Monday, January 21, 2013

André Krüger - Die twee lewens van Dieter Ondracek (2013)




André Krüger, Die twee lewens van Dieter Ondracek. Human & Rousseau, 2013

Resensent: Joan Hambidge


Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger is ‘n uitstekende roman. Dit lees vlot en handel oor ‘n man wat wegvlug van sy verlede en dit probeer vergeet. Dit gaan oor naamsidentiteit: Dieter Ondracek word Gerhard Weber. Hy was ‘n Spoorwegingenieur, ‘n skrander mens in Nazi-Duitsland en hy bevind hom in ‘n gekwelde Suid-Afrika. Sy obsessie met treine – wat hy “vlamdiere” noem – bepaal sy lewe totdat hy betrokke raak by Sabine, ‘n dokter wat hom verraai. Sy raak verlief op ‘n SS-offisier, Kurt Wolff. Wolff is Dieter se nemesis en die persoon wat hom in Suid-Afrika ontmasker.

Die verre geskiedenis en ‘n liefdesverhaal word op ‘n pakkende wyse ‘n briljante psigoanalitiese studie van die Self teenoor die Ander (104). Daar is deurentyd aanwysings dat ‘n mens hierdie verhaal nie net ‘n as ‘n politieke of historiese teks hoef te benader nie. Diegene wat psigoanalities lees (en Jung en Lacan kom hier handig te pas), sal verskeie kere aspekte sien van o.a. Jung: self, skadu, animus, anima, ensomeer. Maar dit word nie op ‘n pedantiese manier gedoen nie; die verhaal stu voort soos ‘n trein met verskillende waens waarin verskeie intellektuele kodes gelaai is.

Uiteraard wil die roman implisiet vrae stel oor waarheid en versoening en in welke mate die huidige Suid-Afrikaanse politiek gelyk gestel kan word aan Nazi-Duitsland se vergrype. Dit is egter vrae en nie stellings nie.

Die roman handel oor die donker onderkant van die lewe en teenoorgesteldes (139). Magda, sy nuwe vriendin, se verlede is eweneens donker en sinkopeer met sy vrese en ellendes. Ook sý het ‘n verlede waarvan sy probeer vlug en ervaar saam met Gerhard tydelike geluk. Haar lewenslot, nes syne, stuur op die onafwendbare af.
Vir diegene wat hou van treine sal die roman eweneens ‘n besondere leeservaring wees. Die outeur skep ‘n realistiese weergawe van Johannesburg in die vyftigerjare, hoe mense op swartmense reageer, die klere wat gedra en sigarette wat gerook is, en ander kultuurobjekte.

“Mense is inherent feilbaar, masjiene so perfek as wat onvolmaakte mense dit kan maak” (208) is die gedagtestroom van die hoofkarakter met sy belangstelling in horlosies, treine en musiek. ‘n Treinongeluk word in besonderheid beskryf.
Die karakter is ‘n buitestander en ‘n persoon wat tussen grense beweeg, die sogenaamde ruimte van liminaliteit.

Uiteraard vra dit skerp vrae oor ‘n mens se aandadigheid aan oorlog en skuld. As roman is die fokus op die binnewerkinge van ‘n mens (soos ‘n horlosie). Die leser maak hierdie karakter oop soos Gerhard met horlosies doen; om tot beter begrip te kom. Om die roman te verdoem, soos Marius Visser in Rapport (Leser se strydvraag/ Vergeef of verdoem? | Rapport, 16.06.2012) gedoen het, is om die komplekse spanninge mis te lees. Die groter argetipiese aspekte (die donker onbewuste) en kollektiewe skuld moet begryp word. Dit is ‘n roman wat my teruggeneem het na Camus se Die buitestaander en oor hoe ‘n mens betrokke raak – weens omstandighede – by oorrompelende gebeure. Dit is die klein mens teen groter magte.

Die Nazi-verlede word gestel teenoor die vryheidstryd (daar is ‘n verwysing na Mandela se hofsaak) hier te lande.

En die wending? Natuurlik is dit gekoppel aan ‘n treinongeluk, maar ek wil nie die geheim verklap nie. Toeval? Die noodlot? ‘n Siening dat al probeer die mens sy verlede toehou, sal dit hom inhaal, is die sub-teks van die roman.

Dit is ‘n roman wat kommentaar lewer op boosheid, op ‘n poging om ‘n eerste lewe te probeer ontvlug; met die wete dat die tweede lewe dit eerder vererger het (351). Die mens, uitgelewer aan geweld en politiek, word hier die slagoffer.

Dieter/Gerhard se gewete en sy pyn word oortuigend weergegee. Die laaste gedeeltes – wat afspeel in ‘n tronk – gryp aan die keel. Soos die gelade slot.

Die skrywer het die kuns van vertel onder die knie en ‘n mens verwag beslis ‘n tweede roman. Die spanningsvlak van die roman word volgehou. Die navorsing oor Duitsland en Johannesburg van die vyftigerjare is goed gedoen. Selfs kommentaar op filmhuise is daar wat my laat nadink het: vir my gevoel sou dit ‘n film kon word, juis omdat die gegewe so dramaties is. Wyle Visconti sou die gegewe goed kon optel (‘n mens dink aan Rocco en sy broers) of dalk Polanski? Dit is ‘n sterk roman van 366 bladsye.

Met twee vlakke, twee verhale, die bewuste en die onbewuste. Die gedeeltes oor Eichmann het my teruggeneem na Hannah Arendt.

Sien ook:

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]