Thursday, January 31, 2013

Fritz Gaum - Praat verby grense (2010)



Fritz Gaum. Praat verby grense: Uit die e-pos van Laurie Gaum & Frits Gaum. Umuzi, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Pa, maak vir my ‘n vlieër pa!

Umuzi het hierdie boek, Praat verby grense, nou onlangs gepubliseer en die titel aktiveer Derrida se différance. Want met die Gaums is daar altyd geen buite-teks. Maar kom ons fokus op die boek en nie die woord en wederwoord tussen my en dr. Gaum agter die skerms nie.

Dié boek is ingegee deur ‘n traumatiese ervaring toe Gaum jnr. se lewensmaat hom aan aan die kaak gestel het en foto’s (kaalboud in die see en met sigaar in die mond in ‘n toga of kamerjas) na die geelpers versend het. Daarna het die geliefde selfmoord gepleeg en Gaum jnr. se lewe in ‘n hellevaart verander. Hy is geskors uit sy amp, het geappelleer en is terug in sy pos. Amper iets soos taraboemdery, opgeklim en weer gery.

Gaum snr. was indertyd by Die Kerkbode waar hy met bliksemstrale hom teen gays uitgespreek het en die uwe, Johann de Lange en wyle Koos Prinsloo uitgekryt en gemeen het die kerk moet teen ons optree. Ná Gaum jnr. se penarie, het vader tot inkeer gekom, my om verskoning in die pers gevra. Dit het ek aanvaar, maar wel gemeen dat ek nie nodig het om hom in die openbaar te groet nie. My boonop vererg toe hy een aand, hier het ek ‘n getuie, so ewe snood onskuldig, my heel vaderlik en familiêr, kom groet het in Bacini’s bo in Kloofstraat. En hierna selfs opgemerk dat hy meen dat as ‘n mens jammer gevra het, moet jy mos daarna so al die veld is vrolik wees met mekaar? Op Litnet is daar vele debatte hieroor opgeteken, o.a. deur Jaco Barnard-Naudé wat regsfilosofies na die kwessie kyk en wys op verskillende vorme van versoening en vergifnis. En dat dit nooit voorwaardelik kan wees nie.

Dit is die hoek waaruit ek my verweer teen hierdie teks waarin ek ook aangespreek word. (Terloops, sonder toestemming Umuzi, maar dit maak nie saak nie!)  Die boek word aan Henda opgedra en ook aan die kerk.

Die teks is rondom e-posse gekonstrueer, met ander woorde, dit is ‘n moderne belydenisteks wat van die struktuur van die brief of dagboek gebruik maak. Ons vind ‘n tabel voorin die boek wat die leser dan lei na die belangrikste onderwerpe wat aangespreek gaan word.

Die belydenisteks is intiem in aanbod. ‘n Mens dink hier aan Laclos se beroemde Dangerous liaisons of aan Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan.

Die vraag is dus onmiddellik: wat moet uitgelaat word in hierdie korrespondensie of is dit alles alreeds in die openbare domein?

Oor die gewraakte besluit van die kerk oor homoseksualiteit in 1986 erken Gaum snr. dat hy artikels daaroor geskryf het, maar hy het hom egter van die amptelike standpunte gedistansieer, want dit was nie “my probleem” nie.

Dit het wel later, soos ons weet, “sy probleem” geword. En ja, ‘n mens skryf kwetsende artikels en dan staan jy terug. Hier kry ‘n mens ‘n blik op die kerk se manier-van-doen: jy oordeel, jy kwets, en dan speel jy Pontius Pilatus. Totdat dit met jóú gebeur. Alles in hierdie boek is so “après le déluge”, so noudat ons meer uit die kospotte van Egipte eet nie…

 En hoe die werklike gebeure verdraai kan word om in die Gaum-patroontjie in te pas, lees ons op bladsy 30. Ja, Gaum het my kom groet in ‘n restaurant, maar my beswaar was dat hy handtastelik geraak het. En dan skryf hy dat hy vir my die letsel verteenwoordig. Nee, hy verteenwoordig vir my dikvelligheid. Vir iemand wat aanhou opdring. En dan skryf Gaum jnr. dat dalk hou ek nie van trompop konfrontasie? Nee, ek hou daarvan: net nie met julle nie.

Daar word sonder skroom opgemerk dat Gaum jnr. se foto vandag in dieselfde koerant as Willem de Klerk se foto verskyn. Vaderland. So asof dit op ‘n gelyke vlak is.

Daar is ‘n gesprek, natuurlik – hoe dan anders?, oor die Broederbond. Die irrelevansie van hierdie boek draai om al hierdie ou deurgetrapte kwessies. Onder potsierlike hofies soos “Daar staan dinge in die Bybel wat mense seermaak” en opmerkings soos dat lees subjektief is en dat dit afhang van met watter bril jy lees, beklemtoon die fletsheid van hierdie publikasie.

Ons het beslis nie Wentzel van Huyssteen of John de Gruchy hier aan die woord nie.
Waar ‘n mens volledig onder die indruk van Gaum snr. se hubris kom, is by die afdeling “As ek God was” en by Gaum snr. se gebrek aan intellektualisme. “’n Lewegewende God wat lag” (77).

En die uwe en Jaco Barnard-Naudé is onbewus van Gaum snr. se beywering vir gay-regte. Is dit jy daar Frits in die pienk-rok by die Bronx? En boonop vertel Gaum jnr. vir ons in geen onduidelike terme vir wie God ‘n sagte plek het! As ‘n mens dink aan al die komplekse teologie oor die posisie van die mens teenoor God in ‘n postmoderne wêreld, raak hierdie getjommel op die duur erg embarasserend. Maar nou ja. Dis e-posse.

Vir my is dit jammer dat begrippe soos “the blaming game”, “sensibility”, “sidestep” , “grapple”, “challenge” gebruik word. Maar dis hoe mense praat en hierdie tekste is nader aan praat as skryf.

Die boek is ‘n religieuse Wat elke seun moet weet. Dit lees vinnig en vlot en van werklike diepgang is hier nie sprake nie. En daar is ook iets wat lyk na gedigte.

Ja-nee die waarheid het baie kante, staan daar op bladsy 95. Op bladsy 107 is menslikheid verkeerd afgedruk. Is dit ‘n Freudiaans glips of nie?


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]