Kobus Lombard. Vlerke
vir ‘n Houteend. Protea Boekhuis, 2010. ISBN 978
1 86919 354 6.
Resensent: Joan
Hambidge
In 2001
het hierdie digter gedebuteer met Geknipte
naelstring en hierna het Tussen
wysvinger en duim in 2005 gevolg. Die jongste bundel Vlerke vir my houteend het soos die vorige bundel eweneens by
Protea Boekhuis verskyn. Die digter gebruik gestroopte, sober taal en veral die
Namibiese landskap kom aan bod in hierdie digkuns. Gedigte oor die geloof is ‘n
verdere tema en in die uitgewershuis se publikasieverslag word daar geskryf dat
die digter in sy tweede bundel die liefde vir sy aanneemma verwoord en die
moeder wat hy nooit geken het nie. Die derde bundel het hierdie leser begin
lees sonder hierdie voorkennis en ek is van mening dat die leser nie nodig het
om kennis te neem van hierdie outobiografiese gegewe nie.
Lombard
skryf ‘n eenvoudige vers met min woorde, maar in die “eenvoud” is daar dikwels
‘n geladenheid opgesluit. Ek het die gewoonte om ‘n digbundel van agter na voor
te lees en dan weer van voor na agter. Op hierdie manier kan jy dikwels die
konstruksie van die bundel op sy kop draai of deur ónbedoelde motiewe of
saamgroeperings breek. Die slotgedig in hierdie bundel is ‘n vers wat
waarskynlik ‘n sleutel verskaf vir vele verse in die bundel. Dit heet “Ma se
erflating” (78):
in jou
vulpenadres
kan ek
my ‘n kamer verbeel
in jou
silwer poeierdosie
kan ek
partikels
van jou
lyf vermoed
selfs
die brei in jou stem
is
tegnologies bewaar
maar hoe
streel ek
die
swart van jou hare
agter
die glans van ‘n foto (78)
En vele
gedigte probeer hierdie toestand-van-die-onmoontlike besê. Die gedig bring dus
‘n soort versoening tussen die gevoel van verlies of nostalgie en die
werklikheid. In die titelgedig word daar ‘n ars poëtika vir die leser gegee
waar die idee van die houtkerwer se werk gelyk gestel word aan die digterlike
proses (42).
Vir my is die mooiste en aangrypendste verse in hierdie bundel
gedigte wat handel oor die verhouding met die moeder, daardie primordiale
verhouding wat ons almal se identiteit bepaal. In die psigoanalise word daar
ook gekyk na die verhouding tussen digterlike taal en die moederbuik; ‘n mens
dink hier veral aan die teorieë van Julia Kristeva. Wat dus ‘n vers oor die
moeder is, kan ook gelees word as ‘n gedig oor die skryfproses en die onvermoë
(waarmee vele digters worstel) om dit wat buite woorde lê, onder woorde te
bring.
Daar is
‘n handvol gedigte in die bundel wat onthoubaar is, soos “Eenrigtingkaartjie”
(67):
met die
vertrek van my reisgenote
staan ek
telkens voor die eenrigtingglas
van dié
eenmanvertreksaal
geen
oproep om aan boord te gaan
geen
digitale flikker
oor die
beplande tyd van aankoms –
die
bestemming, so sê die reisbrosjure,
het
strate van goud, engelekore
en ‘n
stadspoort van opaal
dog vir
hierdie enkelreis
bly ek tot
die dood toe bang
Die
moontlikhede van die skryfproses word ontgin: so byvoorbeeld in die gedig as ‘n
“briefwisseling”verander die letterlike brief verander na e-pos, maar lewer ook
kommentaar op die intieme aard van die skryfproses.
Vanaf
die debuut tot nou, is daar groter selfvertroue by die digter opmerklik. Dit is
‘n beskeie bundel, maar in die eenvoud en suiwerheid aangrypend en belangrik.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]