M.S. Burger. Bloedfamilie.
Human & Rousseau, 2012.
Resensent: Joan
Hambidge
Bloedfamilie is ‘n
kortverhaalbundel van M.S. Burger, ‘n skrywer wat in die negentigerjare as
aktivis vir gay- en lesbiese regte geveg het. Die meeste van die verhale lewer
dan ook kommentaar op genderongelykhede en -regte.
‘n Besoek aan Marokko of ‘n lesbiese kroeg in Londen wys op
hoe lesbiese vroue nog steeds die “ander” is in ons patriargale samelewing. Die
verhouding met die moeder – wat besonder troebel is – kom dan ook by herhaling
in hierdie verhale na vore. Die “bloedfamilie” is nie alleenlik die familiale
verband nie, maar ook die bloedlyn van die verhale. Die verhale speel op mekaar
in en voed as’t ware die vertellings.
In die openingsverhaal (“’n Verraaier in ons midde”) word
die familie-Bybel die rigtingwyser vir hierdie verbintenis. ‘n Besoek aan ‘n
moeder – sonder die geliefde – wys op misverstande en vooroordele (“Wildekus”).
Die egskeiding van die ouers yk die gemoed van die vertellende instansie.
Onsekerheid, pyn, verdriet, wreedheid, melancholie stuur die verhale. Daar word
dikwels na uitskot verwys; daar is plat woorde en op die duur raak dit
steurend, omdat dit gewoon as effekbejag oorkom. Waarom is dit nodig om so kru
te skryf? Teen kruheid in ‘n verhaal sou ‘n mens dit nooit literêr mag hê nie –
ons het immers Houellebecq en Koos Prinsloo hier as voorbeeld of Antjie Krog in
enkele gedigte – maar as dit nie genoegsaam in die verhaal ingebed is nie, lyk
dit na ‘n blote skoktegniek. Of moet ‘n mens dit dalk lees juis as ‘n teken van
verwonding? Abjeksie, soos Julia Kristeva immers al uitgewys het, is immers ‘n
teken van iets anders.
“My ore slaan toe asof ‘n brander oor my breek, asof my
bloed dunner word. Hierdie wondjie gaan ek mooi vertroetel, dit weet ek sommer,
hierdie wondjie gaan ek groen hou” staan dit in “Wildekus” (153). Kinders dra
hul wonde soos medaljes, meen Leonard Cohen. Hierdie teks staan in die teken
daarvan, maar vir my gevoel is die skrywer op haar beste wanneer sy die abjekte
terughou, soos in die slotverhaal “Bloedfamilie” waarin sy die komplekse
verhouding tussen Virginia Woolf en haar suster, Vanessa Bell– met ‘n
voetnoot-verwysing na Dunn se studie: A
very close conspiracy – as ‘n soort “objective correlative” gebruik. Dit is
soos ‘n harde gil, ‘n skreeu: ‘n mens word doof daarvan. Onderstelling werk
beter.
Die slotverhaal ontluister of dekonstrueer in wese die hele
gegewe: en ‘n mens mag nie leser se plesier bederf deur te verklap wat sy hier
doen nie. Die temas van bloedskande, verkragting, molestering, taboe-fantasieë
word behandel. Dis ‘n siniese boek, ontstemmend en onrustig – met
pynlik-aangrypende momente. Hopelik sal die volgende boek minder op die effekte
afgestem wees. Of dalk is dit juis hierdie skrywer se handtekening? Die boek
word as “kompromisloos” en “waagmoedig” bemark, maar selfs hierdie soort
uitdaging moet nog steeds literêr oortuig. Hierdie is haar debuut, hoewel daar
reeds verhale in Pomp, Tydskrif vir letterkunde en op Litnet verskyn het.
[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning
van Fine Music Radio & die resensent.]