Wednesday, January 30, 2013

Marié Heese - Die honger reisiger: Reisverhale met resepte (2010)



Marié Heese. Die honger reisiger: Reisverhale met resepte. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 0 4882 4.

Resensent: Joan Hambidge

Die hele wêreld is deesdae danksy die internet ons speelveld. Boonop reis mense makliker en vinniger na afgeleë wêrelddele en lewer verslag. Kyk maar na die Sunday Times se indringende reisverhale en –verslae op ‘n weeklikse basis. Boonop is die kulinêre arenas ook deesdae meer eksoties. ‘n Mens kan in my stad van ‘n frikkadel tot ‘n falafel bestel, ‘n tjop tot ‘n tjiengtjangtjong. Daar is ‘n restaurant in die stad wat Col’Cacchio heet en elke jaar versoek die Italiaanse konsul dat die naam asseblief verander moet word, omdat dit op Italjaans ‘n vloekwoord is. So ons reis en ons eet. Die eksotika het alledaags geword; die verre naby. Ons ken almal Uys Krige se lieflike “Tram-ode”:

Daar is ’n haltjie, Dwaal,
te midde van die vaal
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Tierra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …
O Aldarín! o name, o versugting!

Beslis ‘n wenresep is ‘n kombinasie van beide belangstellings, te wete reis en kos. Marié Heese se Die honger reisiger is ‘n briljante konsep (dalk moes dit eerder net voor Kersfees verskyn het?) en beide hierdie onderwerpe lê my na aan die hart (en maag). Ek eet elke dag van my lewe uit en ken die verskil tussen medium-gaar en perfek. (Moenie julle vleis so stres nie, sjefs. Braai teen ‘n vinnige temperatuur, haal af laat dit langs die vuur stadig gaar word en sjirts dan weer vinnig.)

Heese kan skryf: die kanaal wat glimglad tussen lowergroen bome kronkel (11) is so ‘n voorbeeld.

Daar is humor, hope daarvan, soos dat un grand faux pas ‘n fokkop is of  ‘n Turk wat meen as jy 888 met ‘n potlood in jou naeltjie teen die muur kan skryf, kan jy “belly dance” (49). Of ‘n rit in ‘n skeerboot wat voel soos ‘n rit in ‘n gesteelde vliegtuig met ‘n dronk jeugmisdadiger aan die stuur (149)! Die beskrywing van aaklige paella in Spanje is ‘n gil (25). Bagels in Washington is so groot soos trekkerwiele (133).

Ook die aanwysings op bladsy 18 laat ‘n mens glimlag wanneer daar oor die Kanaal du Midi gevaar word.

Het ek die resepte probeer? Nee, maar ‘n kundige meen die skrywer weet waarvan sy praat.
Vir my is die lekkerste bydraes in hierdie boek die afdelings oor plekke wat ek nog nie besoek het nie. “Teen die oormag” (Asmara, Eritrea) is so een, ‘n plek wat langs Ethiopië lê. Hier word verby travelogue beweeg, omdat daar gewoon en gewerk is. Die leser kry dus ‘n meer diepgaande blik op die skokkende werklikhede van die politiek van die land.

Die skrywer kan nou gerus ook die moeder, Audrey Blignault laat gaan met wie sy begin in die inleiding. Sy is ‘n skrywer in eie reg, wat nou onlangs ‘n enorme prys ingeoes het vir The double crown. En ja, sy skryf oor die vroulike farao, Hatsjepsoet!

Elke reisiger wat ‘n reisboek aanpak, het ‘n ander rede: vir Heese is dit om medeskepper te wees aan die grootste kunswerke van die mensdom, naas al die sotternye en wreedaardighede wat ons meemaak (28).

Soms is die taalgebruik oud-modies (vet prêt / sloeg neer byvoorbeeld), maar tussen die beskrywing en die resep wat sy mildelik (party is selfs afgebedel), kry haar reis ‘n dimensie by. Party mense kyk agterna na foto’s of skyfies; hierdie reisiger kook ‘n dis wat haar terugneem na daardie land of streek wat sy saam met haar man besoek het. Sy erken selfs dat sy verneuk in ‘n resep (sy verduidelik dat sy eerder skát) en gee raad oor wat ‘n mens kan aanskaf as jy nie saffraan het nie.

Uiteenlopende plekke word besoek en die reisvertelling is ‘n verskoning vir die resep daarna.

Dis ‘n lekker leesboek wat jou ook honger laat voel. Daar is veel te smul aan in hierdie boek: van haggis tot Robert Burns, van hoender met pruimedante tot ’n vaart oor die Bosporus.

Dit is ‘n reisiger wat “onversierd” reis. Daar’s ‘n bed en TV op ‘n trollie en ‘n hoekkas.
Nou ja, gedeelde badkamers is nie vir my.

My idee van “roughing it” is “room service”.

Met elke reisskrywer lees ‘n mens uiteraard ‘n persoonlikheid af. André Pretorius se Iets ver en nuut (Protea) se fokus is weer anders.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]