Christine
Barkhuizen le Roux. Wat die oog gesien
het. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5256 3.
Resensent: Joan Hambidge
Christine
Barkhuizen le Roux is ‘n digter, kortverhaal- en romanskrywer. Sy het debuteer
met dimensie in 2000; in 2006 het Waar koek en wyn ontbreek, en roset (2006),
‘n tweede digbundel wat in Nederlands vertaal is in 2009. Padmaker, haar roman,
het in 2010 verskyn en Wat die oog gesien het is ‘n bundel kortverhale.
In “Lanset” word
die vooropgestelde idee wat ‘n vrou het oor ‘n dokter en al die mites oor
dokters met ‘n knalslot ontmasker. Die leser word ingesleep by die aannames oor
dokters wat in ‘n samelewing gedy. Dit is ‘n knap verhaal en die leser begin
dan met groot verwagting die bundel te lees.
Hierdie bundel
bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ‘n raamvertelling (“Verby”) waarin
die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ‘n vroulike werker
se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture reageer op
die noodlot.
Wat die oog
gesien het lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Daar word dikwels in
verhale, tersluiks, verwys na ‘n beperkte begroting en ‘n vrou wat afhanklik is
van die man se versorging. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe
waarnemings in ‘n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en
gelowe verhaal word. Dit is nie radikale feminisme nie, maar daar is beslis ‘n
baie sterk gekodeerde vroulike blik in hierdie verhale soos in “Boas” waar die
vrou, getrou aan die man, ‘n klein bedryfie begin om selfversorgend te kan
wees. Op ‘n uiters subtiele wyse word die verhouding tussen haar en haar man,
Basie beskryf en die betrokkenheid by die ander man suggestieryk weergegee.
(Terloops, dit is Barbra Streisand, nie Barbara nie!)
Dit is ‘n bundel waarin vroue afhanklik is van mans vir ‘n
inkomste en ‘n bedryfie begin om iets vir hulself te doen. Tog bly hulle
vasgevang in die wêreld van die man en dit word baie aangrypend beskryf in
“Bed” waar ‘n gesiene vrou se aftakeling weens Alzheimer se siekte beskryf
word. In die verhaal “As Falco ja sê” word die onderliggende spanning van die
meeste verhale belig: die vrou wat moet dankbaar wees vir die versorgende man
(164).
Dit is ‘n bundel wat ongelyk is in gehalte. Daar is ‘n
handvol knap verhale, maar sommige bly vassteek in die anekdotiese of die
momentopname. Vir hierdie leser was dit wel ‘n interessante leeservaring om die
onderliggende feministiese diskoers te ontleed in die bundel. Die slotsin van
die slotverhaal sluit aan by die voorblad van die bundel: “Op die bruingebrande
hand se vingertop kom sit, trillend, die middag se één blou vlinder” (189).
Dit is verhale wat meer word as ‘n tydskrifverhaal, maar soms
vassteek in die geykte beeld of nie genoegsaam die sielkundige gegewe van die
verhaal ontgin nie. Wat jammer is. Met ‘n bietjie wag en bywerk kon dit dalk
iets meer geword het. “Bed” en “Verby” sou wel ‘n gedugte bloemleser laat
nadink oor ‘n moontlike opname in ‘n kortverhaalboek.
Hierdie bundel het my terug geneem na De Vries se
kortverhaalboek en weer laat kyk na Hélène Cixous se teoretiserings oor
vroue-skryfwerk. Langs Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper is hierdie bundel
maar ‘n floue uitbeelding deur ‘n vroulike skrywer. Gaan kyk na die hoogtepunte
wat De Vries vir ons saamgestel het en Henriette Grové en Ina Rousseau skryf
oor die lot van vrouwees so skerp en dwingend dat jy eenvoudig nie die verhaal
kan neersit nie.
[Hierdie resensie het vantevore in
Die Burger verskyn.]