Susan Smith. In die
afwesigheid van sin. Protea Boekhuis, 2012.
Resensent: Joan
Hambidge
Die digter het reeds in Nuwe stemme 1 gedebuteer en In die afwesigheid van sin is haar solo-debuut. Die bundel ondersoek die verhouding tussen geslagte en meer spesifiek, vroue en hoé tradisies van geslag tot geslag oorgedra word. In die nawoord skryf sy dat die rol van taal van primêre belang is in hierdie oordrag.
Die bundel aktiveer ‘n spesifiek feministiese diskoers, te wete die oordrag van kultuurgoed soos goed verbeeld in “patroon” (38).
Die voorblad staan in die teken van hierdie diskoers (ouma, moeder, dogter, niggie, tantes) en die bloedband wat tussen vroue bestaan. Daar word aangehaal uit Margaret Atwoord, Anne Sexton, Erica Jong, om die ideologiese aspek van die bundel te begelei of omsoon. Aldrie hierdie digters se werk is kragtige kritieke op vrouwees en die vermindering van vrouwees: die intellektuele Atwood, die pynlike verslae van Sexton (en haar uiteindelike selfdood) en dan die ironies-speelse Jong. Nader tuis het ons die feministiese poësie van Krog wat vrouwees in al haar geledinge karteer. Verder terug: Eybers.
Die bundel is met ‘n sterk eenheidsbewustheid gekomponeer, maar te veel verse word emosionele lopers wat die krag van ‘n dwingende gedig mis. ‘n “Slakkepas-sonnet” (93) is nie ‘n sonnet nie en te veel verse speel met woorde wat herinner aan universiteitsblaaie soos “tweesprong” (41):
ek het jou gebaar
jy het my gebaar
jou hare my hare
my oë jou oë
Vele verse is vir my gevoel sentimenteel en stroperig. Dit mis digterlike tug en die oorheersende indruk wat die bundel laat is dat die besinning oor wat sy wou doen, nie deur die gedigte verbeeld word.
Die tematiese aspek mag sekere lesers meevoer. Dit gaan hier om die vroulike diskoers soos beskryf in “patroon” (38). Reeds die buiteblad wil hierdie oordrag van die grootmoeder-moeder-dogter-band behandel. Hier tree die gedigte in gesprek met Antjie Krog se bloedband-verse.
Die titel aktiveer die soeke na sin en betekenisse in die semiotiese sin van die woord. Die programgedig aktiveer hierdie aspek: metafisies en die bestaan op aarde. Die geweld waarmee ons moet saamleef, is ‘n hipogram in hierdie bundel soos beskryf in “skrik” (21). In die liefdesgedigte is daar reeds onrus ingebed (“hebban olla vogala”, 24) en in die aangrypende “kartografie” (25) is die tekens wat die geliefde agterlaat; dit wat die spreker se lewe rig.
In “my mamma is van meel” (34) word ‘n gesprek tussen twee niggies ook ‘n verslag van hoé kommunikasie verander en versnel het: vertelling, brief, e-pos, sms. En “telefoonboekie” (35) skryf ook ‘n lewe van kontakte op van die moeder. Sy verwittig hulle dan van die moeder se laaste vertrek. Daar is ook die “bewind” van resepte en breipatrone en hoe dit van geslag tot geslag oorgedra word.
‘n Gedig soos “llamada” (46) is sentimenteel-stroperig. ‘n Gedig oor ‘n kind hoef dit nie te wees: ons het immers voorbeelde van Paula Meehan, Sylvia Plath, en vele ander wat dit bewys. Gedigte oor die persoonlike ervarings kom nie altyd die mas op nie soos “bloumaanmaand”(50), wat maar net vir die aangesprokene gegee kon gewees het. Dan maak sy egter weer op met “lewe is steeds ‘n klip” (51) waar die persoonlike vertaal word in digterlike tekens. “Kinderspeletjies” (52) hoort nie in ‘n ernstige bundel nie.
Die spel met bekende intertekste, soos onder andere “Aljander, aljander so deur die bos” en “Siembamba” kom nie verby die blote stelling nie.
“terwyl” (56) is ‘n sterk gedig met sy Auden-interteks (“about suffering they were never wrong…”) met die slot waar “betekenis van dinge / betekenis verloor”. “Imago Dei” (62) spreek die religieuse aan. Die ekologie kom aan bod in “karoo-narratief” (71), ‘n knap reeks.
Dit is ‘n bundel met ‘n handvol sterk verse. Teen die uitstekende debute die afgelope ses jaar, is dit beslis nie die beste wat ek nou onlangs gelees het nie. Dit is asof die digter nie die komposisie van die bundel, naamlik die gesprek met die familie en die semiotiek daaromheen, kon volhou nie. Die leser waardeer die fyn uitgewerkte plan, maar die konkretisering daarvan in verse is nie altyd geslaagd nie. Die gedigte het ‘n sewentiger-aanslag: daardie rammelende verse wat sin en samehang mis.
Emosies moet teruggesnoei word. Om in ‘n debuut ‘n gedig soos “saadskiet” (86) op te neem, maak die sterk verse ongedaan:
(…)
Vroegmôre trek ek skramsweg die dun
Buitelyn van ‘n gedig
Uit die traanstreep oor my wang
In die metaforiek van die bundel: dis ‘n bietjie “knit one”,
“purl one”.
[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning
van Fine Music Radio & die resensent.]