Daniel Hugo. Hanekraai.
Protea Boekehuis, 2012.
Resensent: Joan
Hambidge
Daniel Hugo se jongste bundel heet Hanekraai en dit word uitgegee deur Protea uitgewers. Die digter is
‘n vernufsdigter en op sy beste ontgin hy in sy oeuvre die moontlikhede van
taal. So skryf hy:
Nege metafore en ‘n
vergelyking
‘n kind kraai anders as ‘n haan
‘n kat lek anders as ‘n kraan
‘n deur piep anders as ‘n muis
‘n klok slaan anders as ‘n vuis
die wind huil anders as ‘n wolf
‘n vy swel anders as ‘n golf
‘n wolk dryf anders as ‘n skuit
‘n peer bloos anders as ‘n bruid
‘n voël sing anders as ‘n vers
en digters doof gou soos ‘n kers
(44)
Laat ek dit onomwonde stel. Ek is ‘n bewonderaar van Hugo se
digkuns. Ek hou van die vormbeheer, die netjiese aanslag, die feit dat die
digter sonder skroom erken dat hy sillabes in reëls tel. Kortom, hy is ‘n
vakman. ‘n Mens weet dit ook uit sy knap vertalings van Herman de Coninck,
Gerrit Komrij en Rutger Kopland. In Hugo se vertalings sien jy die meesterhand
van die digter aan die wroet. Hy kies sy rymwoorde goed, hy weeg die woorde af
en hy weet presies wat die “valse vriende” tussen Afrikaans en Nederlands
behels. Trouens, jy sal nooit ‘n verloopte, slordige vers by hom vind nie. Sy
gedigte is op die oog af “eenvoudig” en “toeganklik”, maar onder draai die
duiwels rond.
Kyk na die titel “Hanekraai” – dit roep die Bybelse verraad
op; dit aktiveer vroegoggend en die haan wat op die kerktoring staan (gedagtig
aan die voorblad van Hanli Deysel). Hierdie bundel dui waarskynlik ook ‘n nuwe
groeifase in die digter se ontwikkeling aan indien ek die slotvers korrek
vertolk:
Nuwe dag
bo die berg verkleur die kim:
‘n haan se bloedrooi kam
(72)
En slotte is sleutels, het ‘n groot digter ons geleer. Hier
is verse oor bekende digters soos Ernst van Heerden en Ina Rousseau. Eugène
Marais en TT Cloete word aangespreek, soos wyle Lucas Malan. Daar word kwatryne
aan die voorste beoefenaars van hierdie vorm opgedra, te wete Hennie Aucamp en
Johann de Lange. Daar is die ouer digter wat terug kyk op sy verwaande
belewenis van die digkuns in ‘n lesingsaal en bekend aan Hugo word die
digterlike proses onder die loep geneem soos in “Muse II” (43). Evolusie, die
natuur en die politieke onsekerhede word betrek. Die Namibiese landskap word
goed ingeskat en ek had veel plesier aan die digter se spel met die haiku.
Bekend aan Hugo se werk is daar opstand teen en gesprek met die Calvinisme. Die
speelse aanslag kom ook aan bod soos onder andere in “Heil die leser” (40) en
“Digters” (41).
Woordvernuf is aan die orde van die dag soos ons te wete kom
uit “Dagbreek” (71) waar die haan na meer as net die haan op die werf verwys.
Dit raak nou al ‘n geykte opmerking om te sê dat Daniel Hugo
nie na waarde geskat word nie en dat hy nie genoegsaam in Groot verseboek, as digter en vertaler, verteenwoordig word nie.
Maar kom ons herhaal dit gerus weer.
Matsuo Basho:
weerspieëlings
I
vergete vywer
‘n padda spring van die wal
die klank van water
*
giftige vywer
die padda dryf witpens bo
die stank van water
II
dit is doodstil - dan
deurdringend tot in die rots
die sonbesieskree
*
stilte bestaan nie
slegs kosmiese tinnitus:
die skril kubersfeer
Op my rekenaar
kielie ek deesdae gediggies uit
oor die lente, die liefde, die Lethe
in ‘n taal wat binnekort vergete
sal wees. Ek lawe my verslae ego
met dáárdie klanke van Afrikaans
wat nog net in die binne-oor bly
[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning
van Fine Music Radio & die resensent.]