Wednesday, January 23, 2013

J-M.G. le Clézio - Die Afrikaan (2010)



J-M.G. le Clézio. Die Afrikaan. (Vertaal deur Naòmi Morgan). Sun Press, 2010. ISBN 978 1 920 383 11 4.

Resensent: Joan Hambidge

J-M.G. le Clézio het in 2008 die Nobelprys vir letterkunde verower. L’Africain is vertaal as Die Afrikaan, deur Naòmi Morgan ‘n skerpsinnige kritikus en puik omsetter van Jacques Brel in Afrikaans. Hierdie vertelling het oorspronklik in Frans verskyn en Morgan kry dit reg wat ‘n goeie vertaling kenmerk: dit lees vlot, daar is geen vreemde sintaktiese struikelblokke of stramhede nie. Hier vind jy niks van die spreekwoordelike kus van ‘n ander man se bruid deur haar sluier nie. Daar is ‘n handige glossarium vir die leser. En diegene wat die vertellings wil vergelyk, sou so kon doen. Ek wil eerder die aangrypende verhaal – in Afrikaans – by die leser aanbeveel. (Net twee foutjies: op ‘n stadium moet lees as in ‘n stadium en die is/is-konstruksie, is nie goeie styl nie.)

In die lewe van die werklike skrywer vind ons ‘n gespletenheid: enersyds is die moeder gebore in Nice en andersyds is die vader ‘n boorling uit Mauritius. Hy het ook groot geword in Nigerië wat die outentieke aanslag van die roman verduidelik en vir ‘n tydlank saam met die Embera-Wounaan-stam in Panama gewoon en is getroud met ‘n Marokkaanse vrou.

Vir verdere letterkundige speurders sou dit ondere andere relevant wees om die ooreenkomste tussen hom en Rina Sherman, woonagtig in Parys en skrywend in Afrikaans, te ondersoek. Sherman se werk onder die Himbas verdien eweneens vermelding, net soos haar roman Uitreis.

Die Afrikaan bevat puik kinderwaarnemings van miere wat ‘n kind aanval tot ‘n skerpioen wat aan die brand gesteek word. Die verhaal vertel van die kind se verhouding met die vader, ‘n dokter, wat in sy bestaan as ‘n mediese dokter intense eensaamheid ervaar. Dit het ‘n geweldige impak op die jong kind se lewe wat bewus bly van die vader se pyn.

Die Afrikaan kan tipeer word as ‘n spieëlteks waar die kinderverteller, weliswaar vanuit ‘n volwasse perspektief, sy waarnemings van die vaderfiguur weergee. Dit is asof hy deur die verhaal van sy vader te vertel tot klaarheid of helderheid kom oor sy eie lewe. Hy noem dit dan ook “hierdie nalatenskap van my lewe” (65). Ogoja is soos ‘n dolk wat steek in hom:”soos ‘n etteragtige stof wat tussen die wande van die werklikheid sirkuleer”(65).

Die verteller spreek hom uit teen nostalgiese vervalsing en wil eerder die ambivalensie van herinnering bewaar. Alles is dus ver en tegelyktertyd naby. ‘n Eenvoudige wand, skryf hy wat so fyn soos ‘n spieël is, wat gister en vandag skei (64). Die verteller wil voortdurend terugkeer na die plek van sy jeug wat deur Afrika gevorm is en wat uiteindelik die bron is van al sy gevoelens en besluite.

Die teks sit vol subtiele verwysings wat in die endnote verklaar word, soos
die vader se negatiewe siening van De Gaulle as ‘n verpersoonliking van Westerse onkunde ooor Afrika. Die teks kan as fiksie én fiksionele biografie getipeer word. Dit is dan ‘n vertelling wat kommentaar lewer op identiteit (die vader verloor dikwels sy status, onder andere wanneer hy as Engelsman uit Mauritius gesit word of nooit tuis voel in Engeland, omdat hy nie volbloed-Engelsman is nie). Die vader se frustrasie en woede word dikwels op sy kinders uitgehaal, maar die verteller kom tot helderheid oor die rede vir die vader se optrede. Identiteit versus ontworteling is die ragfyne draad wat deur hierdie teks geweef word. Op bladsy 34 is daar ‘n duidelike voorbeeld van hoe digterlik die teks gekonstrueer is in die herhaling van die wat-konstruksie.
Veral die beskrywing van die liggaamlikheid aan die begin van die teks is werklik ‘n ongelooflike stuk poëtika. Die liggaam versus die gesig is eweneens ‘n spanning in hierdie vertelling wat in ‘n sirkelgang vertel word. Die ontdekking dat die vader eintlik die werklike Afrikaan was ten spyte van die verteller se versugting is die spanning waarom alles wentel. Tog weet die leser dat deur aan die stemlose vader in hierdie teks stem te gee, word die verteller deur die vader ook Afrikaan. 

L’Africain het oorspronklik in 2004 verskyn. Dit is ‘n puik verhaal, aangrypend, poëties in aanslag en vir my een van die heerlikste verrassings in ‘n lang tyd.
Hierdie teks behoort as vertaling bekroon of geloof te word.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]