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]