Tuesday, January 29, 2013

Hans Pienaar - Notas uit die empire (2010)



Hans Pienaar. Notas uit die empire. Alto-Mediam, 2010. ISBN 978 06 620 620 4509 0.

Resensent: Joan Hambidge

Notas uit die empire is Hans Pienaar se tweede digbundel. Hy is veral bekend as ‘n joernalis vir Business Day en die blog “Africa”. Die skrywer het Rapportprys vir Nie-fiksie verower vir sy Die derde oorlog teen Mapoch. In Nuwe stemme 2 (saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager) vind is ‘n handvol verse wat die belangrikste temas in sy digkuns aandui: die wrang blik op die geskiedenis vanuit ‘n joernalistieke perspektief; die gebruik van die parlando; die vermoë om onthoubare reëls te skep soos “die stad slaap soos ‘n Buick onder ‘n bokseil”; die bykans surrealistiese taalgebruik; die gevoel van vervreemding, en dies meer. In Nuwe stemme 2 staan die volgende knap gedig:

Pelgrimsrus

O die dood kom ook
stadig soos die melktrein aan
by elke stasie moet die stoker stook
die trein vir elke melkkan staan (76)

Nuwe stemme is ‘n belangrike debuut-plek vir jong digters en veral Nuwe stemme 4 het my nogal opgewonde gemaak oor die veelheid van talent wat hier aanwesig is. Maar daar was slypskole waar die digters onder die leiding van die samestellers geleer is oor versvorme en procédé. Hans Pienaar het ‘n ónbetwiste digterlike talent, maar vir my gevoel is sy gedigte soms te woordryk en tuimel die gedig dikwels verby die suggestie of die natuurlike slot. 

Die eerste gedeelte in Notas uit die empire heet “Lank leef”, en dis dan vir my die sterkste afdeling. Waar die gedigte teen foto’s geplaas word, soos in die tweede afdeling “Tweeduisend-en-vier”, is dit egter minder oortuigend. (Hier is die verse meer gestroop.) Die beelddig, dit wil sê, die gedig wat inspeel op ‘n bekende foto of skildery het ‘n galery van groot figure in Afrikaans opgelewer met Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie as ‘n kragtoer. Hierop volg daar ‘n reeks reaksies van digters op foto’s van Marilyn Monroe met T.T. Cloete as voorloper. Al die ander gedigte is palinodes of antwoorde op hierdie vers.

Die beelddig skep ‘n broeiende spanning tussen foto en gedig. Die een kan later nie meer onthou word sonder die ander een nie. Maar, die gedig moet steeds in eie reg sterk wees. Indien die foto langsaan pryk, word dit soos ‘n klankversterker. En die foto of skildery moet weer op sy beurt ‘n kunswerk in eie reg wees. Dit bewys Johann Johl se verse ook by uitstek. (Die promosie-pamflet skryf dat die plaas van foto’s en gedigte uniek is. Dit is al reeds gedoen.)

“Statig” (97), ‘n vers wat die sub-titel dra “Suid-Koreaanse parlement, Seoel”, klink so:

Vir ‘n wyle hier, voor die deure
van mag outomaties oopgaan,
kan jou herinneringe ‘n loop
neem oor lang dae toegesneeu,
en mymer oor komplotte. Hoe
hulle neig om te broei en voete
op matte laat aarsel terwyl in
agterplase bome statig vergaan.

Enkele van die gedigte wat inspeel op foto’s is wel knap, soos “Tier”, “Grond”, “Pilare”, “Papiervliegtuig”, “Dialoog” en “Kamele” met die rondeelagtige spel met rymwoorde. Die reisgedig stel die reisiger altyd bekend aan ‘n ander land, maar hierdie soort gedig word altyd ‘n ontdekkingsreis-na-die-self. Onvermydelik word die opposisies tussen hier en daar, toe en nou, kulturele bakens presies dit waarom hierdie soort gedig wentel. Die vraag is of hierdie reisgedigte die eiesoortige aard van ‘n stad opvang?

Die voorblad, deur die digter self, is treffend. Die parkeerterrein in Vrededorp wat ander “empires” oproep. Die titel is uiters ironies: die hawelose se “empire” (‘n wasgoeddraad en vullis)  word teen die agtergrond van die Statue of Liberty en ‘n Hollandse windmeul geplaas. Sowel die Statue of Liberty as die meul is versier met ‘n Heineken-blik wat weer die kwessie van kolonisering oproep. ‘n Mens sien Staten Island in die verbeelding…

Die bundel se sterkste vers is ongetwyfeld “Kraaie in die bome” in reaksie op 9.11 met sy sterk refrein en elegiese aanslag:

New York. New York.
Kraaie in die bome.
Harte treur oor New York.

Die taalspel op bladsy 32 is indrukwekkend en “Dit was toe nie” (37) getuig van vakmanskap.

Die gedig “Tromsolo” (120) uit ‘n reeks is eweneens sterk:

…Ek bly agter, soos ‘n wit jas
by die kroegdeur opgehang, uit gewoonte.
Ek dwaal deur leë strate, eindig waar ek was.

‘n Dief in my eie middernag, op my eie pas.

‘n Bundel dus met ‘n handvol goeie verse. ‘n Sterker redigeerder of keurder sou die bundel gesnoei het sodat net die béstes oorbly. Miskien moet ‘n volgende bundel aan Protea of Tafelberg voorgelê word vir die raadsamer keuringsproses. Die titel evokeer ook die komplekse kanoniseringsproses. Notas uit die kanon en oor die kanon. Dalk ook teen die kanon? Die programgedig is so gelees nie alleen ‘n komplekse siening van die geskiedenis nie, maar ‘n staning in eie reg. Die kolonie praat terug, besef ons.

Bestel van Posbus 291507
Melville, Johannesburg 2092
altomedia@mweb.co.za


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]