Breyten Breytenbach. 2012. Katalekte. Human & Rousseau: Kaapstad.
Isbn 978 0 7981 5792 6
Resensent: Joan Hambidge
November 2012
Die digter met die narrekleed
I
Katalekte vorm ’n drieluik met Breyten Breytenbach se vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. Die woordgoëlaar en oëverblinder is hier aan die woord in ‘n bundel wat die sub-titel dra: “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”. By Breytenbach is die ewige verbintenis tussen lewe en dood ‘n deurlopende motief en hierom is daar dan ook ‘n gedig “bardo” (76) wat hierdie oorgange beskryf. Katalekte bevat weer Breytenbach-reëls wat op sy enorme verbeelding dui:
wanneer verbeelding se lettergrepe
nog bewe in die vingers (43)
Verder speel gedigte in op mekaar én ou bekende (en reeds klassieke) verse word herdig en binne die konteks van hierdie bundel word dit gelaai met ‘n navrante siening van die einde-in-sig. Dit is ‘n bundel wat die leser opnuut bewus maak van die digter se besondere klank-gevoeligheid en die spanning tussen prosaverse en korter tekste.
Ons vind hier die bekende Breytenbach-handtekening: die ontginning van bekende idiome wat hy nekomdraai:
ons dra die gene van die dood
maar ook die dese van die lewe (118)
aan stront is geen salf te smeer nie (188)
Die plasing van foto’s (soos die digter wat ‘n pampoen vashou) neem ons na die werklikheid. Die digter dwing die leser om kennis te neem van komplekse sieninge van poësieteorie en die verwysing na die chora aktiveer Julia Kristeva se Desire in language en hoe metafore geskep word.
In die lang vers, “‘n Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming” (155 – 158) word die leser medepligtige en aktiewe grafi-leser. Trouens, hierdie bundel dwing jou van die posisie van epi-leser (om die gedig op sy woord te neem) na die ruimte van die grafi-leser as aktiewe, medeskrywer (medeskepper) van die gedig. Hier verneem ons: “Gedig is leefruimte vir taal” (157) en die volgehoue proses in die digter se oeuvre om die digkuns te verminder, vind ons eweneens hier:
Poësie kom van nêrens en gaan nêrens heen nie – en ondersoek dan daardie nêrens soek-soek soos ‘n hond na doodsbeendere (157 - 158)
Die digter van die paradoks, én die digter van die Oosterse verwysingsisteem; van die verdubbeling en terselfdertyd ónt-kenning van die self. Van die oomblik en tog ook die ewigheid.
Die gesprekke met mede-digters is opvallend. Soms speels, soms ernstig. Ingrid Jonker, Boerneef, Peter Blum kom aan die bod en die herdigting van Boerneef, ‘n skitterende parodie, verdien vermelding:
‘n kolgans doodgery op die M3
die kolgans het ‘n veer laat val
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê
(…) (22)
Herdigtings, ‘n self-bestekopname, kom ook aan bod soos in “die engelaar se verweerskrif’:
was dit dan nie my lewenstaak om nice-nice te maak
asof ek uit ‘n langwerpige kop gedigte kon fabriseer
as aas (...) (203)
In “waterbrief” (28) kan die leser ‘n demonstrasie sien van Breytenbach se vernuf as digter. Die tegelykertyd-aspek word in hierdie gedig ‘n demonstrasie van die ek-in-krisis, die ek wat nie finaal besê kan word nie, soos Kristeva dit beskou. Die beweging van geboorte-droom-werklikheid-gedig-dood word omgeruil sodat die verskillende dimensies één word:
in die nag is hy dikwels ‘n koevert
hy skryf die dokumente van geboorte
nietnotas, belydenisfragmente soos skrifsels
wat aan moet dui waar ‘n fuik
in die donker neergelaat is
om more se witvleis te vang (…)
II
Katalekte beteken “versameling fragmente van ou dig- of prosastukke”, aldus die digter in ‘n onderhoud.
Die bundel bevat sewe afdelings met zen-agtige verse en boere-haikoes. Die selfgesprek (soos in “BB: Intieme en beknopte CV”, 57) is nou van Bittergesig Buiteblaf. Sy Bonnievale-jeug, verblyf aan die Goreé-instituut en skryfskool aan NY word gesinkopeer met ‘n beskrywing van sy werklike verbintenis met die “mooimoedige vrou” wat van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geïnspireer het. Die metamorfose word in hierdie bundel beskryf as ‘n katamorfose (59). Daar is (pynlike) nadenke oor die skryf van ‘n gedig en gesprekke met Nietzsche en Emile Benveniste (“frottage”, 60).
Die gesprek met die ouers word eweneens volgehou in teer, liefdevolle besinnings in “ontmoeting” vir hulle:
wat moet ek nou maak met die tas en die bondel - ma, pa?
die ruikers woorde gepluk vir julle in hierdie papier? (81)
BB neem ook standpunt in teen die politieke toestande hier te lande in sterk “Moermikland” (161) wat in gesprek tree met Allen Ginsberg se magistrale “America” en hy sluit af met:
Mzanzi ek sit my slap en sensitiewe skouer aan die wiel
van oorsaak en gevolg
om die wa van die wal af in die sloot te help (166)
“Of dit ‘n man sou wees”, 169 – wat hy tipeer as ‘n aanpassing uit Primo Levi – is eweneens ‘n sterk sosiaal-gerigte gedig, nes die lykdig vir Van Zyl Slabbert (143).
III
Dit is ‘n bundel wat as “laatwerk” kwalifiseer soos Helize van Vuuren dit skitterend behandel het op Litnet. Breytenbach bly in die digkuns ‘n baken. ‘n Mens haal die hoed af vir die volgehoue produktiwiteit sonder om gehalte in te boet. Van die kleinste optelvers tot die langer prosagedig of laagvers, bewys die meesterskap van Breytenbach wat die brokstukke van ‘n lewe se herinneringe sprokkel. Die Orpheus-mite, Isis-Osiris
en ja, Pablo Neruda:
Entre los labios y la voz, algo se va muriendo.
Algo con alas de pájaro, algo de angustia y de olvido uit Poema 13
met ‘n pragtige skets daarby, verklap ook iets verder van die rol van die digter.
Die digter as besegger van die liefde, die digter wat deur die woord beseg word, die digter wat onreg verseg.
Dit beslaan 212 bladsye en is besonder mooi uitgegee.
Bronne:
Willem de Vries. “Aanhou beweeg en gedigte maak”. Die Burger. (Besoek 08.11.2012)
Helize van Vuuren. “’n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge)”. Litnet. (Besoek 15.11.2012).
[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]