Fanie Olivier. Apostroof. Human & Rousseau, 2010. ISBN
978 0 7981 5168 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke
ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word.
Ons vind hierdie aanspreekvorm – wat sterk verband hou met personifikasie –
dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!).
Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een,
ensomeer.
Apostroof is ‘n bundel na ‘n lang
publikasiestilte, weliswaar nie skryfstilte nie. Olivier het die afgelope jare
per e-pos vanuit Pole lieflike gedigte vir vriende en kennisse aangestuur. Hy
debuteer in 1971 met Gom uit die sipres
(bekroon met die Reina Prinsen-Geerligs-prys). Om alleen te reis (1973), Paradysrigting
van die wind (1976), Skimmellig
(1978) en verklarings 1967 - 1987
(1988). Olivier se digkuns bevat sowel politieke verset as persoonlik en
intiem-belydende verse.
Sy jongste bundel doen verslag van die kartering van ‘n spesifieke
verlies: die verwerking van die dood van sy geliefde vrou, Rike. Terselfdertyd
bevat dit verse ten tyde van haar lewe. Daar is liefdesgedigte en teer verse
waarin die mooi geliefde waargeneem word deur die spreker. Die voorblad bevat
‘n skild uit die Middeleeue waarmee die aangesprokene se belangstelling in die
Middeleeuse letterkunde geaktiveer word en as ‘n mens mooi kyk, is daar ‘n
apostroof in die hoek - en daarbo koekeloer die dood.
Dit is ‘n besonder aangrypende bundel wat die verlies
navigeer, onder andere deur Breytenbach, Ingrid Jonker en veral Uys Krige! Die
beroemde “Tram-ode” met sy Aldarin word o.a. geaktiveer in die gedig
“Tussenteks” (47). En wanneer ‘n mens weer na hierdie gedig kyk, is dit
opvallend hoe die melancholie en die oproep van name in hierdie bundel van
Olivier weerklank vind. Hy besê die lewe namens die afwesige geliefde: die
opdrag lees immers (vir die sinne wat sy [ge-] maak [het]). Hy gebruik gewone
parenteses en ander kere fonetiese hakies. Is dit ‘n soort spel soos by die
gerekonstrueerde tekste van Sappho om te wys wat het verlore geraak, wat het
behoue gebly? Die geliefde is immers oorlede aan ‘n slopende siekte waarin sy
haar semantiese funksies verloor het. En hierdie skrynende proses beskryf die
digter vir ons. Ons word meegevoer deur die slopingsproses tot met die dood.
Ten slotte beleef ons ‘n goedkoop AVBOB-kissie waarin die as geberg word. Die
digter laat dit te water en hoop dat ‘n Vlaamse seuntjie dit sal uitvis.
Hierdie kissie is “veerlig, loodswaar, ‘n holte vir my voete
later”. Op die agterblad verskyn ‘n lang gedig waarin die Advokaat Olivier met
God in geding tree. Dit is ‘n “vituperation” en op ‘n skitterende manier word
die nydigheid van die regswêreld ontmasker.
Dit het vir hierdie leser gevoel asof Olivier terugkeer na sy
beginverse: verse wat dikwels sterk op die woordspel ingestel is. In ‘n vers
soos “bliksem!” (48) word daar ‘n soort blokkiesraaisel opgebou; in
“krematorium” (45) is alleen dit wat agterbly op papier, uiteindelik ter
sprake.
Op sy beste, so weet ons, reduseer
‘n vers baie dinge, iets of iemand
tot essensie: wat word, was vroeër was.
Daar is verse wat die Poolse landskap skandeer en die
ontreddering van die vreemdeling beskryf en die soeke na die regte woord om ‘n
ervaring te beskryf. Die digter, ‘n samesteller van die Mooiste liefdesverse in Afrikaans, wonder: “hoe sê ‘n mens dat ek
// jou liefhet in ‘n vreemde tong…” (30). Daar is dan verse wat hier en daar in
opposisie plaas soos “van podolany tot in rondebosch - geyk” (31).
Deurgaans bly ‘n mens bewus van die digter se ontginning van
woorde, sy spel met taal – of hy is bewus van sy gebrek aan ‘n woordeskat in ‘n
vreemde landskap of die geliefde se soeke na woorde…
Dit is ‘n aangrypende bundel van ‘n digter wat sy regmatige
plek weer kom opeis het. Dit is oop verse, geskryf uit die hart. Maar júis in
hierdie direktheid lê die krag van Apostroof.
Daar word inderdaad nou alleen gereis.
[Hierdie resensie het vantevore in
Die Volksblad & Versindaba verskyn.]