Carina Stander. Wildvreemd. Tafelberg Uitgewers, 2010.
Resensent: Joan Hambidge
Carina Stander
is reeds bekend as digter. Wildvreemd is haar debuut as romanskrywer. Dit is ‘n
ambisieuse roman vir ‘n jong skrywer. Sy beweeg in die wêreld van die
primordiale. Dit handel oor ‘n vrou in die Ruig wat een maal per maand na die
dorp stap om haar heuning te verkoop. Dit is dan ‘n outsider-figuur wat deur
die res van die dorp ge-ander word. Sy is mal, ‘n heks. Sy word name genoem.
Dan stap sy weer dorp toe om standpunt in te neem teen wildstropers. Rondom
haar lot word die ander karakters se lewens ingevleg: van ‘n wetenskaplike, ‘n
kunsstudent tot jagstropers, ‘n verkragter.
Die roman dra ‘n
motto van Clarissa Pinkola Estés wat die verhaal onmiddellik plaas binne die
wêreld van die cantadora en in ‘n e-pos van ‘n karakter, Ebro Botha lees ons
die droom is ‘n private mite en die mite is ‘n publieke droom.
Argtipes word op
‘n boeiende wyse in hierdie roman vergestalt en die verskillende teenspelers
ontlok verskillende reaksies by die leser wat die toespelings sien op die
skadu, die animus en anima. Soos bekend aan hierdie soort teks, is daar ‘n
sirkelgang aanwesig; ‘n herhalende terugkeer na belangrike gebeurtenisse en die
gebruik van die heuning en bos om die proses te konkretiseer, word oortuigend
gedoen. Rondom die bos word die intrige geskep.
Dit is kodes vir
die psigoanalitiese onderbou van die verhaal; soos dat die bos / woud soms die
simbool is van vroulike genitalieë (47). Verskillende vertellers gee hul
perspektief op die storie, wat op ‘n liriese wyse weergegee word. Juis hierom
is die voorblad myns insiens te modern: ons sien ‘n moderne vrou se rug met
blare getatoe. Persoonlik sou ek iets anders en dalk iets soberder verkies het.
Die veelheid van
stemme roep Faulkner se As I lay dying en Brink se Houd-den-bek op en hoe elke
stem ‘n ander perspektief gee en die liriese kwaliteit verwys na Wilma
Stockenström se Die kremetartekspedisie, daardie liries-betowerende roman. Die
verwysing na die kremetart en die natuurbeskrywings roep dit op. Van die
sterkste beskrywings vind ons juis om die natuur (171 – 173).
Die verskillende ekke se stemme word goed afgewissel. Die verontregte vrou en haar woede word kragtig vertel. Hier is die digter aan die woord. Dit is ‘n boek wat genesing kan bring vir die verontregte vrou.
Die verskillende ekke se stemme word goed afgewissel. Die verontregte vrou en haar woede word kragtig vertel. Hier is die digter aan die woord. Dit is ‘n boek wat genesing kan bring vir die verontregte vrou.
Die bos is in
sprokies ‘n gelade ruimte. Hierdie bos word uiteindelik ‘n plek van oorlog (in
Ebro se woorde ‘n “bosoorlog”, 246, 247). Daar is verraad en uiteindelike
ontbossing en soos in sprokies is daar na die verraad (hier o.a. wilddiefstal
en bedrog) ‘n terugkeer na normaliteit. Vladimir Propp se klassieke teks
Morphology of the Folktale kom hier handig te pas. Elkeen in hierdie
argetipiese verhaal het ‘n funksie: die boosdoener, die held, die heldin,
ensomeer en na distorsies in die verhaalgang (hier verkragting, ‘n brand,
wildstropery) keer alles terug na normaliteit. Die hoofstukafdelings gee dit
ook weer. Wildvreemd aktiveer Sklovskij se ostranenie (vervreemding) en alles
staan hier in die teken van vervreemding en die spanning tussen binne/buite.
Vir ‘n debuut is
die volgehoue vaart ‘n prestasie. Tussendeur is dit ‘n vertelling wat telkens
Jungiaanse materiaal aktiveer. Freud is ook ter sprake. Die woud is immers sy
beeld vir die onbewuste. Dit is ‘n verhaal van onreg, van hoé die buitestaander
oor psigiese insig beskik en moet inbeweeg om verandering aan te bring. Dus kan
‘n mens ook Byatt hier betrek en haar studie saam met Ignês Sodré wat in 1995 verskyn
het: Imagining Characters. Daar is
verwysings na kreatiewe skryfkursusse en hoe mense navorsing doen en stories
kaap.
Die gegewe is
boeiend, pakkend. Dit lees vlot, omdat die vertelling vinnig vloei. Soms word
die gegewe te vinnig afgehandel en nie genoegsaam ontgin nie. Helaas nog nie
D.M. Thomas se The White hotel nie. Vir ‘n debuut egter belofteryk.
Dis hoe ek
hierdie roman sou beskryf waar die leser ‘n soort spoorsnyer word.
Bronne:
Byatt, A.S.
& Sodré, Ignês. 1995. Imagining
Characters. Six Conversations about
Women Writers (red. Rebecca Swift). Londen: Vintage, Random House.
Estés, Clarissa
Pinkola. 1992. Women who Run with the
Wolves. Contacting the Power of the
Wild Woman. Londen: Rider.
[Hierdie
resensie is vantevore op Fine Music Radio
gebruik.]