Wilhelm Knobel. As die woorde begin droom: ‘n keur uit die
gedigte van Wilhelm Knobel. Bel Monte uitgewers, 2010. ISBN
0 620 48688 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Wilhelm Knobel
sal immer onthou word vir sy gedig “Elegie”, ‘n vers wat ‘n mens nooit kan
vergeet nie. Oor daardie persoon wat in die see sterf en wie se hopie bene
uiteindelik vasgroei in ‘n koraal. Sopas het daar ‘n keur uit die digter se
verse verskyn As die woorde begin droom, deur Johann de Lange versorg en
saamgestel. Daar is verse gegroepeer in vyf afdelings: Bloedsteen (1966), Mure
van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Onversamelde verse (1956-1972) en ‘n
vyfde en laaste afdeling wat heet Vertalings / Translations. Verder is daar ‘n
handige alfabetiese register van eerste reëls en titels met huldewoorde van
Gerrit Komrij en Petra Müller.
Komrij noem hom een van die indrukwekkendste digters uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Die kranksinnigheid, doodsangs en “mededogen met het weerloze, opstandigheid en de sarcastische onhebbelijkheid om zichzelf tegen beter weten in moed in te spreken”, terwyl Müller verwys na die “verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot”. Daar is terselfdertyd vir haar lewensliefde en openbaring aanwesig in hierdie proses. Sy skryf verder:”Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie”. Komrij se uitspraak is in die jaar 2000 gemaak in die NRC Handelsblad en Müller s’n in 2005. Johann de Lange skryf tereg in die binneflap dat hy dieper gevoel het as ons meer siniese generasie. Hy op sy beurt voel dat die kritiek hom nie reg ingeskat het nie.
Komrij noem hom een van die indrukwekkendste digters uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Die kranksinnigheid, doodsangs en “mededogen met het weerloze, opstandigheid en de sarcastische onhebbelijkheid om zichzelf tegen beter weten in moed in te spreken”, terwyl Müller verwys na die “verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot”. Daar is terselfdertyd vir haar lewensliefde en openbaring aanwesig in hierdie proses. Sy skryf verder:”Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie”. Komrij se uitspraak is in die jaar 2000 gemaak in die NRC Handelsblad en Müller s’n in 2005. Johann de Lange skryf tereg in die binneflap dat hy dieper gevoel het as ons meer siniese generasie. Hy op sy beurt voel dat die kritiek hom nie reg ingeskat het nie.
Die waarde van
so ‘n bloemlesing is dat dit kommentaar lewer op die kanoniseringsproses en vir
‘n navorser ‘n besondere belangrike versameling word om verskillende temas,
versvorme, gesprekke met ander digters, soos Breytenbach wat in ‘n brief
aangespreek word of Rilke, na te speur. Die digter is oorlede op die ouderdom
van 38 jaar en ‘n mens wonder altyd hoe sou die latere gedigte daar uitgesien
het as hy sy siektetoestand oorleef het? Of was die bipolêre stoornis dalk júis
die rede vir die kreatiwiteit? Ook neem dit ‘n mens dit terug na sy tydgenote
soos Ingrid Jonker (oor wie hy ook skryf), die reeds genoemde Breytenbach,
Freda Plekker, onder andere.
Die titel van
die bundel word in die digter se handskrif weergegee, met ironies genoeg, ‘n
gedig op ‘n soort doktersvoorskrifbladsy waar daar staan: Butazolidin Cream.
Die broosheid
van alles loop reg deur hierdie bundel met sy inkantiewe aanslag: die dag breek
oop soos ‘n okkerneut (67) en in ‘n brief aan Lina Spies word erotiese begeerte
onverhuld en sonder skroom bely. In ‘n gedig waarin die digter vertel hoe hy ’n
pak, onderbaadjie en das dra van die vader (71) kry ‘n mens ‘n direkte
aanspreek van die ontslape vaderfiguur in ‘n soort eenwording, wat elders as
vermanend beskryf word. In hierdie aangrypende vers word daar gevra:
Maar smôrens
as ek die beige
onderbaadjie aantrek
en die warmte
daarvan voel deur die dag
wonder ek
hoe koud is jy
nou
of straal daar
tog warmte uit
van die idee van
die wolstof dig teen my lyf
Dit is duidelik
dat die digter se familie uit ‘n eng en voorskriftelike familie kom en vele
gedigte spreek dit aan.
Daar is mooi
beelde (“oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs”, 77) en gesprekke met skilders en
digters (Phil du Plessis, Jeanne Goosen, Wopko Jensma). “5 Junie 1968” is
aangrypend:
die woorde stap
nie langer geduldig
paar-paar in die
ark van die gedig nie (114)
en die
verskillende vertalings (deur die digter self en ander soos Charl J. Cilliers)
lewer interessante vergelykings met die oorspronklike gedigte. Die digter
tipeer himself as ‘n dromer wat hom ingedroom het in sy gedig (124). Die Jules
Supervielle-vertalings is besonder goed vertaal.
Ook die kritikus
word direk aangevat oor die soeke na Vorm (46) en dit is dan, hierdie kritikus
se beswaar teen meeste van die verse. Dit is inkantaties ja, dromerig,
weerloos, maar vir my smaak is verse dikwels nie genoegsaam in die Pegasus-bek
geruk nie. Maar terselfdertyd was dit dan hierdie soort gedig, met ander
woorde, die losser gestruktureerde vers, wat in die sestiger en sewentigerjare
hoogmode was.
‘n Relevante
boek vir die navorser en die versamelaar van Afrikaanse digkuns.
Dit is ‘n
herdenkingsbundel ter viering van die digter se 75e geboortedag en besonder
keurig uitgegee.
Bestel van Bel
Monte Uitgewers, Oranjezicht, Kaapstad, 8001.
[Hierdie
resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]