Kleinboer. Werfsonde.
Umuzi, 2012,
Resensent: Joan
Hambidge
Eers was daar Werfjoernaal
van FA Venter. Toe kom Alexander Strachan se Die werfbobbejaan en nou het ons Kleinboer se tweede roman, Werfsonde. Kleinboer het met sy debuut, Kontrei, die tonge los gehad en die
Rapport-debuutprys verower. Tereg ook, want hy kán maar, soos hulle sê. Ons het
‘n voorblad van Anton Kannemeyer met ‘n (herkenbare) outeur wat kyk na die
liggaam van ‘n naakte swart vrou.
Kannemeyer se voorblad is al ‘n kode vir die subversie van
die gegewe – nes die geval is met Catherine du Toit se vertalings van
Houellebecq waar ons ‘n blasende bul kry in die vorm van Houellebecq, die
anargis en supermark Baudelaire.
En dis presies wat hierdie vertelling doen. Dit vertel die
naakte waarheid van die lewe van ene Fanie / Kleinboer wat werk as ‘n sub by ‘n
landboutydskrif. En hy vertel die storie van sy lewe. Die leser beleef die
outobiografie van die outeur, afgewissel met fiksionaliserings daaromheen. Hy
vertel vir ons alles in die kleinste besonderhede: hoe hy sy geliefde se
liggaam beleef, intimiteite tussen hulle en veral die verskillende aannames oor
swart en wit in hierdie land. Met eindelose humor en gevathede: soos dat dit
nie ‘n Piet Retief-oomblik is wanneer hy tussen swart mense verkeer nie.
Op bladsy 213 word daar verwys na Jonathan Franzen se The Corrections en hoe die verteller
lukraak die boek op enige plek oopmaak en verder lees. Dit is ook op hierdie
teks van toepassing: jy kan dit op enige plek oopmaak. Dit is soos ‘n joernaal
van ‘n “naked I” wat alles om hom registreer: sy vrou, sy kind, die huidige
Suid-Afrika.
Hy beskryf Johannesburg – wel ‘n swart Johannesburg – en die
roman eindig met ‘n besoek aan die landelike Hopewell. Hier is ook blaffende
honde, maar hy maak oorproppies om die gekef af te weer. Nie met sukses nie.
Dis ‘n vertelling wat ‘n tydsdokument is. Kleinboer se oog
vir die klein besonderheid maak van hierdie boek iets waardevols. Ons beleef
hoe hy op ‘n minibus ry met Lungi en Jomo na Pietermaritzburg, ‘n bus wat eers
vertrek wanneer al 15 sitplekke gevul is.
Dis ekstreme realisme, hierdie joernaal. Die naked I, die
oog wat soos ‘n kamera Zuma op ‘n plakkaat waarneem en sonder oordeel die
politieke werklikhede van die (nuwe) Suid-Afrika registreer. I am a camera het Christopher Isherwood
geskryf. Dis ook van toepassing op Kleinboer.
Hy beskryf homself as ‘n tref-en-trap-man (228) en dis hoe
jy hierdie roman moet benader. Daar is wonderlike beskrywings soos: “Ek het die
skaamheuwel-blues.” En: ”Babelas is ‘n brein met voggebrek; jagsheid is ballas
met vogoorvloed” (227).
Dis nie ‘n boek wat ‘n mens wil aanbeveel vir die
teerhartiges nie. Maar dis ‘n lekker boek!
[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning
van Fine Music Radio & die resensent.]