Monday, January 21, 2013

J.C. Kannemeyer - J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe (2012)




J.C. Kannemeyer. J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe. Jonathan Ball, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Vir my is daar twee uitmuntende biografieë waarna ek by herhaling terugkeer: Hermione Lee se studie oor Virginia Woolf (1997) en Edmund White se biografie van Jean Genet (1993). Sopas het J.C. Kannemeyer se uitgebreide en deeglike verslag van die enigmatiese J.M. Coetzee verskyn, in sowel Engels as Afrikaans. Die skryfdissipline en talent wat die outeur het om te midde van teenspoed en ellende steeds ‘n skryfdissipline te kon handhaaf, word oortuigend weergegee. Die onthulling van persoonlike leed – die dood van een kind, die siekte van ‘n ander, die troebel lewe van die vader – word nooit transgressief aangebied nie. Vir my gevoel is hierdie ellendes juis dit waarteen die skrywer hom verweer in sy tekste. Die bedrog van die vader (‘n “disgrace”) is waarteen hy hom obsessioneel verset en as jong student hom self onderhou.

Die verset teen die vaderfiguur en gesag is ‘n sterk tema in sy werk. (Klein anekdotes van ander oor gebeure, moet maar aan die leser se oordeel oorgelaat word.) Daar is eweneens ‘n meer gedistansieerde skryfstyl en die biografie mis genadiglik die persoonlike aanvalle wat die biografie oor Etienne Leroux ontsier het.

‘n Goeie biograaf is ‘n buikspreker en Leon Rousseau, die skrywer van die onoortroffe, Die groot verlange, het op ‘n keer verwys na die biograaf as ‘n advokaat wat “sy man” moet verdedig.

Boonop is ‘n biografie des te moeiliker wanneer die “onderwerp” nog lewe en in sy romans, soos onder andere in Boyhood, Youth, Summertime, sy eie lewe fiksionaliseer én verdraai. ‘n Lesing van ‘n Amerikaanse professor aan die UK wat Summertime gelyk gestel het aan Coetzee se lewe het skerp kritiek uit die gehoor ontlok. Daar bestaan vele mites oor Coetzee; dit weet ons ook uit Imraan Coovadia se Transformations. Die afwysende, kil, stugge, vegetariese, fietsryende, krieketspelende, sarkastiese, stil JMC het ook ‘n ander kant: vrygewig, humoristies, speels, liefdevol, rugby-entoesias, ‘n danser, diereregte-aktivis, volledig Afrikaans magtig.

(Dit is ook tersaaklik hoe sy opstand teen die Viëtnam-oorlog tot gevolg gehad het dat hy moes terugkeer na sy vaderland. Sy romans, sou ‘n mens kon argumenteer, moes juis hier te lande geskryf word.) Coetzee is ‘n verkleurmannetjie, wat vir my gevoel tot beide noemers kan behoort. Waarom moet ‘n skrywer net één persona hê? In sy briljante romans rondom die figuur Elizabeth Costello bewys Coetzee juis dat hy ontglippend wil wees. Die sneeuslaper van Marlene van Niekerk gebruik ook sekere van hierdie spelelemente.

Die biografie handhaaf ‘n fyn balans tussen letterkundige analise en ‘n beskrywing van die lewe. Onder andere is die debat oor die besoek van Salman Rushdie – en die openbare verskil met Nadine Gordimer – ‘n belangrike sleutel tot Coetzee se beginselvastheid en ook sy vermoë om agterna ‘n uitspraak of siening te verander. Hierin lê sy grootsheid as kritikus: om uitsprake te nuanseer. Sy kennis van die komparatisme maak van hom ‘n gedugte leser van tekste, nes sy vertalings van Nederlandse digters. Sy vertaling van Die Kremetartekspedisie van Wilma Stockenström is eweneens relevant vir hoe dit weer praat met sy eie skryfwerk. Die blywende indruk wat hierdie meesleurende biografie maak, is dat ons hier ten alle tye ‘n vakman het wat ‘n meester is. Hy gryp nie na maklike politieke vraagstukke nie; wanneer hy wél verdrukking, in al sy vorme, onder die loep neem, is dit ‘n “doubling of the point”. ‘n En/en-aanslag, eerder as of/of. In die analise van Foe wys die biograaf op die komplekse hantering van Robinson Crusoe en die herskrywing daarvan teen die agtergrond van taalopvattings en debatte oor die kolonialisme. Die meester-slaaf-verhouding is ambivalent en ‘n komplekse een.

Ten spyte van oorrompelende pynlike terugslae in sy lewe, kon hy deurgaans homself handhaaf as skrywer.

Die beginjare was moeilik, omdat sy werk “anders” was. Hoe hy nougeset ‘n manuskrip verander en verbeter, het hierdie leser imponeer. Kannemeyer wys tereg op die osmose tussen die teoretikus en romanskrywer en hoe dit sy tekste voed, veral met The Master of Petersburg waar sekere kritici in gebreke gebly het om die inspeling van sy eie lewe op die geskiedenis te verdiskonteer. Dit is opvallend dat die skrywer wat openbare optredes en ontboeseminge vermy tog hier op ‘n gefilterde wyse sy lewenslot aan die leser openbaar.

Die biografie lewer kommentaar op die rol van sensuur (iets wat vir vele jong skrywers onbekend mag wees) en die spanninge en verset wat Coetzee moes trotseer as skeppende persoon onder ‘n rigiede hoof. Die invloed van sy lewensmaat, Dorothy Driver, as eerste leser van sy tekste, word verduidelik. Driver, ‘n uitstaande teoretikus se insette word beskryf soos Coetzee se waardering vir Karel Schoeman en sy werk as wegbereider van Suid-Afrikaanse letterkunde binne ‘n opset wat indertyd meer gefokus was op die “Great Tradition”. Die skrander kind en die komplekse verhouding met die ouers (wat hy tot aan die einde van hul lewens ondersteun het), word behandel. Die verhouding met buitelandse geleerdes, resensies van sy werk en opmerkings oor mede-skrywers, werp verdere lig op die “groves of academe”. “Doubling the point” is immers die belangrikste kode vir die begryp van hierdie uitmuntende skrywer wat die taallandskappe (Afrikaans en Engels, soos In the heart of the country) ontgin én kan aanspraak op ‘n internasionale gesprek soos in Foe waar hy aansluit by die sogenaamde Robinsonade.

Hy is immers ‘n waardige wenner van vele letterkundige pryse en ‘n Nobelpryswenner wat ons as skrywer eer.

Die boek is in hardeband en mooi uitgegee, hoewel die register onvolledig is. Die boek is in Engels beskikbaar in vertaling deur Michiel Heyns en aktiveer die spanning van taal-identiteit. Op die flapteks word aanprysings deur David Attwell, Derek Attridge en Lars Engle afgedruk. 

[Hierdie resensie het voorheen verskyn in Rapport & word afgedruk met vriendelike vergunning die resensent.]