André Brink. Other lives – a novel in three parts. Umuzi, 2010. ISBN 978 1 4152
0127 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Brink se
behendigheid as vertaler word bevestig deur die Engelse weergawe van Ander
lewens, ‘n teks waarin
die krag van die verbeelding ondersoek word.
Dit is ‘n roman
wat die tegniek van die trompe-l’oeil gebruik of die verhaal wat ‘n soort
vlakkigheid of oëverblindery veronderstel. Die Afrikaanse uitgawe het indertyd
‘n warm debat ontlok met lesers wat gevoel het dat ‘n bepaalde toneel oor die
bad van ‘n kind as “kindermishandeling” gelees kan word. (Die ombudsman, Die
Burger, 19.6.2008).
Sowel resensente as die uitgewer het hierdie aanklag verwerp. Dit sou
interessant wees om te sien of Engelse lesers op dieselfde wyse reageer op
hierdie roman. Die roman is metafiksioneel wat ‘n kommentaar tussen wat geskryf
en wat beleef word voortdurend bespreek. Die leser is dus voortdurend bewus van
vlakke in die teks (die sogenaamde mîse-en-abyme) wat ook aangegee word deur
die feit dat ons meegedeel word dat dit ‘n roman in drie dele (of aflewerings)
is. Wat is fantasie? Wat is werklik?
Die motto uit
Milan Kundera gee ook ‘n aanduiding dat die leser nie alles letterlik moet
vertolk nie. Soos ‘n man wat nie sy gesin herken nie…
Op 26 Mei 2008
het ek die Afrikaanse uitgawe vir Die Burger geresenseer. Die Engelse vertaling
lees vlot en Brink se besondere vertaalvernuf kan net aangeprys word.
Net soos sy
vermoë om te vertel.
Die roman
bestaan uit drie novellas wat ook as aparte verhale gelees kan word, te wete The blue
door, Mirror en Appassionato. Die triadiese aspek is relevant, aangesien vele beginsels in
die literatuurkritiek drievoudig funksionbeer: ego, id, superego (Freud) en
Lacan se verbeelde, simboliese en reële dimensies. Verder is die teken
(betekenaar en betekende) altyd gekoppel aan ‘n betekenis wat dit saamsnoer. ‘n
Man kyk in die spieël en sien ‘n swart gesig wat na hom terugkyk. Hierdie
gegewe kan waarskynlik ook gelees word as ironiese selfkommentaar op die
werklike skrywer Brink se kunstenaarskap waarin hy met groot drif
rasseongelykheid aan die kaak gestel het.
In Kennis van die aand en ‘n Oomblik in die wind word dit goed gedoen. Ek lees Other lives as ‘n teks waarin
self-konfrontasie telkens in die gemoed van die kunstenaar ‘n lotsbepaling is.
‘n Mens skryf immers as ‘n soort regstellende aksie en hierdie teks(te) speel
weer in op die onlangse verskene ‘n Vurk
in die pad waarin die lewe van die skrywer weergegee word. Maar kan ‘n mens
ooit ‘n lewe werklik weergee of word dit alreeds gefiksionaliseer? Elemente in
hierdie teks kan terug gveoer na die werklike lewe, maar dit is ‘n boek wat
komplekse vrae stel oor die verhouding tussen kuns/lewe, fiksie/werklikheid.
Ek dink wel die
voorblad van die Engelse uitgawe deur Umuzi is ‘n bietjie corny. Die Britse uitgawe se voorblad is
wel beter.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]